Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 1 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Die Heer en die tempelpriesters

Die genesing van `n sieke by Bethesda.

(Evangelie van Johannes 5:1-13)

1. Ek het egter saam met My studente op hierdie dag tot naby Jerusalem gegaan, waar ons losies geneem het in `n herberg wat Ek en My studente goed geken het. Die herbergier was besonder verheug oor ons besoek en het ons heelwat vertel oor die heersende, slegte toestande in Jerusalem en het `n uitstekende aandete vir ons laat voorberei.

2. Maar EK sê aan hom: “Kom maar môre na die tempel, dan sal jy sien hoe Ek met die Fariseërs sal handel! Môre sal julle presies en sonder enige voorbehoud te wete kom met wie julle in My Persoon te maak het!”

3. Daaroor was ons herbergier baie bly en hy het ons nog voldoende brood en wyn gebring. Weliswaar het hy al baie oor My gehoor, maar ook hy het nog nie geweet wie Ek nou eintlik presies was nie, hoewel My studente `n aantal aanwysings aan hom gegee het, wat hy goed opgeneem het. Spoedig daarna het ons onsself ter ruste begewe.

4. Op die oggend van die Sabbat het ons (*Johannes 5:1) na Jerusalem opgetrek. Waarom dan ‘op’? Omdat die groot stad en veral die tempel op `n taamlike uitgestrekte, rotsagtige bergrug gebou was en die tempel met sy uitgestrekte suilegange, ringmure en hooggeleë tuine op die hoogte geleë was. Dat die herbergier, wie se huis in die dal gestaan het, met ons saam opgegaan het, spreek vanself. *(Alle teksverse is deur Lorber of die uitgewer aangebring.)

5. Toe ons in die nabyheid van die tempel gekom het, moes ons eerste langs `n bad, genaamd Bethesda (Vedes da = dit gee opwekking of genesing), wat naby die skaapstal van die tempel was, omring deur vyf suilegange, verbygaan. (Johannes 5:2) In hierdie gange het daar altyd heelwat siekes, soos blindes, verlamdes, mense met verskrompelde ledemate en mense met allerlei ander siektes gelê en hulle het gewag totdat die water in beweging gekom het. (Johannes 5:3) Volgens `n baie ou oorlewering uit die tyd van Melgisédek, en volgens die vaste geloof, veral van die arm volk, het daar van tyd tot tyd `n engel uit die hemel neergedaal, wat die water in beweging gebring het. Weliswaar het die mense nie die engel gesien nie, maar hulle het sy aanwesigheid afgelei uit die vreemde beweging van die water. (Johannes 5:4a).

6. Die geleerde Fariseërs het persoonlik weliswaar nie aan die neerdaling van die engel geglo nie, maar net soos die Romeine en die Grieke het hulle die bad maar net as `n spesiale, geneeskundige bron beskou; maar hulle het egter tog voordeel daarin gesien om die volk by die vrome, ou geloof te hou. (Johannes 5:4b).

Hoofstuk 1 Mobiele weergawe Kommentaar