Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 55 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 1

Hoofstuk 55

1. Maar ons begin nou om ons reis voort te sit en kom na ‘n uur in skoon, skaduvolle laan, wat aan ‘n ryk handelaar van Sichar behoort het. In daardie laan is allerlei versierings aangebring, soos klein tuintjies, spruitjies, poele water met allerlei visse en voëls; en aan die einde van die uitgestrekte laan was daar ‘n ou, maar aansienlike groot kasteel met sterk ringmure. Hierdie kasteel was deur Esau gebou, en hy het self daar gewoon, toe Jakob in die vreemde was. In die storms van die tye het die kasteel natuurlik baie swaar gekry; maar hierdie handelaar het groot somme geld spandeer en het dit weer as bewoonbaar herstel, en hy het met sy aanhang ook dikwels daar gewoon en was ook op hierdie stadium daar woonagtig. Hy was ‘n baie welaf mens en het nog baie ander besittings gehad, maar hy was met hierdie eiendom baie ingenome en het nie daarvan gehou, as te veel mense sy groot laan betree het nie; want hy het baie geld op die instandhouding daarvan gespandeer.

2. Toe hy nou uit sy kasteel gesien het, dat ‘n groot skare van die volk deur sy laan na die mure van die kasteel beweeg het, het hy vinnig sy baie dienaars en knegte uitgestuur, dat hulle vir ons uit die laan moet verwyder, en het ook vir ons laat vra, wat ons daar wou kom doen.

3. Maar Ek het vir die knegte gesê: “Gaan na julle heer en sê vir hom: Sy en julle Heer laat vir hom weet, dat Hy met almal, wat by hom is, by hom sal kom besoek aflê en middag hou!”

4. Toe keer die knegte en dienaars onmiddelik weer om en dra die boodskap aan hulle heer oor. Maar hy vra vir hulle, of hulle nie sou weet, wie Ek, wat dit van hom verlang, sou wees nie. Maar die knegte en dienaars antwoord en sê: “Ons het dit reeds vir jou gesê, soos wat hy met ons gepraat het, dat hy jou en ons heer is; wat vra jy weereens vir ons?! Sewe koninklik versierde dogters begelei vir hom, en agter hom is daar ‘n ontelbaar groot skare! Ten einde is hy dalk ‘n vors uit Rome, en dit sal derhalwe baie raadsaam wees, om vir hom tegemoet te gaan en vir hom by die groot ingangshek met alle eer te ontvang!”

5. Toe die handelaar dit verneem, sê hy: “Bring dus onmiddelik my duurste feesklere en die hele huis moet feestelik versier word! Want sodanige vors moet met alle glans ontvang word!”

6. Nou hardloop alles in die hele kasteel deurmekaar, die kokke hardloop na die voorraadkamers en bring onmiddelik massas van allerlei kos na die kombuis, en die tuiniers hardloop na die groot tuine, om allerlei smaaklike vrugte te gaan haal.

7. Na ‘n rukkie kom die kasteel se heer, gevolg deur honderd van sy voorste dienaars in glansende klere uit, het diep voor My gebuig, driemaal tot byna op die aarde en het vir My, met almal wat vir My gevolg het, welkom geheet en het vir die allerhoogste genade wat aan hom betoon is, gedank; want hy was in alle erns van mening, dat Ek ‘n vors uit Rome sou wees.

8. Maar Ek kyk vir hom en vra vir hom: “Vriend, wat hou jy vir die hoogste posisie, wat ‘n mens op hierdie aarde kan beklee?”

9. Sê die ryk handelaar: “Heer, vergewe my, jou mees gehoorsame slaaf, dat ek so dom is, dat ek nie jou mees verhewe wyse vraag verstaan het nie; klim dus van die onmeetbare wysheidshoogte af en stel jou vraag op ‘n aller genadiglik maklike manier, dat dit vir my onbeperkte onnoselheid verstaanbaar is!” (Hy het wel die vraag verstaan; maar destyds was dit die belaglike gebruik, om ook die maklikste vraag nie onmiddelik te verstaan nie, indien ‘n mens deur ‘n hoë persoon iets gevra word, om daardeur die wysheid van die hoë persoon te verhoog.)

10. Maar Ek sê vir hom: “Vriend, jy het vir My wel goed verstaan en maak net so, asof jy nie vir My verstaan het nie, ter wille van die ou, maar nou reeds heeltemal verouderde hoflikheidsgebruik. Laat dus hierdie ou belaglikheid staan en gee vir My ‘n antwoord op My vraag!”

