Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 37 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 10

Die geneesde Veronica bedank die Heer

1. Toe die kommandant dit uit My mond gehoor het, word hy buitengewoon opgewek en bly en stuur onmiddellik één van sy ondergeskiktes na sy huis. Hy tref die dogter weliswaar nog in haar siekbed aan, maar so volkome gesond, dat sy baie fris, lewenslustig en kerngesond daaruit sien en, omdat sy dit ook was, haar bed wil verlaat; maar haar moeder hou haar net daarvan af, omdat sy van mening was dat hierdie plotselinge beterskap `n laaste oplaai van die lewenskragte was, waarna `n bietjie plotselinge uitputting van alle lewenskragte sou volg en daarmee ook `n sekere dood.

2. Die ondergeskikte vertel die moeder nou oor die ewe plotselinge genesing van die seun van die herbergier wat nou heeltemal sterk en gesond was. Slegs enkele oomblikke gelede het dieselfde wonderbaarlike magtige arts op die gelowige versoek van die kommandant ook haar dogter sonder enige geneesmiddel en alleen deur sy onbegryplike almagtige woord van al haar lyding genees.

3. Hy sê dat die moeder dit moes glo en haar volkome gesonde dogter uit haar bed moes laat kom en haar onmiddellik na die Judese herbergier moes bring, waar die wonderbaarlike arts oorbly met enkele van sy metgeselle en ook die kommandant. Verder sê hy dat die dogter daar ietwat wyn en ook voedsel tot haar moes neem, om haar nog meer te versterk.

4. Na die woorde laat die moeder Veronica haar bed verlaat.

5. Sy doen dit blitsvinnig en klee haar so mooi as moontlik; want sy wou heeltemal suiwer en mooi voor My verskyn soos wanneer sy by `n koning sou aankom.

6. Toe sy nou heeltemal geklee en getooi was, neem sy ook `n mooi goue beker met haar saam om My daarmee te eer.

7. So kom sy dan ook na ons toe, begelei deur haar moeder en die ondergeskikte, en haar eerste vraag was (Veronica): “Waar is my Heiland, my God en my Heer?”

8. Ek sê: "Ek is Hy! Kom hier en versterk jou hart met die wyn en die brood, wat Ek uit die hemele op hierdie tafel gesit het!”

9. Toe Veronica dit van My gehoor het, val sy voor My op haar knieë en sê: “O my goeie, liewe en goddelike Heiland, hoe kan ek, `n arme, sondige heidin, U dank vir die meer as groot en ewig onverdiende barmhartigheid wat U my bewys het, sodanig dat my dank U goddelike hart welgevallig kan wees?”

10. Ek sê: “Staan maar op en kom naas My sit, en drink en eet - want daardeur sal jou hart en siel nog sterker word; daarna sal ons in alle liefde en tederheid van die hemele spreek oor die enigste dank wat vir My welgevallig is.”

11. Hierop staan die buitengewone mooi Veronica op, sit die goue beker voor My neer en sê vol ontroering, maar tewens met Romeinse waaragtige erns: “O heerlikste van alle heerlikhede, Heer van alle meesters, Koning van alle konings, God van alle gode, versmaad die kleinood van my nie! Ek weet en voel in my siel dat dit U te onwaardig is; maar bedink dat dit `n hart is wat U liefhet en slegs deur U genees is, wat dit U aanbied, en versmaad dit daarom nie!”

12. Ek sê: “Ja, wat My deur so `n hart aangebied word, word ook deur My aangeneem, en Ek sal die wyn nou uit hierdie beker drink; en hier het jy My beker, waar Ek uit gedrink het; drink jy die wyn daaruit!”

13. Toe neem Veronica My beker wat slegs van erdewerk was, drink daaruit en sê toe: “O, hoeveel koninkryke is hierdie beker meer werd as wat ek gewaag het om aan U op te dra; want noudat ek uit hierdie beker gedrink het, voel ek dat ek nie alleen die mees versterkende wyn vir my liggaam, maar ook die krag van die ewige lewe van my siel gedrink het!

14. O, drink tog alles met my uit hierdie beker, as julle nog twyfel aan die ewige lewe van julle siel, sal julle versterk word tot die ewige lewe!”

15. Nou skink sy die beker vol en reik dit aan haar vader, wat tot nou toe nog niks van ons wyn beproef het nie; hy drink hom heeltemal leeg, kus toe die beker en sit dit, terwyl hy My bedank, weer voor sy dogter neer.

16. Die kommandant verbaas hom oor die buitengewone kwaliteit van die wyn en sê ook, dat hy nou begin gewaarword dat hy `n siel het, wat `n ewige voortduur van die lewe in haar voel, en dat hy daarom buitengewoon bly was. Daarna drink ook sy vrou, sy ondergeskiktes en ten slotte die Griekse heidense herbergier.

17. Toe hy die wyn beproef het, vra hy dadelik aan die Judese herbergier (die Griekse herbergier): Waar het jy hierdie wyn gekoop? Want solank as wat ek leef en self herbergier is het ek nooit so `n wyn beproef nie! Vir besondere gaste het ek, as hulle dit wens, tog ook baie goeie wyn in my kelder en het jou al herhaalde male daarmee gehelp, en jy kan nie sê dat ek jou nooit iets slegs aangebied het nie. Maar so `n wyn het ek nog nooit gehad nie. Waar kry jy dit vandaan? Sê dit my, sodat ek dit ook kan aanskaf!”

18. Die Judese herbergier sê: “Vriend, dit sal jy waarskynlik nie kan kry nie; want dergelike wyn groei daar nie op die hele aarde nie! Het jy nie gehoor dat die groot Wonderheiland vir die dogter van ons regverdige kommandant gesê het waar hierdie wyn vandaan gekom het? Kyk, uit die hemele van God, egter nie die van julle fantasiegod Bacchus nie, maar uit die hemele van ons een en enige ware God, wie se afgesant baie verseker hierdie verhewe Wonderheiland is! So is dit en nie anders nie, en dit sal jou moeilik geval om vir jou geld in hierdie omgewing `n dergelike wyn te koop!”

19. Die Griekse herbergier sê: “Hoe het jy daaraan gekom?”

20. Die Judese herbergier sê: “Dit moet jy nie aan my, maar aan die groot Heer vra, vir wie alle dinge moontlik blyk te wees, en van wie ek nou ook glo wat die kommandant en sy dogter onder woorde gebring het. Spreek dus met die Heer; want ek as swak mens, wat nog vol geestelike blindheid en dwaasheid sit, weet niks en begryp niks!”

21. Daarop swyg die Griekse herbergier.

Hoofstuk 37 Mobiele weergawe Kommentaar