Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 221 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Die goddelike leiding van die mense

1. Ek sê: 'Luister, hoe die mensdom op hierdie aarde behandel moet word, weet slegs Hy wat hulle geskape het, helaas die allerbeste! En Hy het dit selfs geen dag laat ontbreek aan allerlei aanwysings uit die hoogste lewenshemele nie, om die mense op die regte weë te wys waarop hulle moet wandel, om die doel wat God vir hulle gestel het, op eenvoudige wyse te bereik. As die mense hulle egter deur wêreldse lekkernye en haar valse en verganklike prikkels steeds opnuut laat verlei het en steeds opnuut van God afgeval en die goue kalf en die Mammon van die wêreld aanbid het, wat hulle in hulle blinde inbeelding en ydele fantasieë self tot iets baie belangrik verhef het, kan God dan niks daaraan doen dat die mense Sy onderrig en Sy raad verwerp het en vir hulle in die plek daarvan wette gemaak het waardeur hulle vir hulleself steeds meer van die verderflike Mammon kan inpalm nie?!

2. Het God julle nie by monde van Moses al die moontlike van Sy oneindige oorvloed in die skepping baie duidelik laat sien nie, en uitgelê dat dit alles maar net so is, ter wille van die mense van hierdie aarde nie?! Het God nie laat sien wat die mens van hierdie aarde is en wat daar uiteindelik van hom gaan word nie?! Moses het aan julle die rede van die hele materiële skepping baie presies uitgelê, en goed laat sien waarom elke siel die weg van die vlees moet deurmaak om na die aflegging van die liggaam as `n gees wat selfstandig en aan God volledig gelyk moet wees, vir God te kan nader.

3. Dit alles het God reeds in die oudste tye veelvuldig via Adam, Set, Enos, Kenan, Henog, Lameg, Noag en daarna steeds maar deur tot by Abraham, Isak en Jakob vir die mense laat sien. Hy het dikwels selfs persoonlik by hulle vertoef en hulle geleer om op die regte weë van verlossing te gaan. Waarom het julle mense dit alles verwerp en julle wêreldse wysheid in die plek van die goddelike openbaringe geplaas?!

4. Wie was Melgisédek, die enigste hoogste priester, wat koning van Salem was? Waar is sy leringe en sy wyse, liefdevolle wette wat hy aan alle mense gegee het?! Kyk, julle vaders het dit vernietig!

5. Moses het in sy groot sesde en sewende boek al dit wat verloor was, nogmaals gegee, en julle het dit weer vir die volk verstop en in die plek daarvan afval gegee.

6. As die hele mensdom nou moet ly deur die skuld van die selfsugtige priesters en ander heerssugtige mense, kan God dan iets daaraan doen?!

7. God het die mens `n vrye wil gegee om uit homself en vir homself te kan handel; God het die mens egter ook die rede en die verstand gegee, sodat hy die raad en wette van God kan neem en kan verstaan, en Hy het hom ook die krag verleen om daarvolgens te handel. As `n mens hom daarby egter tog uit eie vrye wil deur die wêreld wil laat beheers en geen ag wil slaan op die raad van God nie, is dit dan nie sy eie skuld as hy, omdat hy deur sy eie skuld niks wou weet van die hele orde van God nie, van die een ellende in die ander in moet val?!

8. Maar omdat dit nou egter al te erg onder die mense geword het en die lig hulle te veel ontbreek, het Ek nou nogmaals Self gekom as die ou Melgisédek, selfs in die vlees na julle toe, soos wat Ek dit reeds lank vantevore deur alle profete laat aankondig het.

9. Ek is nou hier om die mense weer opnuut op die weg van die ware lig en die lewe te help, en leer en doen tekens sodat julle sal glo dat Ek die Een is! - en julle glo dit nie, en gun dit ook nie vir die ander mense wat glo dat hulle daardeur salig en volkome geseënd sou word nie! Wie se skuld is dit dan as julle met julle blinde aanhang in die ellende bly? Ek waaragtig nie! En julle sal dit op julle eie rekening moet skryf as dit met julle later nog duisendmaal slegter sal gaan as nou!

