Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 76 Die Aarde

Die Tibetane

1 Mei 1847

1. Heeltemal in die middel van Asië, in die hoë Tibet, woon daar nog `n volk, wat die oeroue patriargale grondwet het. Onder al die ou gelowe van die sogenaamde Perse (Parse) en Meders (Gebern) het die geloof van hierdie volk nog die meeste onvertroebel behoue gebly.

2. Hulle het nog die eintlike Sanskrit waarin daar volgens Zenda vesta gehandel word; want die Sanskrit is die heilige skrif van die oertyd, en die geheimenisse wat in daardie geskrifte behoue gebly het, by name Zenda vesta, in julle taal: “die heilige visioene”, is historiese oorlewerings van die veelvoudige goddelik wonderbaarlike lydings van die mensegeslagte van die oertyd.

3. Dit is derhalwe verkeerd indien hier en daar sommige die Sanskrit en die Zenda vesta as so te sê twee boeke aanneem; die hele ding is net een boek wat ingedeel is in die boek van die “Oorloë van Jehova” en in die “Boek van die profete”.

4. Maar aangesien juis die profete deur hulle heilige gesigte die dade van God beskryf, is hierdie skynbaar twee boeke in werklikheid net een boek, wat by bogenoemde bewoners van die hoë Tibet nog taamlik onvervals behoue gebly het, en ongeveer dieselfde inhoud bevat wat Ek vir julle in die sogenaamde hoofwerk (Die Huishouding van God, Boek 1) uit die oertyd meegedeel het; dit is net dat daar (in die Sanskrit) alles in die oertaal in geheime beelde gehul is, wat in die moderne tyd baie moeilik of glad nie ontsyfer kan word nie.* *(Die bestaan van hierdie oeroue boek, waarvan daar ook in die Bybel melding gemaak word, is reeds in die vorige eeu kortliks deur Swedenborg aangehaal wat aan hom gegee is deur geeste wat vir hom die boodskap hieroor laat toekom het. Ongeveer veertig jaar later is dit deur `n sendeling uit Tibet bevestig. `n Toekomstige ontsyfering van die oeroue Sanskrit-taal en beelde deur moeisame geleerde Hiëroglifies sal vandag nou nie meer nodig wees nie, aangesien die Heer in Sy genadevolste liefde en wysheid Self sedert die jaar 1840, onder andere ook die oerskepping en die oergeskiedenis van die mensdom tot na die sondvloed, opnuut in bewonderingswaardige duidelikheid en geestelike begrip in die Duitse taal aan ons oorgedra het! - Johannes Busch)

5. By sommige van die Patriarge van hierdie volk het nog iets van die ou wysheid oorgebly, waardeur hierdie ou skrif deur middel van ooreenkomstige beelde vir die menslike verstand nadergebring kan word, maar van `n totaal deeglike verduideliking kan daar geen sprake wees nie; want waar sodanige geheimenisse nie vanuit My lig verduidelik kan word nie, bly hulle altyd in `n sekere skemerlig, waar `n mens maklik `n ou halfverweerde boomstomp vir `n beer kan aansien.

6. `n Mens word dan vol vrees en een geheimenis diepte maak plek vir `n ander een, maar wanneer die son opkom, dan verdwyn al die met vrees en angs belaaide geheimenisse, en die misterieuse beer verander heel vanself in `n halfverweerde boomstomp.

7. Net so is dit met hierdie oeroue misterieuse beeldgeskrifte; die leser glo dat hy dieptes oor dieptes en wysheid bo wysheid daarin moet ontdek. Elke hakie lyk asof dit `n son moet onthul; maar as iemand in My lig tree, dan verdwyn al hierdie geheimenisse, en hy sal niks anders as net `n getroue vertelling van daardie wonderbaarlike feite vind, wat Ek by die mens, terwille van hul voleindiging, moes uitvoer.

8. Maar sodanige verduideliking sal julle nie by ons HoogTibet-inwoners vind nie, maar des te meer `n ongelooflike doenigheid met geheimenisse; want hierdie volk is so vol misterie, dat hulle in hierdie opsig waarskynlik die eerste plek op die hele aardoppervlakte sal beklee.

9. Daar bestaan baie wat feitlik met die sterre praat, die taal van diere verstaan, ook die van bome en grasse, en ook vas glo dat hulle selfs met rotse kan kommunikeer.

10. Sommige van hulle dink dat hulle hulself heeltemal onsterflik kan maak; ander maak hulleself weer onsigbaar, en die meeste van hulle is goed vertroud met geeste en lewe voortdurend in hul geselskap.

11. By dit alles glo hulle nogtans vas aan een God, maar vir wie hulle sodanig oneindige respek besit, dat hulle dit nooit sal waag om Sy Naam uit te spreek nie.

12. Net die alleroudste Patriarg is toegelaat om die Naam van God eenmaal per jaar uit te spreek, maar net op `n plek wat andersins vir niemand toeganklik is nie; en op dié dag wanneer die naam uitgespreek word, moet die hele volk wat aan hierdie leer behoort, vanaf die opgang van die son tot sononder op hulle aangesigte lê en mag nóg spys, nóg enige vloeistof inneem nie.

