Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 22 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 1

Hoofstuk 22

1. Sê Nikodemus: “Tot op een ding is nou alles vir my duidelik; maar die een ding kort nog altyd, en daardie een ding is juis die buitengewone Menseseun Self, waarsonder natuurlik al Jou mees wyse gesprek met al die heerlike uiteensettings in ‘n bodemlose niks verval! Watter nut het vir my die geloof of die beste en mees vaste wil, om aan die Menseseun te glo, indien die Menseseun Self nie daar is nie? Uit die lug of uit ‘n suiwer idee kan ‘n mens vir jou geen Menseseun skep nie. Sê dus vir my, waar ek daardie ewige Seun van God kan aantref, en wees verseker, dat ek vir Hom met die volste geloof tegemoet sal kom!”

2. Sê Ek: “As Ek dit nie in jou sou gesien het nie, dan sou jy nou nie van My sodanige lering verkry het nie! Maar jy het in die nag en nie in die dag na My toe gekom nie, alhoewel jy reeds baie van My dade gehoor en gesien het! Maar omdat jy in die tyd van die natuurlike nag, sowel ook in die ooreenkomstige nag van jou siel na My toe gekom het, is dit ook begryplik, dat jy oor die Menseseun nog geen duidelikheid het nie!

3. Ek sê vir jou: Indien iemand die Menseseun in die tyd van die nag kom soek, aangesien hy gedurende die dag bang is om so iets te doen, omdat hy nie deur hulle ‘n slegte naam wil kry nie, die sal dit, wat hy soek, nie vind nie. Want dit sal jy as ‘n wyse man van die Jode wel weet, dat die nag, ongeag watter een dit ook mag wees, nie geskik is om iets te soek en te vind nie. - Wie dus die Menseseun soek, die moet vir hom in die dag en nie in die nag soek nie; dan sal Hy Hom ook laat vind.

4. Ek sê dit vir jou: Gaan na Johannes, wat nou tog ter wille van die water naby Enon by Salim doop, die sal dit vir jou sê, of die ingebore Seun van God reeds daar is al dan nie! Daar sal jy Hom leerken!”

5. Sê Nikodemus: “Ag, ag, liewe Meester, dit sal maar moeilik gaan! Want ek het daagliks sake oor hals en kop en kan nie maklik daarvan af wegkom nie! Dink net, in die stad en die naaste omgewing van die stad lewe, die vreemdelinge inkluis, oor die agthonderdduisend mense, vir wie ek as die opperste baie en nogmaals baie moet sorg; daarbenewens wag daar nog daagliks sake in die Tempel op my, wat ek nooit op sy kan skuif nie. Indien ek dus nie hier in Jerusalem aan die genade kan deel hê nie, dan sal ek dit ongelukkig moet prysgee! Want sien, ek benodig vir daardie onderneming ten minste drie volle dae, en dit sou vir my besigheid soveel as vir iemand anders drie jaar beteken.

6. Jy moet dus vir my verskoon, as ek nie vir Jou raad kan volg nie. Maar elke keer wanneer Jy met Jou dissipels na Jerusalem toe kom, dan kom na my toe, en ek sal vir julle ‘n goeie herberg gee! Aan my sal Jy saam met almal wat by Jou is, altyd ‘n opregte vriend en weldoener hê. My huis is groot genoeg om aan tienduisend mense herberg te verleen, en staan langs die Davidplein, net binnekant die Salomon-hek, wat ook die ‘Goue Hek’ genoem word; net wanneer Jy altyd wil kom, dan sal dit vir Jou ten volle beskikbaar staan om te hiet en te gebied! Wat ook net altyd binne my magte staan, sal altyd gereed wees, om vir Jou te dien! So wat Jy ook net altyd nodig het, sê net, en ek sal dit vir Jou gee!

7. Want sien, in my het ‘n groot verandering plaasgevind! Ek is lief vir Jou, liewe Meester, meer as alles, wat ooit vir my duur was, en daardie liefde sê dit vir my so te sê: Jyself is juis Hy, waarom Jy vir my vantevore aan Johannes by Enon verwys het!? Dit mag dalk ook nie so wees soos ek dit in my voel nie; maar dit maak nie saak nie, ek het Jou nou eenmaal uit my hele hart lief, aangesien ek in Jou ‘n groot Meester van die eg goddelike wysheid erken. Al het Jou dade, wat voor Jou waarskynlik nog niemand verrig het, vir my met die diepste verwondering vervul, het Jou groot wysheid vir my in my hart nog meer vir Jou, liewe Meester, gevange geneem! Ek is lief vir Jou! Sê dit tog vir my, praat my hart ‘n ware getuienis oor Jou?!”

8. Sê Ek: “Wees nog vir ‘n kort rukkie geduldig, en alles sal vir jou duidelik word! Binnekort sal Ek weer na jou toe kom en sal jou gas wees; dan sal jy alles ervaar!

9. Maar volg die trek van jou hart, dit sal vir jou in ‘n oomblik meer sê as al die vyf boeke van Moses en al die profete! Want sien, niks in die mens, behalwe die liefde, is waar! Hou dus by haar en jy sal in die dag wandel! - Maar nou van iets anders!

10. Ek sal vir My nou na die Joodse land begewe en aldaar die Ryk van God verkondig. Maar jy is oor daardie land geplaas. Nie ter wille van My nie, maar ter wille van My dissipels moet jy vir My ‘n veiligheidsbewys gee, soos dit volgens die wet van die Romeine onder die Jode die algemene gebruik is, sodat hulle by die tollenaars en doeanekantore geen probleme sal ondervind nie! Die kinders is wel vrygestel, maar hulle moet as sulks bekragtig wees. - Dit sou vir My maklik wees, om orals met legioene vrylik en sonder probleme deur te kom, maar Ek wil niemand kwaad maak nie en hou dus by die wet van die Romeine. Wees dus so goed en gee vir My sodanige veiligheidsbewys.”

11. Sê Nikodemus: “Liewe Meester, Jy sal dit onmiddelik kry! Ekself sal dit vir Jou uitskryf en vir Jou binne ‘n uur oorhandig; want dit is van hier nie baie ver tot by my huis nie.”

12. Nikodemus haas hom nou huiswaarts en bring reeds ‘n halfuur later vir My die verlangde veiligheidsbewys. Nadat ons die getuienis op ‘n stuk perkament in ons hande gehad het, het Ek vir die opregte Nikodemus in sy hart geseën. Hy het met trane in sy oë afskeid geneem en het vir My nogmaals gesmeek, om tydens My wederkoms in Jerusalem van sy huis gebruik te maak, wat Ek hom dan ook belowe het. Maar Ek het vir hom aanbeveel om die Tempel skoon te hou, wat hy dan ook vir My belowe het. En so het ons dan in die oggend van mekaar afskeid geneem.

Hoofstuk 22 Mobiele weergawe Kommentaar