Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 39 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 10

Die leerlinge en die Heer onderrig die inwoners van Pella

1. Na die maaltyd, wat meer as `n uur geduur het, loop Ek met die kommandant in die stad rond en maak alle siekes gesond, en steeds meer volk volg My. My leerlinge bly egter in die herberg en onderrig die Judeërs.

2. Teen die aand keer Ek saam met die kommandant weer na die herberg terug, waar die leerlinge nog volstoom met die Judeërs in gesprek was. Hulle begin My ten slotte tog as die beloofde Messias beskou, maar kon daarby tog nie begryp waarom Ek met so `n onopvallende verskyning in hierdie wêreld gekom het nie, omdat immers die groot koning Dawid as volg oor My gespreek het: “Maak die poorte wyd en die deure hoog, sodat die koning van ere kan binnekom! Wie is die koning van ere? Dit is die Heer JaHWeH Sebaot!”

3. Hulle, die Judeërs van Pella, wis egter nie dat daar by My koms in hierdie wêreld in die een of ander stad `n poort verwyd en `n deur verhoog was nie.

4. My leer en die tekens wat Ek doen, stem wel ooreen met, veral die profeet Jesaja en die profeet Esegiël oor wat oor die beloofde Messias voorspel is; maar My optrede onder die mense op hierdie wêreld kom, volgens hulle, nie volkome ooreen met wat die profete oor die Messias voorspel het nie. En sodoende het die leerlinge dit moeilik met die Judeërs.

5. Toe Ek met die kommandant, sy ondergeskiktes, sy vrou en sy geneesde dogter, asook met die geneesde seun van die herbergier die kamer binnekom, val daar `n stilte oor die Judeërs en hulle bekyk My, om te sien of hulle ook iets buitengewoon aan My persoon kon ontdek.

Hoofstuk 39 Mobiele weergawe Kommentaar