Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 122 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 3

Hoofstuk 122

Die wese van die engele

1. Jarah sê: "O, hy sal dit beslis kon doen! As die Here hom op `n vir ons onsigbaar wyse `n aanwysing sal gee, - maar andersins doen hy niks nie! Hy is aan my gegee as leraar en beskermer, maar as ek hom vra om die een of ander te doen, dan doen hy dit die allerminste! En as ek iets van hom wil weet, gee hy nie net geen antwoord nie, maar vra skielik vir my, en ek moet hom dan antwoord gee op dit wat ek eintlik van hom wou weet. Daarom is elke vraag aan hom verlore moeite. Ek is wel baie lief vir hom, maar ek sou hom nog duisend maal liewer gehad het, - as hy net `n bietjie meer meelewend sou wees! Hy is wel altyd uitermate vriendelik, maar mens mag hom niks vra nie, want dit is alles tevergeefse moeite."

2. Mathael sê: "Maar dit wil ek eers nog sien of hy nie daartoe bereid sal wees om tenminste sommige burgerlike huise teen die vlamme te bewaar nie! Ek sal hom hierheen roep en eers sien of die bekoorlike Jarah heeltemal reg is!"

3. Daarop roep Mathael vir Rafael en sê aan hom: "Vriend, kyk na die stad! Dit lyk vir my dat daar nou ook heelwat armlike hutte aan die brand is; as dit so is kan jy dit tog wel voorkom!?"

4. Die engel sê: "Ongetwyfeld, as ek mag. Maar my wil is ten volle die van die Here, en ek kan net dit doen, wat Hy wil. As die Here dit wil, sal jy jou nie kan voorstel hoe vinnig ek die brand sou blus nie! Maar sonder die wil van die Here kan ek net so weinig doen soos jy, want al die wonders wat deur my uitgevoer is, het nie ek nie, maar slegs die wil van die Here deur middel van my tot stand gebring.

5. Ons engele is in wese slegs die uitvoerende orgaan van die goddelike wil, of te wel die verpersoonlikte wil van die Here, en uit onsself kan ons niks nie, omdat ons sonder die goddelike wil as selfstandige wesens eintlik gladnie kan bestaan nie, net soos jou oë in die spieël hom geen waaragtige spieëlbeeld volgens waarheid van die son sal kan voorstel nie as daar nie eers vanaf die werklike son `n straal op die oppervlak van die spieël val nie.

6. Om my wese egter nog beter te verstaan, wys ek jou op `n soort hol- of brandspieël, wat die van ouds af beroemde werktuigkundige Argimedes, heel per toeval uitgevind het. Hierdie spieëls, het die natuurlike eienskap om `n aantal op hul oppervlak vallende sonstrale op `n bepaalde afstand in één punt te konsentreer. Hierdie op één punt gekonsentreerde sonstrale, word dan sowel wat lig en warmte betref, `n soveel maal groter krag as die enkelvoudige straal. Die energie van ‘n brandpunt van skaars twee duimbreedtes in deursneë waar die grootste konsentrasie van strale plaasvind, vergelyk met die energie wat deur ‘n spieëloppervlakte van een manshoogte in deursneë kwadraties gesien, weerkaats kan word.

7. So `n brandpunt het dan verseker `n meer as duisendvoudige groot krag as die natuurlike, enkelvoudige straal sowel as wat lig en warmte aanbetref, maar is nogtans nie denkbaar sonder die son nie.

8. Die spieël verenig slegs die sonstrale tot `n sterk en vinnig werkende brandpunt, maar sonder die son besit hy geen krag nie, en besit vir blywend net die eienskap om die strale van die son te konsentreer wanneer dit op sy oppervlak val; maar sonder die son is die werking van die brandspieël gelyk aan nul.

9. Ons engele is dus, soos gesê, slegs brandspieëls vir die opname en die konsentrasie van die goddelike wil, en as ons iets doen, doen ons dit deur die brandpunt van die goddelike wil wat in ons gekonsentreer is, en dan sien jy niks anders as wonders nie. - Verstaan jy dit?"

10. Mathael sê: "O, dit verstaan ek nou beter, ek het net nie geweet dat Argimedes die uitvinder van die brandspieël was nie, want mense skryf dit tog oorspronklik toe aan `n sekere Hamerod, en vervolgens aan die bekende Thales, wat ook `n weerligmasjien moes vervaardig!"

11. Rafael sê: "Heeltemal korrek, maar Argimedes was `n draaier, en het uit homself verskeie uitvindings gemaak soos die grondbeginsels van die baie bruikbare brandspieël, die silinder en skywe wat weerlig veroorsaak, maar veral ook die hefmasjien, deur die fortuinlike gebruik van sy spesiaal daarvoor vervaardigde en presies berekende skroef, na watter uitvinding hy gesê het: 'Gee my buite die aarde `n vaste punt en dan hef ek vir julle die hele wêreld uit haar voeë!'

12. Uit dit alles blyk dit dat ek uit myself nie jou goeie wens sal kan uitvoer nie. Maar as die Here my daarvoor sal uitkies, sal alles vinnig afloop. Vra dit daarom slegs vir die Here!"

13. Jarah sê: "Die Here kan `n mens nie nou lastig val nie, want Hy het aanbeveel om te rus, of as ons wakker bly, te bid. En dit moet ons doen, want wat Hy sê het sy rede. Wat gaan dit ons aan of die hele stad afbrand?! Die Here sal wel Sy rede hê waarom Hy dit oor hierdie stad laat kom het, en die rede kan bes moontlik `n baie goeie een wees, en vol van goddelike liefde en erbarming. As ons nou iets daaraan wou verander, sou ons die saak nie beter, maar eerder slegter maak. Die Here sal op die regte oomblik, sonder ons voorspraak, wel Sy wil uitvoer. Met my Rafael is en bly egter niks aan te vang nie, want sonder die wil van die Here is hy `n leë omhulsel."

Hoofstuk 122 Mobiele weergawe Kommentaar