11. Sê die handelaar: “Ja, as ek dit mag waag, om jou hoë vraag, hoë Heer, onmiddelik te antwoord, dan glo ek dat ek met jou hoë toestemming die hoë vraag wel verstaan het, en my antwoord sou dus die volgende wees: dat ek as die hoogste amp, natuurlik die Keiser en sy amp as die allerhoogste beskou, wat ‘n mens op hierdie aarde kan beklee.”

12. Sê Ek: “Maar vriend, waarom weerspreek jy vir jou so baie in jou hart teen jou eie leuse, wat daar sê: ‘Die waarheid is die hoogste en heiligste op hierdie aarde, en ‘n amptenaar, wat getrou die amp van waarheid en die reg uitvoer, beklee die hoogste en mees verhewe amp op aarde!’ Sien, dit is jou leuse! Hoe kan jy nou die amp van ‘n Keiser, wat net die amp van brute geweld as die hoogste bevelvoerder uitvoer, wat sekerlik nie altyd op waarheid en regverdigheid steun nie, jou innerlike oortuiging weersprekend, as die hoogste beken?!”

13. Hier maak die handelaar groot oë en sê na ‘n rukkie: “Hoë Heer! Wie het my leuse aan jou verraai? Ek het dit nog nooit hardop uitgespreek nie, gedink natuurlik duisend en weereens duisend maal! Want ons weet dit net te goed, dat ‘n mens met die naakte waarheid nie altyd die beste vaar nie, en ‘n mens moet daarmee uit allerlei politieke redes net mooi by die huis bly, indien ‘n mens onder mense ongeskonde wil rondloop!

14. Maar soos ek dit nou agterkom, lyk dit, asof jy, hoë seun van ‘n vors, self ‘n groot vriend van die waarheid en die reg is, en dan sal dit voor jou veilig wees, om vir jou met die liewe waarheid te ontmoet; want die groot here wil die waarheid nooit hoor nie, eer dus die vleiery, wat ook die enigste is wat hulle begeer, en alle menseregte is by hulle sleg. Wat hulle wil hê, dit gaan haal hulle met geweld. Of die armes oor die onreg kla, nou soos in die ou dae, is vir die groot here, wat daar in hoë aansien staan, nie belangrik nie. Daarom moet ‘n mens polities optree en moet met hulle mooi praat, andersins lê die kerker en galeie voor, wat die mens se marteling en pyn vermeerder.”

15. Sê Ek: “Jy het goed en waar gepraat! Ek deel ten volle jou mening; maar sê net vir My, wat dink jy wie Ek in werklikheid is!”

16. Sê die handelaar: “Heer! Dit is ‘n baie netelige vraag. Sê ek te veel, dan word ek klaarblyklik uitgelag; maar as ek te min sê, dan beland ek in die gat! Daarom sal dit hier beter wees, om die antwoord verskuldig te bly, as om later vir die antwoord in die kerker met marteling en leiding die tyd te verdryf!”

17. Sê Ek: “Maar as Ek vir jou die versekering gee, dat jy hetsy die een nog die ander moet vrees nie, dan sal jy wel vir My ‘n antwoord kan gee?! Sê dit dus reguit, vir wie hou jy My!”

18. Sê die handelaar: “Vir ‘n vors uit Rome, - as ek dan moet praat!”

19. Sê agter My Jonael: “Dit sal beslis te min wees! Jy sal wel ‘n bietjie hoër moet raai; die vors sal nie voldoende wees nie!”

20. Die handelaar skrik en sê: “Ten einde is dit die Keiser self?!”

21. Sê Jonael: “Nog altyd veels te laag; derhalwe moet jy hoër raai!”

22. Sê die handelaar: “Dit sal ek beslis nie doen nie; want bokant die Keiser van Rome, bestaan daar nie nog iets hoër nie!”

23. Sê Jonael: “Baie beslis! Daar bestaan nog baie hoër dinge; dink net en sê dit reguit! Want ek sien dit mos in jou hart, dat jy vir die Keiser van Rome die laagste plek aanwys; waarom praat jy dan anders, as wat jy dink en in jou hart voel? Praat dus die waarheid!”

Hoofstuk 55 Mobiele weergawe Kommentaar