Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 220 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Die wat hulle van die wêreld afkeer en die ryk van God

1. Daarop sê Ek: 'En salig is ook hulle wat hom nie vir My vererg nie! Julle blinde Fariseërs sê: 'As die lug in die aand rooi is, sal dit môre `n mooi dag wees; maar is die oggend rooi, dan sal die dag somber wees!' Hierdie tekens kan julle beoordeel; waarom sien julle dan nie die groot tekens van hierdie tyd, wat deur My aan julle gegee word nie? Die tekens sien julle ook goed en julle verstaan dit ook; maar vanweë julle wêreldse ryk wil julle dit nie aanneem nie en hou julle ook die volk daarvan af. En dus wil julle self nie in die hemelryk ingaan nie, maar laat julle ook niemand anders daarin toe nie; en daarom sal julle eendag ook des te meer verdoem wees!

2. As `n blinde teen `n rots stamp, kan niemand hom dit kwalik neem nie. Maar as `n siende dit doen, is dit duidelik `n growwe fout; want hy kan tog sien dat daar `n rots in die pad lê. En dit is soveel meer by geestelike dinge die geval. Wie op grond van sy sieleblindheid hierdie tekens en woorde wat Ek doen en praat nie kan verstaan nie, vir hom sal dit ook nie as `n sonde aangereken word nie - maar wel word dit diegene wat sien en tog vyandig teenoor die waarheid staan, veelvoudig aangereken!

3. Dit is tans by julle Fariseërs en Skrifgeleerdes die geval. Julle sien self baie goed in dat Ek die Beloofde is; maar julle sien daarnaas ook in dat julle totaal geruïneerde Judeërdom naas My leer nie kan bestaan nie, omdat julle Moses en die profete bykans heeltemal vervang het deur julle eie voorskrifte om die volk, die weduwees en die wese te kan onderdruk, en nie om hulle te steun nie. En omdat julle dit doen en julleself nie tot My bekeer nie, bly julle sonde in julle, en daarmee ook die oordeel en die dood! Helaas, met dieselfde maat waarmee julle nou meet, sal julle eens deur My ware Vader vergeld word!'

4. Toe sê `n Fariseër wat eers nog heeltemal ongelowig was: 'Heer, dit vind ek `n vreemde redenasie van U! Is dit dan gladnie moontlik dat ons van nou af aan ook U leerlinge kan word nie?'

5. Ek sê: 'Julle kan wel leerlinge van My word, maar nie so maklik as wat jy dink nie; want wie `n leerling van My wil word, moet heeltemal met die wêreld breek en mag nie na haar verlokkings kyk nie; want die hele wêreld is in `n aanhoudende oordeel en in `n voortdurende dood! Wie die wêreld liefhet, is nie geskik nie en is ondeugdelik om `n egte leerling van My te word; want die liefde tot die wêreld het geen lewe in haarself nie, maar slegs die oordeel en die dood. Ek het egter geen dooie, maar volkome vrye, lewende leerlinge nodig. As julle dit kan word, dan kan julle ook by My bly!

6. Want Ek het nie in hierdie wêreld gekom om al die blinde en kortsigtige mense te oordeel nie, maar Ek het slegs gekom om die verlorenes te soek, die siekes te genees, die geboës op te rig en alle gevange mense vry te maak. Wie Ek help, sal ook vir ewig geholpe wees; wie egter My hulp nie wil aanneem nie, die sal niemand nóg in die hemel nóg op hierdie aarde kan help nie.

7. Ek bedoel hier egter nie Myself as persoon nie, maar My leer; want dit is die ryk van God wat nou vlak by julle gekom het en elkeen wat daarvolgens leef, die ewige lewe sal gee. Waarlik, Ek Self sal niemand oordeel nie; maar die woord wat Ek tot julle spreek sal julle oordeel, soos wat ook die waarheid oordeel en dood bring aan die leuen!'

Hoofstuk 220 Mobiele weergawe Kommentaar