Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 72 Die Aarde

Vergewing van sondes en beeldeverering

24-4-1847

1. Sommige van die sogenaamde filosowe sien My ook nie vir meer as `n filosoof aan nie. Hulle beweer dat elke mens volgens Christelike interpretasie die reg sou hê om sondes te vergewe, omdat Ek, as die stigter van die leer, ook sonde vergewe het - en nog wel aan sulke mense wat My tog seker nooit beledig het nie.

2. Ek sê vir die filosowe daaroor ongeveer dieselfde as wat Ek vir die Jode gesê het wat die egbreekster na My toe gebring het.

3. “Wie van u sonder sonde is, die mag dit wel doen en sy handeling sal in die hemel goedgekeur word."

4. Ek kon wel as mens elkeen se sonde vergewe, omdat Ek heeltemal sonder sonde was; diegene wat egter nie sonder sonde is en al sou hy ook geen sonde begaan het nie, tog altyd die vleeslike verwekkingssonde erflik in hom het, kan dit nie doen nie.

5. Want om sonder sonde te wees, beteken om jou in die hoogste graad van deemoed en liefde te bevind. Die wet van God moet die eie natuur van so `n mens wees. Sy vlees moet hy van kinds af aan in al sy begeertes tot die diepste graad verloën het, sodat God se krag volkome in hom kan woon, so `n mens sou dan ook wel vir die een of ander kan sê: “Jou sondes is jou vergewe!" en dit sal hom of haar vergewe word; maar dan vergewe nie die mens die sonde nie, maar die goddelike krag, vir wie dit alleen moontlik is wat harte van diegene, wat teenoor mekaar gesondig het en vyande geword het, te versoen en alles te vereffen, dit wil sê, die harte met die goddelike vuur te deurgloei en te deurlig en daardeur alle toorn, hoogmoed en afguns te verstik. Dat slegs God se krag en geen menslike krag dit kan vermag, is vanselfsprekend, daarom kan `n mens maar net tot God sê:

6. “Heer, vergewe my my sondes wat ek teenoor baie broeders begaan het, welke broeders ek nou nie meer om vergewing kan vra vir die aan hulle begane sondes nie. U krag is vir ewig voorbehou Heer, om dit in werklikheid te bewerkstellig, wat ek self graag sou wil volvoer as ek dit maar kon!"

7. Kyk, op hierdie manier kan slegs die krag van God die sondes wegneem, wat die mens wedersyds nooit kan vergewe nie, hetsy vanweë hulle ver van mekaar verwyderde woonplekke, waardeur mense, wat mekaar eens beledig het op hierdie wêreld, beswaarlik weer saam kan kom - behalwe langs die weg van dooie briewe - oftewel as een van die twee gesterwe het en dus die dood van die liggaam `n ondeurdringbare wand tussen hulle opgetrek het. In sulke gevalle kan net God die sonde in die eintlike sin vergewe, hoewel daarnaas `n sogenaamde onregverdige rentmeester sulke soort sondaars in My naam van diens kan wees. Wat `n slegte of onregverdige rentmeester is, weet julle al. Hy het wel geen reg om die skuld kwyt te skeld nie, omdat hyself `n groot skuld het, maar omdat hy `n werk van barmhartigheid beoefen, reik hy deur hierdie uitoefening `n sluk vars water aan, wat hom vergeld sal word.

8. As `n mens sy foute en gebreke aan `n sogenaamde sielsvriend onder vier oë voorlê om van hom troos te kry en `n onmiddellike versekering, dat die sondes hom kwytgeskeld word as hy hom tot My wend met die ernstige voorneme om sulke sondes nie meer te begaan nie en die begane so moontlik aan sy broeder weer goed te maak deur `n opregte berou en so moontlik deur `n liefdevolle genoegdoening vir die aangedane belediging, dan wil Ek teen sodanige gebruik nie veel sê nie.

9. So `n biegvader sal vir My altyd baie dierbaar en baie waardevol wees. Daarvoor het mens geen geestelike nodig nie. Omdat `n geestelike egter die uitreiker van die Avondmaal meen te wees, kan hy natuurlik ook wel die werk van die onregverdige rentmeester op hom neem op die bo beskrywe manier, ewenwel sonder dat hy dit afkeur dat dieselfde amp ook deur `n ander broeder uitgeoefen word en vooropgestel dat dit op die bo beskrywe manier plaasvind. Maar as so `n onregverdige rentmeester-biegvader meen dat uitsluitlik hy die mag en die krag het om sondes kwyt te skeld, of om selfs `n sondaar, wat hom in sy vertroue geneem het, die kwytskelding te weerhou, om hom te veroordeel en om in die sogenaamde biegstoel hom as “plaasvervanger van God” te laat noem, die is `n booswig en `n siel- en geesdoder, omdat hy hom eiemagtig voor die hemelpoort opstel, om self nie na binne te gaan nie, maar ook niemand anders na binne toe te laat nie.

Hoofstuk 72 Mobiele weergawe Kommentaar