13. Eerbiedigheid vir God die Heer is natuurlik reg, maar die riglyn: “Enige iets wat ‘te’ veel is, is skadelik”, is ook hier van toepassing. Want eerbiedigheid wat so ekstreem oordryf word, vernietig die liefde; sy alleen bly egter vir ewig die grondslag van alle lewe.

14. Elke vrees, wanneer dit tot op die hoogste kulminasiepunt gedryf word, is dodelik en vernietig mettertyd alles wat goed is; slegs die liefde vermeerder die lewe tot dieselfde graad as wat sy vermeerder word.

15. As gevolg van hierdie allerdiepste eerbiedigheid vir die Naam van God, is by hierdie volk ook `n groot aantal hoogs verspotte en belaglike boetes deel van hulle kultuur, wat ook by die Brahmane aangetref kan word, omdat die Brahmane so te sê afstammelinge van hierdie volk en geloof is; maar die volste aanwending is nog altyd by ons HoogTibetaners tuis.

16. Dikwels sal jy boetedoeners aantref wat vir twintig jaar op een en dieselfde plek staan. Ook hangende boetedoeners word aangetref wat vir hulle iewers `n haak deur die vel laat steek en hulle dan, met behulp van `n tou, aan `n boom laat ophang. Daar sal hulle vir solank hang totdat, óf die tou afgevrot het, óf die vel oor die haak. Want net baie weiniges van hulle kan tydens hierdie boete-operasie sterf, omdat hulle wonde eerstens baie sorgvuldig deur hulle familielede met die beste genesende olies versorg word en tweedens word hulle drie maal per dag met die beste kos versorg. Dan bestaan daar ook boetedoeners wat hulle met swaar kettings laat toedraai en dan vir tien jaar lank oor slote, heuwels en klipperige oppervlaktes rondrol, en dikwels `n afstand van 200 myl aflê, natuurlik nie in `n reguit lyn nie.

17. Daar bestaan `n groot aantal soortgelyke boetewerke, wat niks anders is as die gevolg van hulle oordrewe eerbiedigheid vir die Naam van God nie.

18. Daardie tot nou toe nog byna enigste Teokrate verrig in die geesteswêreld ook nie juis `n gedenkwaardige rol nie; want ook hulle moet eers Christus aanneem, wat `n taamlik moeilike stuk werk is, wat juis aan hulle oneindig hoë voorstelling van God toegeskryf kan word.

19. Dit maak dat dit vir hulle heeltemal onbegryplik is, hoe God so laag kon daal om `n mens te word en nog meer onbegryplik hoe Hy Hom deur die mense kon laat kruisig het.

20. Maar as Christus hier by julle, nie eers deur `n regte Christen verstaan word nie, hoeveel minder deur hierdie mense, wat van alle volkere op aarde, die mees ongelooflik misterieuse-verhewe voorstelling van God het. Daarom kan `n mens ook sê: Vir die mens sou dit nie moontlik gewees het nie, maar by God is alle dinge moontlik.

Groot gasvryheid van die Tibetane

21. Maar andersins het hierdie volk uiters prysenswaardige eienskappe tenoor vreemdelinge en armes. Daar bestaan nog die oeroue volmaakte gasvryheid; wie daarheen gaan, word vir solank ten beste versorg, as wat hy daar wil bly.

22. Elke versoek word met bereidwilligheid aan hom toegestaan, solank dit net nie te teenstrydig met hulle geloofswette is nie. Maar as enige versoek net op `n matige manier in teenstryd met hulle geloofswette staan, dan sal dit nogtans uit agting vir die vreemdeling uitgevoer word; maar die persoon wat hom vir die vreemdeling offer, deurdat hy die wet oortree, sal dan die voorgeskrewe boete ter reiniging, vrywillig doen.

23. Armes word as `n soort heiligdom beskou en `n mens kan sê: Goed vir hom wat daar arm gebore word; want met hom gaan dit beter as alle nog so welaf mense van daardie volk. Maar so goed dit ook is as `n mens vir armes sorg, net so nadelig is die uitwerking van `n te oordrewe barmhartigheid tenoor armes; want binnekort probeer elkeen wat te lui is om te werk, om so arm as moontlik te word, omdat hy goed weet dat hy deur die ander op hul hande gedra sal word.

24. Daar bestaan wel by daardie volk `n wet waarvolgens iemand as arm geklassifiseer word. Armes is by daardie volk net verlamdes, kreupeles, blindes, dowes en ook verminkte en arbeidsongeskikte boetedoeners, en bejaardes van 70 jaar en ouer. Hierdie armes word met die grootste agting en voorkeur behandel; maar juis hierdie voorkeurbehandeling laat dit gebeur dat arbeidsku mense hulleself vermink, sodat hulle in die klas van die armes opgeneem kan word.

25. Hier kan dus van die: “In medio beati” nie veel gevind word nie. Dit is soos Ek reeds gesê het, baie goed om aan die armes goed te doen, dit is goed om die dorstige iets gee om te drink, die hongeres te versadig, die naaktes te beklee, die gevangenes vry te laat; maar om armes feitlik op `n troon te plaas, moet nie gebeur nie, want armoede moet altyd `n beproewing vir die gees bly, en die armes moet eerder by My, as by mense hulp soek en vind.

26. Nadat ons daardie volk leer ken het, en by hulle nie veel meer geleer kan word nie, sal ons vervolgens tot `n ander nasie oorgaan.

Hoofstuk 76 Mobiele weergawe Kommentaar