Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 222 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Rein en onrein voedsel

1. Terwyl die groep Fariseërs hulle met die leerlinge besig gehou het, praat Ek met Lasarus en sy herbergier oor baie gewone aardse dinge. Die talle aanwesige tollenaars, met hulle aanhang, luister egter aandagtig na alles wat Ek met Lasarus en sy herbergier bespreek en let goed daarop wat hulle by hulle landbou en hulle veeteelt goed kan gebruik.

2. Ek wys hulle op baie wortelvrugte wat hulle deur My omskrywing goed kan herken, verbou en daarna as voedsel kan berei. Ook vertel Ek hulle hoe hulle die vleis van varke, herte, reebokke, gemsbokke, gaselle, wilde en mak hase en `n aantal voëls kon voorberei om dit te kan eet , sonder dat dit skadelik vir hulle was. So vertel Ek hulle ook, hoe en wanneer mens die diere die maklikste kon vang en doodmaak en hoe mens die vleis daarvan dan gemarineerd en goed gerook vir langer tydperke kon bewaar om, indien nodig, daarvan te eet.

3. Dit hoor die Romeine ook, en ons Agricola kom van sy tafel af na My toe en sê: 'Heer en Leraar, ook van hierdie onderrig het ek alles gehoor en dit doen my baie genoeë dat U ons ook oor dergelike dinge inlig! Kyk, ons is gewoond om vir die misdadigers in die kerkers rivier seekreef te ete te gee! Hierdie diere word, wanneer hulle gevang kan word, in soutwater, waarby tiemie toegevoeg is, gekook. Wanneer hulle rooi word, is hulle voldoende gekook. As hulle so voorberei is, gee mens hulle vir die gevangenes om te eet. In die begin word hulle, soos wat mens weet, slegs deur erge honger genoodsaak om die voedsel te eet; maar na verloop van tyd smaak hierdie kos vir hulle baie goed, en hulle word tewens kerngesond, sien by die dag beter daaruit, en elkeen verheug hom uiteindelik oor die krewe. Hulle wat hulle straftyd agter die rug het, eet ook later bykans niks anders as kreef nie, as hulle dit tenminste kan kry. - Hoe vind U ons kos? Sou dit raadsaam wees as ander mense dit ook wil eet?'

4. Ek sê: 'Ja seker, - maar slegs in bepaalde maande wat aan julle bekend is, en dan moet hulle natuurlik vars en lewend wees! Die bereidingswyse is baie goed. Maar rivierkreef is beter as die uit die see.'

5. Daarmee was Agricola baie tevrede.

6. Sommige leerlinge sê toe onder mekaar: 'Kyk nou tog eens na ons Heer en Leraar! Oor sulke dinge het Hy vir lank niks meer gesê nie! Hoe is dit dan dat Hy dit nou sê?'

7. Maar ook die Fariseërs, wat met die oudste leerlinge oor My gepraat het, hoor wat Ek sê, skud hulle koppe en sê: 'Nou vertel Hy dinge wat in stryd is met die wet van Moses, en die Romeine bring niks daarteen in nie, terwyl Hy ons tog verwyt het dat ons die instellinge van Moses verwerp het en vervang het met die van ons! Weet Hy dan nie wat Moses voorgeskryf het nie, en dat die vleis van onrein diere die mense ook alreeds verontreinig as mens dit maar net aanraak? Wat het die voorbereiding daarmee te doen! Wat onrein is, bly ook by die beste voorbereiding onrein en verontreinig diegene wat dit eet! Ietwat vreemd van Hom dat hy so praat!'

8. Jakobus sê heimlik vir My: 'Heer, hoor U nie hoe die Fariseërs U prys nie? Sê tog iets terug!'

9. Ek sê: 'Wat maak dit aan My saak wat die blinde Fariseërs sê! Hulle is blinde leiers van blindes! As die een blinde egter die ander lei, val beide in die sloot en die een kan die ander nie help nie. Let daarom nie op wat hulle sê nie!'

10. Die Fariseërs het dit egter ook gehoor en hulle begin hulleself af te vra of Ek dit ook nou op hulle bedoel het, terwyl hulle tog gelowig geword het.

11. Maar Ek gaan staan en sê vir hulle: 'Ja, dit slaan ook op julle! Blinde dwase! Wat deur die mond na binne gaan en via die mond in die liggaam beland en langs die natuurlike weg weer die liggaam verlaat, verontreinig nie die mens nie; maar wat deur die mond uit die hart kom soos slegte gedagtes, slegte en onfatsoenlike praatjies, eerroof (laster), meineed, allerlei leuens, bedrog, nyd, gierigheid, ontug, hoerery en egbreuk en vraat- en swelgsug, dit verontreinig die hele mens, ook as hy rein spyse eet!

