Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 70 Die Aarde

21. Die oorsaak daarvan is dit: Omdat gees en siel by sulke mense nog nie met mekaar verbonde is nie, het hulle visioene ook geen grond en bestaan nie, omdat in hulle ook geen verband het wat vir elkeen sigbaar en begryplik is nie, terwyl vir iemand wat wedergebore is, ook al is hy dit nog maar ten dele, elke beskrywing van geestelike dinge die korrekte grond en die duidelikste samehang vertoon.

22. Dit is dus ook `n teken van die eintlike wedergeboorte en `n baie belangrike onderskeid met iemand wat slegs `n visioenêr is. Daarom moet mense geen onnosele wondere as gevolg van die wedergeboorte verwag nie, maar slegs baie natuurlike vrugte van `n gesonde gees en daardeur die gesond geworde siel.

23. Die wedergeborene weet, dat mense met die gawe van die Heilige Gees geen goëltoertjies mag uithaal nie, daarom gebruik hy dit maar net - en gewoonlik in die geheim - as dit nodig is.

24. Wie egter die wedergeboorte wil bereik terwille van watter wonder-eienskappe ookal, die kan verseker wees, dat so `n genade hom nie aan hierdie kant ten deel sal val nie; want dit sou letterlik beteken om die allermooiste pêrels voor die varke te werp.

25. Liefde tot My, groot goedheid van die hart, liefde tot alle mense, dit saam is die korrekte tekens van die wedergeboorte. Waar dit ontbreek en waar die deemoed nog nie teen elke aanslag bestand is nie, daar help nóg stralekrans nóg monnikspy, nóg visioene van geeste. Sulke mense is dikwels verder van God se ryk verwyder as baie ander wat erg wêrelds daaruit sien, want, soos al gesê was, God se ryk kom nie met uiterlike praal nie, maar slegs inwendig, in alle stilte en ongemerk in die hart van die mens.

26. Prent dit so diep as wat jy kan in jou gemoed, dan sal jy die ryk van God baie makliker vind as wat jy wel dink. Maar as jy vir jou onder die Godsryk allerlei belaglike dom wondere voorstel en dit verwag - en as dit nie kom nie, dan moet jy dit aan jouself toeskryf, wanneer die ryk van God nie by een of ander van julle kom nie. Die belofte van God se ryk gaan nie met sulke domhede gepaard nie, maar daar waar dit belowe is, daar laat hy hom ook maklik vind. Maar daar is baie mense wat hulle by die soeke na God se ryk gedra soos iemand wat verstrooid is en na sy hoed soek, terwyl hy dit op sy kop het.

27. Slegs die visioene van `n wedergeborene is korrek; alle ander kan eers dan regmatig word, as dit deur `n wedergebore siel toegelig word. Daarop kan jy vas vertrou. Aan alle ander visioene, drome en pogings tot voorspellings moet `n mens geen waarde heg nie, omdat dit afkomstig is van die bose gespuis, wat by talryke geleenthede die menslike vlees bekruip en daardeur die liggelowige siel met allerlei vuilheid besmet.

28. Soos wat elkeen nie sulke dwaashede moet glo nie, moet hy wel heeltemal vertrou op die woord van `n werklik wedergebore mens, omdat hy maar net gee wat hy ontvang het - terwyl die ander slegs gee wat hy dink om self te geskep het.

29. Wie dan indrukwekkend sê: “Ek sê dit en dit is My werk!" glo dit nie en as iemand so spreek, asof hy in die Naam van die Heer spreek, maar dit maar net vanweë sy eie eer en voordeel doen, glo dit ook nie!

30. Maar wie sonder eiebelang en eersug sê: “Die Heer sê dit", glo dit - veral as daar geen ag geslaan word op die aansien des persoon, want by die wedergeborene is slegs die Heer in aansien en alle mense is Sy broeders!

Hoofstuk 70 Mobiele weergawe Kommentaar