Titel German English Afrikaans Serbian Slovak Czech Help
Hoofstuk 1 Die Maan

Wese en bestemming van die Maan

1-5-1841

[MA 1.1] Wat die maan betref, dit is `n vaste hemelliggaam, meer nog as die aarde; hy is in `n sekere opsig `n kind van die aarde, dit wil sê dat hy uit bestanddele van die aarde gevorm is.

[MA 1.2] Hy is aan die aarde toegevoeg, sodat hy haar uitstromende magnetiese krag kan opvang en dit, na gelang die aarde dit nodig het, weer aan haar kan teruggee: Daarom is sy loop om die aarde ook so buitensporig. Want hy rig hom altyd volgens die groter of kleiner hoeveelheid van die aanwesige magnetisme op die aarde; daarteenoor rig die loop van die maan, as draer van hierdie stof, homself ook, volgens die uiteindelike behoefte van die aarde aan hierdie natuurlike lewenstof - Dit is die vernaamste funksie van die maan.

[MA 1.3] As `n planeet kleiner is as die aarde, het hy geen maan nodig nie. Die funksie van die maan word dan oorgeneem deur hele hoë gebergtes, wat byvoorbeeld by Venus, Mercurius, Mars en nog `n paar baie kleiner planete die geval is; maar die groter planete moet een of soms meer mane hê om die genoemde dienste aan hulle planeet te verleen.

[MA 1.4] Ook op die maan lewe, net soos op die aarde, mense en talryke ander wesens, met net dié onderskeid, dat geen maan aan die voortdurend na die planeet toegewende kant bewoon is nie, maar altyd aan die teenoorgestelde kant, omdat hy aan die kant waarmee hy na die planeet toegekeer is, nie voorsien is van lug, nóg van water, van vuur of van alles wat maar vir die organiese lewe nodig is nie.

[MA 1.5] Jy vra jou af waarom dit so is. Die antwoord lui: Omdat geen maan `n beweging om sy eie as mag hê nie - omdat die aantrekkingskrag van die aarde, of trouens elke planeet wat op enige afstand van sy maan staan, nog te kragtig werk. Sou die maan nou `n rotasie om sy eie as gehad het, - al sou dit hoe langsaam wees - dan sou ten eerste, deur `n soortgelyke rotasie, die aantrekkingskrag van die planeet in dieselfde verhouding versterk word as wat die rotasie van die maan in verhouding is tot die rotasie van die aarde, dit wil sê: Wanneer die maan in sy rotasie die rotasie van die aarde in tyd sou benader, sodat hy hom ongeveer in dieselfde tyd om sy as draai as die planeet, dan sou, deur die daardeur toenemende aantrekkingskrag van die planeet, weldra die een deel na die ander van die maan losgemaak word en op die aarde neerstort. Die maan sou baie weinig gediend wees met `n ewe langsame rotasie soos wat die planeet het, vanweë die gelykmatige verdeling van die lug, die water en dus ook van die vuur, en alles sou dan net so wees soos wat dit nou is op die van die planeet afgewende kant van die maan. Want die water, die lug en die vuur moet op `n hemelliggaam, met `n na verhouding aangepaste snelheid, saam deur die hoog oprysende berge rondgedraai word; anders sou die elemente, wat so noodsaaklik is vir die organiese lewe, hulle ophoop op die afgewende kant van die sentrale liggaam, vanweë die middelpuntvliedende krag en sy eie verplasende gewig.

[MA 1.6] As dit egter die geval sou wees, vra jou dan net af wie op so `n hemelliggaam sou kon lewe? So `n wese sou maar net solank gelewe het, as wat hy homself onder die lug- en waterlaag bevind het; as die planeet homself egter hiervan sou wegdraai, dan sou hy noodsaaklikerwys in die lugledige ruimte moes verstik, as hy nie al voor dit in die water sou verdrink het nie.

[MA 1.7] Kyk, dit sou nou ook by die maan die geval gewees het, as hy `n ewe langsame rotasie as die aarde gehad het! Hy sou, om lug, water en vuur gelykmatig oor sy oppervlakte te verdeel, `n vyfmaal vinniger draaiing om sy as moes gehad het, dit wil sê: Hy sou hom in vier-en-twintig aardure vyfmaal om sy eie as moes gedraai het, wat dan niks anders tot gevolg sou gehad het as die veroorsaking van die volkome vernietiging van die maan reeds na vyf jaar, terwyl die aarde oorbesaai sou gewees het met deeltjies van die maan. Wat die massas, wat op die aarde sou neerstort, teweeg sou bring, hoef Ek julle nie van naderby te verklaar nie, maar sê net, dat niemand dan in die lewe sou gebly het nie.

[MA 1.8] As jy dit `n bietjie verstandig bekyk, sal jy goed begryp waarom die maan geen rotasie het nie en daarom ook steeds dieselfde kant na die aarde keer.

