Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 136 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 2

Hoofstuk 136

1. Daarna lei die engel vir Jarah na alle kante van die berg en sy oortuig haarself dat die berg nie sy hoogte verloor het nie, maar van alle kante sonder gevaar geklim kan word, en in besonder van die see se kant waar daar ‘n baie sagte helling is.

2. Toe Jarah vir haar van alles oortuig het, het sy gesê: “Die saak is so wonderbaarlik, dat ek begin om my sintuie te wantrou, en ek begin dink dat ek ook slaap en droom! Vertel tog vir my net ‘n bietjie daarvan, hoe vir jou so iets moontlik was! Eers het jy die hele meer uitgelig en het dit in die ope lug soos ‘n druppel laat sweef, en nou het jy die steil berg van alle kante toeganklik gemaak en dit alles binne een vinnige oomblik! Hoe, hoe is dit vir jou moontlik? Jy het jou plek nooit verlaat nie en nogtans is dit alles uitgevoer! - Ag, dit is vir my arme erdwurmpie tog te veel!”

3. Sê die engel: “Jy kan dit nou natuurlik nog nie verstaan nie; maar binnekort sal die tyd kom, waar alles vir jou sonhelder duidelik sal word. Maar ek kan dit voorlopig sê, dat ons engele niks uit onsself kan vermag nie, maar alles deur die allenige almagtige wil van die Here, vir wie jy so lief is.

4. Sien, die hele wêreld en alle hemele is niks anders as gedagtes en idees van God wat deur die almagtige, mees onwrikbare vaste wil vasgehou word; wanneer Hy nou Sy idee terugneem en Sy gedagte oplos, dan vergaan in dieselfde oomblik die sigbare skepsel; maar as die Here ‘n nuwe gedagte formuleer en hou dit met Sy almagtige wil vas, dan is die skepsel reeds vir elkeen sigbaar daar!”

5. Sê Jarah: “Ja, wat moet julle dan nog doen?”

6. Sê die engel: “Ons is suiwer opnamehouers van die goddelike wil en daarna die uitvoerders daarvan! Sien, ons is so te sê die vleuels van die goddelike wil en is dus in werklikheid die goddelike wil self, en elke nog so sagte gedagte van ons, - indien ons dit met die krag van die goddelike wil verenig -, dan is die werk ook reeds voltooi, en daarom die spoed van ons werkswyse!

7. Sien jy daardie helder ster daar teen die opgang staan? Sien, indien van hier af tot daar ‘n gebaande pad sou lei, waarlik, die aarde het nie so baie sand as kleinste stofkorreltjies, as wat ‘n voël jare sou gebruik om die ster te bereik, nie eers gepraat van ‘n mens wat sou hardloop nie; en sien, vir my is dit egter moontlik, om binne een oomblik daarheen te gaan en weer hiernatoe terug te kom! Jy sal my afwesigheid nie eers agterkom nie en ek sal nogtans daar en weer terug wees! - Glo jy dit vir my?”

8. Sê Jarah: “Waarom sou ek so iets nie vir jou glo nie? Maar natuurlik kan daar van ‘n oortuiging van my kant geen sprake wees nie; want ek kan en wil nie met jou ‘n reis daarheen, soos voorheen na die bodem van die meer nie, onderneem nie!”

9. Sê die engel: “Waarom dan nie? Is dan by God nie alle dinge moontlik nie? Indien die Here dit sal toelaat, dan is dit om ‘t ewe vir my! Dat daar niks met jou sal gebeur nie, daarvoor waarborg ek en al die tallose engele wat jy helder stralend na alle kante sien!”

10. Sê Jarah vir My: “Here, is dit wel moontlik?”

11. Sê Ek: “In die hand van daardie engel, ja! Indien jy wil, kan jy jouself aan hom oorgee, en binne ‘n paar oomblikke sal jy ongeskonde weer hier by My wees; maar vat vir jou van daar af ook ‘n aandenking saam!”

12. Na hierdie woorde het Jarah haar aan die engel oorgegee en gesê: “Sien, ek het moed; indien jy dit kan vermag, dan dra vir my daarheen!”

13. Toe het die engel vir Jarah van die grond af opgetel, het haar innig teen sy bors gedruk en het verdwyn. - Na tien sekondes was hy saam met Jarah weer terug, wat in haar voorskoot ‘n klip gehad het, wat in die oopte so helder gelig het, soos die môrester met sy mooiste lig.

14. Toe Jarah van haar verbasing ‘n bietjie herstel het, het sy vir My gevra: “O Here, is dan daardie ontelbare sterre dit wat daardie ster is, wat ek nou werklik met my liggaamlike oë self of met die oë van my gemoed gesien het? Want dit is dan ‘n ongelooflike groot wêreld! Hierdie aarde lyk vir my nou so klein soos ‘n slakhuisie in vergelyking met hierdie berg! Mense, heeltemal volmaakte mense wat in onuitspreeklik groot en daarby uiters wonderheerlik geboude tempels woon, woon ook op daardie oorgroot heerlike wêreld; maar daardie mense is so groot dat hulle hierdie berg ten minste driemaal sou oortref, indien hulle onder by die see sou staan. En op die manier is in daardie wonderwêreld alles baie duisend maal duisend keer groter as hier!

15. Ons het op ‘n uiters hoë berg gestaan en het na alle kante ‘n vlakte sonder einde gesien. Dit was in alle rigtings deurtrek van die heerlikste strome, waarvan die golwe in die aanhoudend veranderende, skitterende vars kleure van die reënboog gespeel het; die grond was met die heerlikste tuine en tempels bebou. In die volgende oomblik was ons reeds onder by die tempels en het die groot mense en hulle nog baie groter woontempels gesien. Op ‘n afstand lyk die mense baie heerlik; maar van naby af lyk hulle soos wandelende berge! Ja, ek sou ‘n baie hoë leer moes gebruik, as ek net op die klein toon van een van daardie mense sou wou klim!

16. Kortom, ek kon my lewe lank aaneen vir Jou vertel wat ek daar binne net ‘n paar oomblikke gesien het; maar dit sou beteken, om die tyd, wat Jy o Here vir iets beter bestem het, met onbelangrike dinge te verspil! Maar net dit wil ek van Jou weet, of al daardie talloos baie sterre ook sulke wêrelde is, soos die een wat ek gesien het!”

17. Sê Ek: “Ja, My kindjie, en daarby nog veel groter en baie heerliker! Maar glo jy nou vas dat jy binne hierdie paar oomblikke by daardie ster met liggaam en siel was? Sê vir My !”

18. Sê Jarah: “Here, Jy my liefde, Jy my lewe, die heenvlug het ons in vier kort trekke afgelê. Tot voor die vierde been het die ster wat ek nou nog goed kan sien, onveranderd as ‘n ster gelyk; maar gedurende die vierde been was hy so groot soos ons son gedurende die dag. Van daar af was dit net nog ‘n uiters kort oomblik en ons was reeds in daardie heerlike wêreld. Vanaf die berg, op wie se piek ons eerste geland het, het ek op aandrang van die engel ‘n klippie van die grond af opgetel - dit is hierdie stralende klont - en het dit as ‘n bewys, dat ek werklik ook daar was, saamgebring. Meer kan ek nie vir Jou as bewys vir my werklike besoek daar, gee nie.”

Hoofstuk 136 Mobiele weergawe Kommentaar