Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 71 Die Aarde

Egte en valse profete

22-4-1847

1. Hier sou iemand weer kan vra: Dus, mens kan `n wedergeborene altyd die volste vertroue skenk as hy toekomstige dinge voorspel!? Of moet mens ook sulke voorspelling in ligtelike twyfel trek? Daarop sê Ek: As die wedergeborene sê: “Doen dit", doen dit dan. As hy egter sê: “Dit of dat sal gebeur", en hy het nie daarby gesê ‘indien’ nie, glo hom dan nie; want dan is hy geen egte wedergeborene nie. Want alles wat gebeur en sal gebeur, geskied voorwaardelik, waardeur daar ook, met betrekking tot `n toekomstige gebeurtenis, nêrens `n vaste onveranderlike voorspelling gedoen kan word nie; sou naamlik iets, wat daar gaan gebeur, met sekerheid voorspel word, dan sou die wêreld in die diepste oordeel wees, en alle vryheid sou verlore wees. Dit weet `n egte wedergeborene baie goed en hy sou daarom teen sy suiwerste insig profeteer, dus kennelik lieg, as hy `n bepaalde gebeurtenis met stelligheid sou voorspel.

2. Ekself was tog immers die belangrikste prefek in die wêreld: Wie kan My egter verwyt, as Ek, behalwe oor My opstanding, iets heeltemal presies voorspel het? Ek het wel gesê dat Ek sou sterwe en weer op die derde dag sou opstaan; maar tyd en uur van sterwe en van opstanding is aan niemand vooruit voorspel nie.

3. Ek het ook My wederkoms voorspel, maar - let goed daarop - Ek het daarby gesê: “Die tyd en uur is aan niemand bekend nie, behalwe aan My en ook diegene aan wie Ek dit wil openbaar " Ek het dit al wel geopenbaar, maar het geen tyd en uur bekend gemaak nie, maar slegs die tekens, waaraan die mense My wederkoms sal kan herken.

4. So het alle profete ook voorspel; maar alles wat hulle voorspel het, was aan voorwaardes gebonde, sodat niemand deur so `n voorspelling geoordeel sou word nie, maar die vryheid sou hê om te doen wat aangeraai word, om die dreigende oordeel te ontgaan, of dit te laat om daarna geoordeel te word.

5. Jeremia het jarelank geprofeteer en het dan self bitter klaend uitgekyk na die vervulling van die profesie, want wat hy geprofeteer het wat môre sou gebeur, het eers na jare gebeur. Ja, wel 23 jaar moes hy wag, voordat sy profesie met betrekking tot die 70-jarige Babiloniese ballingskap van die Judese volk geheel in vervulling gegaan het.

6. Jona het tevergeefs gewag op die ondergang van Nineve, totdat hy My ten slotte baie vererg verwyt het vanweë My goedheid. Die oorsaak hiervan lê egter net, soos alreeds gesê was, in die gedrag van die mense. Want as hulle met `n oordeel bedreig word en hulle verander, wel nie almal nie, maar tog enkeles, dan word die oordeel opgehef.

7. As daar maar tien regverdiges onder honderdduisend mense is, dan sal Ek vanweë die tien regverdiges ook die honderdduisend die oordeel bespaar. En as onder `n miljoen mense honderd regverdiges is, dan wil Ek terwille van hulle die oordeel vir `n hele miljoen bespaar.

8. Wanneer die aantal regverdiges groter is, is dit verseker dat die oordeel opgehef sal word en in plaas van `n algemene oordeel sal maar net `n spesiale oordeel die hardnekkigstes tref. As daar egter minder regverdiges is, dan word, na enkele vermanings wat nog sal volg, die aangekondigde oordeel nie teengehou nie.

9. Volgens hierdie duidelike uiteensetting kan en mag dan ook enkel en alleen net `n wedergeborene toekomstige gebeurtenisse voorspel. As die voorsegging nie is soos hier beskrywe is nie, dan is dit vals en was die profeet nóg `n wedergeborene, nóg `n geroepene, maar doen hy dit eiemagtig, hy sal ook sy loon daarvoor kry. En as hy eens vir My sal sê - en daar is op die oomblik baie van die soort wat sê - “Heer, dit het Ek in U Naam en alles tot U vermeerderde eer gedoen!", dan sal Ek hom antwoord: Weg met jou, want Ek het jou nooit geken nie", dit wil sê as profeet en as iemand wat Ek geroep het om in My Naam te voorspel; want `n profeet wat vanweë geld profeteer, is gelyk aan iemand wat God vanweë die geld dien en Hom vanweë die geld aanbid, hulle het hulle loon reeds ontvang. Daarom het Ek verder niks met hulle te doen nie; want hulle was altyd `n valse profete, oëdienaars en dienare van die Mammon en Beëlsebub.

10. Julle sien egter dat dit duidelik hieruit blyk, dat elkeen homself wel goed in ag moet neem vir profeteer, die wedergeborene en die geroepene sowel as die nie-wedergeborene en die nie-geroepene, want Ek laat niemand tot wedergeboorte kom terwille van profesieë nie, maar slegs terwille van die ewige lewe.

Hoofstuk 71 Mobiele weergawe Kommentaar