Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 2 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 10

Die beperkinge van `n wetmatige verbreiding van die ryk van God

1. (Die Heer:) “As jy `n saadkorrel in die aarde lê, het hy tog ook tyd nodig voordat hy begin te ontkiem en geleidelik aan `n volledige ryp vrug word. Vir `n landbouer is dit natuurlik wel `n kwessie van geduld, as hy van die saai tot die oes byna `n halfjaar lank moet wag; hy sou seker ook liewer wou gehad het dat hy vandag kon saai en môre al sou kan oes! En kyk, soos wat alle dinge by God moontlik is, sou God dit ook maklik kon bewerkstellig het; maar dit sou met die geestelike ontwikkeling van die mens baie slegter daaruit sien as wat dit nou is! Die op wins beluste mens sou één stryk deur aanhou saai en oes, maar die traes sou in `n steeds groter traagheid wegsak, wat vanselfsprekend en baie begryplik is. Daarom is die orde, soos wat dit deur God in alle dinge op hierdie aarde bepaal is, vir die geestelike ontwikkeling van die mens tog die beste en die mees doelmatigste.

2. Dit wat van tyd tot tyd vinnig moet ontstaan vanaf die allereerste begin van ontstaan tot aan die volle, feitelike uitwerking het egter geen halfjaar nodig nie, soos byvoorbeeld wind, bliksem, reën en nog allerlei soortgelyke verskynsels wat daar, indien noodsaaklik, ooreenkomstig God se wil ook dadelik moet wees; maar ander dinge, waarmee die mens homself moet besig hou, het net soos die mens hulle bepaalde tyd. En so is dit ook met die verbreiding van My leer, wat uitsluitlik en alleen vir die mense in hierdie tyd en ook in die toekoms deur My na hierdie wêreld gebring en aan hulle gegee word.”

3. Daarop sê die Romein: “O Heer en Majesteit, ek sien nou baie duidelik in dat op hierdie aarde, ter wille van die mense, alles as te ware so moet wees en bestaan soos wat dit nou is en bestaan. Maar as ek daaraan dink dat mense alleen deur die geloof in U en deur volgens U leer te handel, die ware, ewige lewe van die siel kan verwerf, en miljarde mense daarom, wat nog lank niks oor U en U leer sal hoor nie, sekerlik skade aan hulle siel sal ly, word dit angstig in my gemoed, en slegs vanuit hierdie gesigspunt het ek `n so vinnig moontlike verbreiding van U leer gewens!”

4. Ek sê: “ `n Dergelike wens op sigself doen jou hart eg en waaragtig eer aan en is vir My hart `n ware vreugde! Dit is waar dat Ek alleen die deur is na die ewige lewe van die siel van elke mens; wie in My glo en ooreenkomstig My leer leef en handel, sal die ewige lewe ontvang.

5. Gister op die berg het jy tog die siel van jou vader en die siele van verskillende bekendes van jou gesien en selfs mee gespreek, en jy het ook die sinlose bestaan van baie siele aan die ander kant gesien. Ek sê vir jou dat die evangelie ook aan hulle deur My tallose engele verkondig word. Diegene wat daarna luister, dit aanneem en hulle daarvolgens rig, sal ook die saligheid bereik, maar nie so maklik en vinnig as op hierdie aarde, waar die mens dikwels `n baie sware stryd te veg het met die wêreld, met sy vlees en met nog heelwat ander dinge - al is dit ook maar van korte duur - en waardeur hy alle moontlike geduld, selfverloëning, sagmoedigheid en deemoed leer.

6. Wees daarom oor niemand in die wêreld aan die ander kant te besorg nie; want God se Liefde, Wysheid en groot ontferming heers oral, ook in die groot wêreld aan die ander kant. Hulle wat dit gryp en hulle daarvolgens sal voeg en rig, sal nie verlore gaan nie; maar vir hulle wat dit hier en ook aan die ander kant nie sal doen nie, geld die stelreël dat: Aan die bose wat hulle self wil skaad, geen onreg geskied nie. Is jy tevrede met hierdie baie duidelike verklaring van My, vriend?”

7. Die Romein sê: “Ja, Heer en Majesteit, met hierdie verklaring is ek nou volkome tevrede; want dit voldoen aan alle eise van die gemoed van `n verstandige mens en is vol ware troos vir ons siele. U is daarom al ons liefde, eer en lofprysing nou en in alle ewigheid!”

8. Daarmee was ons Romein so ook volkome tevrede, en hy stel daarna weinig meer vrae van die aard aan My.

Hoofstuk 2 Mobiele weergawe Kommentaar