10. Die Romein het julle die ware rede gegee waarom julle nie wil glo dat Ek die beloofde Messias is nie. Maar Ek sê vir julle nog één keer: Wie in My glo, sal die ewige lewe hê, en daar sal strome lewende water uit sy lendene vloei; wie egter nie glo nie, sal die ewige lewe nie in hom hê nie, maar slegs die wêreldse dood en alle oordeel! Maar Ek dring My daardeur aan niemand op nie, maar laat alles oor aan elkeen se vrye wil.

11. Omdat Ek egter vir die verlossing van alle mense in hierdie wêreld selfs in die vlees na julle toe gekom het, moet Ek julle tog laat weet dat Ek daar is, sodat julle nie weer kan sê dat niemand dit vir julle gesê het nie, en dat God die mense goed geskape het en hulle uit vroue laat gebore word, maar Hom dan gladnie meer oor hulle bekommer nie en hulle steeds maar laat versmag.

12. Ek is nou daar om alle mense te help, en stuur My engele uit na alle volke van die aarde om aan hulle te wys op die regte manier van voorligting gee. Wie hom daarvolgens sal rig, sal nie verlore gaan nie, ook al bevind hy hom hoe ver hiervandaan. Maar niemand sal daartoe gedwing word nie. Dit sê Ek nou vir julle, sodat julle kan weet dat Ek daar is en waarom. Maar julle kan doen wat julle wil.'

13. Die Fariseër sê nou vir sy metgeselle: 'Wat moet ons doen? Die Man praat geweldig, en baie glo in hom. Ons kan nie sê: 'Hy is Die Een!', - maar ook nie: 'Hy is dit nie!' Na my mening kan ons eers die Skrif beter nalees. As alles met hom ooreenstem, dan kan ons nie anders as om volledig in Hom te glo nie; stem alles egter nie met Hom ooreen nie, dan bly ons wat ons is! Wat dink julle daarvan?'

14. Die Skrifgeleerde sê: 'Dan sal ons baie moet doen; want die Skrif is lank en moeilik vir ons om te verstaan. Daar sal ons sonder meer min kan uithaal! Ek dink dat ons nog langer by Hom, en veral by Sy leerlinge moet bly, en met hulle bespreek wat hulle vanaf die begin alles van Hom gehoor en gesien het. En dit sal ons beslis `n beter bewys oor Hom gee as al ons onbegryplike boeke. Ek is nou al meer vir die geloof in Hom as vir die teendeel! Wat sê julle ander daarvan?'

15. Een van die ander wat meer geloof het, sê: 'Die geloof is geen probleem meer by my nie; maar hoe kom ons van die tempel af weg? Dit is `n heel ander vraag, wat vir ons eers moeiliker is om te beantwoord as al die ander!'

16. Daarop sê die Romein: 'As dit die enigste is waaroor julle vassit, dan dink ek dat dit baie vinnig verhelp kan word. Na my wete stuur die tempel altyd ervare priesters orals heen om ander vir die geloof te wen. As julle vir julle meerderes sal sê dat julle daarvoor deur my, Agricola, uitgenooi is, sal niemand beslis iets daarop teë hê nie, en hulle sal julle laat gaan. - Hoe vind julle dit?'

17. Toe sê die Skrifgeleerde: 'Dit klink goed, ons sal dit probeer. Maar as die hoëpriester nie daarop ingaan nie, wat dan?'

18. Die Romein sê: 'Dan vorder ek julle van hom af met my keiserlike volmag, en dan sal julle hoëpriester niks meer daarteen kan inbring nie!'

19. Daarmee was almal tevrede, - slegs die een Fariseër begin nog oor die honderd pond goud.

20. Die Romein sê egter: 'As julle my volg, skeld ek dit kwyt!'

21. Daarmee was almal tevrede en hulle gaan na die leerlinge, praat met hulle oor `n aantal sake en word daardeur nog gelowiger.

Hoofstuk 221 Mobiele weergawe Kommentaar