Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 219 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Siel en liggaam

1. (Die Romein:) 'Ons reis na Memphis en kry onderdak, wat die plaaslike owerste en goewerneur ons in sy groot paleis besorg. Gedurende die eerste drie dae bekyk ons die stad, haar omgewing en die ou tempel met haar entourage (omliggende dele), wat ons Romeine natuurlik baie interesseer.

2. Op die derde dag, nog baie vroeg, merk ek dat daar iets homself in my groot slaapvertrek ophou en beweeg. Ook die bediendes wat by my wag gehou het, bemerk dit. Ek vra hulle dadelik wat dit was, en wat dit beteken. Maar die bediendes weet dit nie en sweer dat hulle so-iets nog nooit voorheen waargeneem het nie. Dit lyk nou eers soos `n skaduwee op die muur en dan weer rook wat van die vloer van die kamer af opstyg en heen en weer sweef asof dit deur `n ligte sagte windjie beweeg word. Daar kon egter niks maklik aan die brand raak nie, omdat bykans alles van klip was, selfs die tafels, beddens en stoele. Ons staar `n tydjie in stomme verbasing na die skynbare spel van die natuur, en elkeen wag met `n sekere angs op wat uiteindelik daaruit sou voortkom.

3. Dit duur egter nie baie lank tot die skaduwee- en rookspel opeens verdwyn nie. Daarna word `n sterk geruis hoorbaar en `n baie jeugdige maar origens baie bedroefde uitsiende vroulike gedaante kom te voorskyn; deur haar vreemde klere lyk sy soos `n vrou uit die ou Egipte.

4. Ek skep moed en vra haar met die stem van my hart wie sy was, en wat sy hier wou hê.

5. Oombliklik rig die wese haar op en sê: 'Ek is `n dogter van Sesostris en my naam is Isia. Jy is ook van dieselfde stam en jy kan my vrymaak uit hierdie vesting van ellende en vertwyfeling waarin ek al `n lang aardse tyd bly. Vertel my van `n egte, ware God! Slegs Hy sal my kan bevry van hierdie lang kwelling; maar jou en my gode is maar net dooie gedagtes van die blinde mense.'

6. Ek (Agricola) sê: 'Rig jouself dan tot die God van die Judeërs!'

7. Toe ek dit gesê het, word die gedaante heeltemal wit en verdwyn.

8. Wat daar verder gebeur het, is egter nie hier tersake nie. Die verskyning was hierdie keer vroulik en het presies gelyk soos `n meisie van hoogstens drie-en-twintig jaar. As dogter van Sesostris het sy beslis ook eens liggaamlik op hierdie aarde geleef, en dit sou my baie verwonder het as sy nie volkome soos haar toenmalige liggaamlike gedaante gelyk het nie.

9. Maar dit lewer tog wel `n volledige en onomstootlike bewys, dat elke liggaamlike mens ten eerste `n onsterflike siel het, en dat sy tydens die lewe van die liggaam die hele liggaam bewoon, en na die vergaan van die liggaam self heeltemal dieselfde gedaante het as wat sy vroeër in die liggaam gehad het. Meer het julle nie gevra nie, en dus het ek julle ook niks verder te vertel nie.

10. Maar dat die siel die hele liggaam van die mens inneem, kan ek julle deur nog `n self beleefde gebeurtenis bewys, luister dus verder!

11. Ek ken in Rome `n man wat in `n veldslag `n been tot bo sy knie verloor het en in die lewe gebly het. Toe ek die man vra of hy nooit meer iets van die verlore been, soos die ware gevoel vanuit sy herinnering, merk nie, en of hy voel dat hy geen been het nie, sweer die man dat dit vir hom voel asof hy heeltemal geen been kwyt was nie. Deur die gevoel het dit hom al meermale oorgekom dat hy op die voet, wat daar nog steeds blyk te wees, wou gaan staan, en daardeur het hy ook al `n aantal kere behoorlik hard geval.

Hoofstuk 219 Mobiele weergawe Kommentaar