Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 1 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 10

Die Heer in die omgewing van Caesarea Philippi (vervolg)

Die voorstel van die Romein om die leer van die Heer so vinnig moontlik te versprei

1. Daarop begewe ons onsself weer na buite, en wel na die oewer, waar ons al vanoggend vroeg was.

2. Nadat ons `n tyd daar deurgebring het, sonder om `n woord te wissel, kom die Romein na My toe en sê: “Enigste en enige ware Heer en Leraar, vol van die suiwerste liefde en wysheid en goddelike krag, daar het nou `n besondere gedagte in my opgekom. Vir die mense kan daar op hierdie aarde tog niks saliger, gelukkiger en dus ook begerenswaardiger wees dat U leer met haar lewende, wonderbaarlike krag in so klein moontlike tyd onder hulle versprei word; en dit sou na my mening tog nie al te moeilik gaan nie.

3. Kyk, U is almagtig; `n gedagte van U, vervul van die almag van U wil - en op die hele aarde bestaan daar geen afgodstempel en geen afgodsbeeld meer nie. As die vernaamste steunpilare van die ou, duistere en bose bygeloof uit die weg geruim is, en wel bliksemsnel op alle plekke op aarde tegelyk, dan sal die mense sekerlik daarvan skrik en weldra daaroor gaan nadink, hoe en waarom dit gebeur het en wat dit beteken.

4. Daarna moet hulle, wat goed en volgens waarheid van U en U ryk op hoogte is, na die mense toe gaan, wat enersyds geskrik het en hulle andersyds verbaas en na die rede van die verskynsel vra, en hulle gaan onderrig in U Naam; en as hulle êrens siekes aantref, moet hulle hul op dieselfde manier genees soos U reeds uitgestuurde leerlinge in Joppe, wat die siekes wat hier aanwesig was, genees het - en ek dink dat U leer op die buitengewone manier die vinnigste en mees sekerste by alle mense ingang sal vind. Die mense was nie daartoe in staat nie, omdat hulle nie die middele daarvoor gehad het nie; maar U het die middele waarmee `n baie groot werk vinnig tot stand kan kom. Sou dit nie moontlik wees nie, of sou dit in teenspraak wees met U wysheid en orde?”

5. Ek sê: “Ja, vriend, as Ek slegs `n mens sou wees en op jou manier sou dink en oordeel, sou die verhaal wel opgegaan het; maar as ewige Heer van alle bestaan en lewe, sien en beoordeel Ek dit baie anders as jy; daarom kan Ek nie op jou voorstel ingaan nie.

6. As Ek alle afgode saam met hulle deur die mens geboude tempels op één keer sou vernietig, sal Ek eerstens hulle priesters kompleet van die aardbodem moet wegvee; maar priesters is ook mense, begiftig met `n vrye wil en daartoe bestem om hulle self te ontplooi en het `n geestelike lewe in hulle om te grondves. Ook is daar onder die afgodspriesters `n groot aantal wat by hulle self in die geheim lankal na die waarheid van die lewe van die siel aan die anderkant soek; daarom sou dit ongepas wees om hulle te vernietig, vanweë die feit dat hulle afgodspriesters is.

7. As alle afgodstempels saam met die afgode nou op één keer vernietig sou word en die priesters sou bly, sou hulle teenoor die volk `n dergelike verskynsel as die toorn van die gode uitlê en sal met al hulle ten dienste staande middele maar al te gou vir hulle tot onbetaalbare en ook wrede offers afdwing. Op baie plekke doen die priesters dit tog en as die volk nie meer soveel offer nie, gaan hulle snags die een of ander tempel vernietig en luid aan die volk die toorn en wraak van `n beledigde God verkondig, waarna die volk nog duisterder en bygelowiger word en moeiliker te bekeer is.

8. Bowendien is wonders en allerlei tekens nie die korrekte, ware middele om te bekeer nie, veral vir `n volk wat nog veels te min in die gees gewek is. Dit ontneem die mense vinnig en maklik hulle vryheid en dwing hulle met onweerstaanbare geweld om sonder twyfel te glo wat hulle voorgehou word om te glo; in hierdie tyd is daar egter, veral onder die priesters, allerlei soorte magiërs - soos wat dit daar in vroeëre tye was en ook in die toekoms sal wees - wat allerlei valse wonders en tekens doen. Maar waar sal die volk die insig vandaan kry en die heldere beoordelingsvermoë om die valse wonders en tekens van die egte en ware te kan onderskei?

9. As Ek jou die vermoë sou skenk om egte, ware tekens onder die heidene te doen, maar die heidense priesters sou net soos die vroeëre Essene teenoor jou valse tekens doen wat presies daarna lyk; hoe sal jy dan so aan die blinde volk kan bewys dat slegs jou tekens die egte is?”

10. Die Romein sê: “Ja, ja, Heer en Majesteit, U het heeltemal gelyk; alleen deur die verligte waarheid kan die mense mettertyd tot die ware, innerlike lewensvryheid kom!

11. Om U goddelikheid te bewys, is dit van U kant sekerlik noodsaaklik om vir ons, blinde heidene, sodanige tekens en wonders te doen wat - vir sover ons insig het in die ou kunste van die magiërs - deur geen enkele mens gedoen kan word nie; en U kom dit ook toe om naas U leer, wat op sigself al `n groot wonder is, tewens ander tekens en wonders te doen, sodat ons des te duideliker kan insien dat U woorde nie menslik, maar goddelik is. Maar as U leer eenmaal deur U leerlinge aan die ander mense verkondig en geleer word soos wat U dit aan U leerlinge onderrig het, sal dit ook as die suiwerste, lewende waarheid uit die hemele aangeneem, begryp en al handelende in ag geneem word; en die grootste wonder sal die leer self tot stand bring, deurdat die mense, wat getrou daarvolgens handel, in hulleself dit sal bereik wat aan hulle belowe is. Maar dit sal natuurlik `n lang tyd duur voordat hierdie heilige leer alle mense op aarde onvervals sal bereik. Maar U is die Heer en weet die beste waar, hoe en wanneer `n volk ryp is vir U leer.”

12. Ek sê: “Ja, vriend, so is dit, en nou het jy `n meer korrekte oordeel gegee as netnou, met jou onmiddellike vernietiging van alle afgode en hulle tempels!”

Hoofstuk 1 Mobiele weergawe Kommentaar