Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 218 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Agricola praat oor die wese van die siel

1. (Die Romein:) 'Kyk, die siel as geestelike substansie, is heeltemal mens, sowel wat betref gedaante asook wat betref alle ledemate en bestanddele van die liggaam! En as dit nie so sou gewees het nie, kon sy ook nie van haar liggaam so volmaak moontlik gebruik gemaak het nie. Die hande van die siel bevind haar in die hande van die liggaam, haar voete in die voete van die liggaam, en so verder alle dele van die siel in die ooreenkomstige deel van die liggaam. Word die liggaam êrens siek, dan is die siel ook in die siek liggaamsdele aanwesig en span haar baie in om dit weer gesond te maak. Slaag sy nie, dan word sy daarin passief en die gevolg daarvan is dat so `n liggaamsdeel heeltemal verlam, bykans gevoelloos en dus onaktief skyn te word. Dit is `n goeie en korrekte leer van alle ou en ook nuwe sielkundiges. Maar nou vra jy jou af hoe die geleerdes agter die geheim gekom het. Die vraag is baie maklik te beantwoord.

2. Allereers kom iemand wat nugter dink met sy verstand daarop af; want as die siel heeltemal die eintlike lewensbeginsel in alle dele van die mens is, dan moet sy ook in alle dele van die liggaam aanwesig wees, omdat die bepaalde deel van die liggaam andersins sekerlik geen lewe sou bevat het nie en op gelyke wyse net so dood sou gewees het as wat die hele liggaam dood is sodra die siel dit verlaat het. Omdat die hele liggaam dus aktief is, moet ook die siel, as oorsaak van die lewensaksie, deur die hele liggaam verspreid wees. En dus is die siel al net volgens die logiese denke van `n suiwer en gesonde mens, ongetwyfeld heeltemal mens in geestelike stof en het haar basis - nota bene - in die hele liggaam.

3. Iemand sou egter daarteen kon inbring: 'Ja, dit klink baie goed, maar waar is die tasbare bewyse daarvoor, wat as enige houbare getuie kan dien vir die volle waarheid van die verstandelike redenering?'

4. O, ook sulke tasbare bewyse het ons deur veelvuldige ervaringe gedurende alle tye, lande en volke! Eerstens geld natuurlik dit, wat `n mens as gesonde en waarheidsliewende mens self opgedoen het, en daarna kan die ervaringe van talle ander mense die eie ervaring ondersteun en die waarheid daarvan bevestig.

5. Die vreemde geskiedenis van Saguntus in Hispania ken julle. Die ewiglewende gees van my vader was op gelyke wyse mens soos wat hy tydens sy lewe was. Dit bewys dat hy as siel ook in die liggaam moes gewees het, naamlik heeltemal `n mens met kop, liggaam, hande en voete.

6. Maar dit is nie die enigste ervaring op die gebied nie. Toe ek `n aantal jare gelede na Egipte toe moes reis, maak ek die volgende baie vreemde gebeurtenis mee: Ek was met die meeste van my metgeselle, wat hier aanwesig is, in Sicilië om vandaar per skip na Egipte te reis. Ons skeep ons vroegoggend in op ons groot, stewige skip, wat reeds talle storms getrotseer het. Ons beveel ons aandagtig en innig binne die beskerming van die gode en ek roep heimlik ook nog die beskerming van die God van die Judeërs in, wat ek uit julle Skrif leer ken het. Toe ons wil afvaar, was die skip met geen moontlikheid vlot te kry nie. Ek laat dadelik alles baie sorgvuldig ondersoek en nêrens was iets te vinde wat die skip ook maar in die minste kon belemmer het om vlot te kom nie. Toe word alles probeer om die skip, wat tog in baie diep water gelê het, van die land te du; maar alles was vergeefse moeite. Ek het met `n aantal van my metgeselle vol woedende gedagtes op die dek gestaan, omhoog en omlaag en links en regs en oor boord na benede in die see gekyk om uiteindelik tog die een of ander rede te ontdek waarom die wegvaar nie slaag nie.

7. Toe ontdek ek skielik `n wit geklede manlike gedaante aan die oewer van die see, wat heen en weer gewandel het met sy oë op die skip gerig en hy het dit nie uit die oog verloor nie. Ek roep `n aantal van my metgeselle na my toe en maak hulle op die gedaante opmerksaam. Hulle dag toe dat dit miskien `n oewer towenaar was, en dat mens hom offers moes gee om die skip los te laat. Ons gaan derhalwe uit die skip uit aan land na die gedaante toe, wat ons met vaste blik ingewag het. By die gewaande towenaar aangekom, vra ek manmoedig aan die gedaante: 'U hou my skip vas met u toormag. Waarom doen u dit? Verlang u van ons `n offer as losgeld vir die skip? Praat, want my reis na Egipte is dringend!'

8. Die gedaante kyk my strak en ernstig aan en sê hardop en goed verstaanbaar: 'Ek is geen towenaar en eis geen offer van jou nie. Maar omdat jy die beskerming van die God van die Judeërs gevra het, was ek hierheen gestuur om jou van ondergang te bewaar. Want as jy vandag afvaar, sal jy in die derde uur van die nag tesame met die skip `n prooi van die see word! Twintig uur van hier oor die water sal `n swaar storm woed. Wee diegene wat sy woede tref! Môre kan jy egter afvaar, en dan sal jy jou vaart geseënd volbring, '

9. Toe vra ek die gees: 'Wie is u dan, hoe heet u?'

10. Toe antwoord die gees: 'Ek was jou oergrootvader gewees, ek was `n eersame patriciër (edelman) en was altyd teenoor almal goed en regverdig en is daarom nou ook salig, ook al is dit nog nie heeltemal volmaak nie. Jy sal nog groot dinge op aarde beleef. As dit egter sover gekom het, dink dan aan my, wat dit nou, met goedkeuring van die enige ware God, aan jou meegedeel het!'

11. Toe verdwyn die gees, en ons bly aan land.

12. Wel dit was `n gees wat deur ons almal gesien is, of die verder lewende siel van `n reeds lank gestorwe en vergane liggaam, wat `n volmaakte mensegestalte gehad het en goedverstaanbare woorde vir my welsyn gepraat het en `n wilskrag getoon het waarteen al ons fisieke krag volkome in die niet verdwyn. Hierdie verskyning is volkome waar en kan deur die meeste van my metgeselle hier bevestig word. - Laat ons egter verder gaan met `n ander een, wat ons in Opper-Egipte meegemaak het!'

Hoofstuk 218 Mobiele weergawe Kommentaar