[MA 1.9] Om egter die maan en sy bewoonbaarheid heeltemal te begryp, moet mens weet dat die maan eintlik maar net op die, na die aarde toegekeerde kant, 'maan' is; aan die ander kant is hy geen 'maan' nie, maar `n baie stewige stuk aarde. Wat dus 'maan' is, is nie vas nie, maar baie lossies, byna soos `n ietwat vaste seeskuim; die vaster dele styg soos berge omhoog, maar die sagter dele is nis- en tregtervormig in die rigting van die sentrum van die hemelliggaam ingesonke. In enkele daarvan is atmosferiese lug wat nog nie kan ontwyk nie en dit, as jy deur sterk verkyker kyk, lyk byna soos water. Alle hoogtes, net soos die minder diep tregters, het geen atmosferiese lug nie, maar slegs eter, soos wat dit in die vrye ruimte tussen die son en planete is, Hierdie kant van die maan word dan ook nie deur organiese wesens bewoon nie, maar haar bewoners is van geestelike aard. Hierdie geestelike bewoners was tydens hulle aardse lewe louter wêreldgesinde mense en word nou ter verbetering daarheen verban, sodat hulle hulleself nog op hierdie manier genoeg aan die wêreld kan vergaap. En as hulle na `n lang tyd merk, dat die aangaap van die wêreld geen vrugte oplewer nie en as hulle sal luister na die leraars wat daarheen gestuur is, dan word diegene wat hulle wel wil verbeter, dadelik na `n hoër, gelukkiger trap van vryheid gebring; die minder volgsames kry egter weer `n liggaam op die maanaarde en moet daar `n baie armsalige en kommerryke bestaan lei. In die eerste plek het hulle daar met groot koue en duisternis te kampe, ten tweede met `n ondraaglike hitte; want die nag duur daar byna veertien volle dae en die dag duur ewe lank. Teen die einde van elke nag word dit daar so koud soos by die noordpool op aarde en in die middag en teen die einde van die dag word dit so warm, dat geen lewende wese dit op die oppervlakte kan uithou nie.

[MA 1.10] Die bewoners, net soos alle organiese wesens, woon daar binne-in die aarde. In hierdie onderaardse woning moet hulle die helfte van die dag deurbring en die helfte van die nag; daarom is daar ook geen huise en stede soos op die aarde nie, maar die woninge lê diep in die grond, hier en daar ook in die bergsplete en gate.

[MA 1.11] Daar groei geen vrugdraende bome nie, maar slegs wortelgewasse, soos byvoorbeeld op aarde die aartappel, beet wortels en dergelike. Hierdie gewasse word by die aanbreek van die dag geplant en teen die einde van die dag is dit al ryp. As die nagskemering begin, kom die mense uit hulle gate tevoorskyn en oes hierdie gewasse en bring dit dadelik na hulle onderaardse wonings; in die nag voed hulle hulleself dan hiermee asook die hele daaropvolgende dag.

[MA 1.12] Van die huisdiere moet slegs `n soort skaap genoem word, wat vir die bewoners dieselfde funksie het as die rendier vir die noordelike volke op aarde.

[MA 1.13] Daar is in die riviere, asook in die mere, wat op die maanaarde redelik baie voorkom, nog baie waterdiere en ook enkele soorte klein voëls, wat lyk soos die aardse spreeus, - asook `n groot menigte insekte en ander een-, twee-, drie- en viervoetige aardediertjies; hulle doel en hulle nadere beskrywing sal ons later hoor. Voorlopig sal dit wat nou vertel is, genoeg wees.

[MA 1.14] Maar behoed jou daarteen om veral in die toekoms ooit self `n bewoner van hierdie armsalige hemelliggaam te word. Want hierdie geel glansende lewenskool is `n baie armsalige skoolgebou en dit sou beter wees om veertien maal per dag op aarde te sterwe, as om maar `n dag daar te lewe; want die bewoners het dit daar veel slegter as diegene wat hier in die kerkhowe begrawe lê. Hulle weet nie dat hulle begrawe is nie, maar die bewoners van die maan moet in hulle grafte lewe en word daar dikwels in hulle onderaardse behuising deur instorting of deur skielike oorstromings begrawe.

[MA 1.15] Wat die nog verdere bemerkingswaardige verskynsels van die maanaarde, sowel as van sy bewoners betref, die sal Ek bekend maak by `n volgende geleentheid. Dink nou net na oor wat gesê was en sien veral toe dat jy die lentetyd van jou lewe goed besef en benut, dan sal jy selfs in die maan, as alles daarvan vir jou onthul is, `n baie belangrike teken van die Mensenseun aan die hemel sien! Amen. Dit sê Ek vir julle, nou komende op die wolke van die hemele. Amen, amen, amen.

Hoofstuk 1 Mobiele weergawe Kommentaar