12. Slaan maar na in die Skrif, dan sal julle wel vind waarom Moses maar net die gebruik van suiwer en rein voedsel aanbeveel het! Dit het hy gedoen vanweë julle groot belustigheid vir vleis en vanweë julle buitensporige sinlikheid en geilheid. Ek sê egter nou, dat vir diegene wat in sy hart rein is, ook al die ander rein is, maar vir diegene wat in sy hart onrein is, alles onrein is.

13. Wat julle vir die noodsaaklike instandhouding van julle liggaam eet of drink, sal julle nóg salig nóg ooit onsalig maak nie, maar slegs wat julle glo en hoe julle handel! Glo julle verkeerde dinge, dan kan julle niks doen wat reg en werklik goed is nie; want dan is die waarheid nie in julle nie. Maar daardeur sal julle siel nie in die oordeel bly nie, want dan sou alle heidene verlore gewees het en daar is geen sprake daarvan nie! Maar as julle die waarheid gehoor het en ook verstaan het, en tog verkeerd handel, sal die waarheid julle oordeel, egter nie tot die lewe nie, maar tot die dood van julle siele! Want soos wat die lig die dood van die nag is, so is ook die waarheid die dood van die leuen en die onwaarheid. Maar noudat die dag van julle siel gekom het, waarom wil julle dan na die nag van die oordeel en van die dood terugkeer?!'

14. Die Skrifgeleerde sê: 'Heer, ek weet wel dat U die waarheid praat; maar U het ons tog verwyt dat ons die wette van Moses opgehef het en ander in die plek daarvan gestel het! En kyk, ons bestry dit nie, omdat dit werklik so is, maar as U nou alle Judeërs toelaat om ook die vleis van die onrein diere wat deur Moses genoem is, te eet, nadat hulle op `n bepaalde manier voorberei is, dan hef U ook immers op hierdie punt die wet van Moses op, net soos wat U dit ook nie altyd so streng gehou het, deur ook op die Sabbat siekes te genees nie! Want daar staan geskryf: 'Ses dae sal jy arbei, die sewende dag sal jy rus en aan JaHWeH God wy!' Met watter reg doen U dan so-iets self?'

15. Ek sê: 'As Ek Die Een is wie Ek is, wat in hierdie wêreld gekom het, dan doen Ek dit nou met presies dieselfde reg as waarmee die Vader, wat in My is, deur Moses in die woestyn vir julle Israeliete die wette gegee het. Ek hef egter, soos wat jy dink, beslis geen wet van Moses op nie, maar Ek Self vervul die wet in alle opsigte. Ek laat julle maar net julle onbegrip sien ten aansien van die beoordeling van die wette van die profeet. Julle hou julle by die letter, die dood, en kan die gees nie lewend maak nie. Ek openbaar egter nou aan julle die Gees wat alles lewend maak; hoe kan jy dan sê dat Ek die wet van Moses ophef?

16. Julle lettersifters voed wel die muggies met letters en daarvoor verslind julle kamele; want as julle dan so onwrikbaar letterlik aan die wette van Moses wil hou, hoe kan julle dan vir baie geld en ander offers aan ryk Judeërs vrystelling daarvan gee?!

17. Julle eet selfs op die Sabbat gesuurde brood, julle eet wilde voëls en gee ook nog aan julle apostels verlof om alles te eet wat die mense in `n bepaalde land eet. Dit gaan vir julle egter maar net oor die aardse voordeel, en dit maak nou juis dat julle die wet breek; Ek gee die mense egter nou uit suiwer liefde en medelye hierdie raad en verlang geen offers vir die vrystelling nie en hef daarom ook nie die wet van Moses op nie! Want as die mens, wanneer hy honger het, sy liggaam versadig met watter eetbare voedsel dan ook, sondig hy teen geen enkele wet van Moses nie. Maar as `n Israeliet suiwer uit smulpapery (vraatsug) en om sy verhemelte onnodig te streel, tot ergernis van sy medemense die vleis van onrein of verstikte diere eet, terwyl hy voldoende vleis van rein diere het, dan sondig hy omdat hy sy swak medemens daarmee vererg.

18. Hiermee sê Ek niks anders as: `n Mens kan, indien nodig, ook die vleis van al die diere wat deur My aangegee is, eet en hoef geen gewetensaak daarvan te maak nie; maar hy moet dit eers voorberei soos wat Ek juis nou vertel het, dan sal dit hom nie skaad nie! Maar bloed, veral van verstikte diere, moet niemand eet nie, omdat baie bose (besoedelde) geeste daarin verberg sit! Julle weet dit goed, en tog eet julle in die geheim die vleis van verstikte hoenders, kalwers en lammers, omdat dit vir julle beter smaak en julle daarvan bedwelmd en geil en uiteindelik heeltemal gevoelloos word.

19. Dink eers oor jouself na, oor wat jy doen, en daarna kan jy eers vir My sê of Ek die wet van Moses ophef! Hoe kan jy vir jou buurman sê: 'Kom, laat my die splinter uit jou oog haal!', terwyl daar in jou eie oog `n behoorlike balk sit?! Dwaas! Haal eers die balk uit jou eie oog en kyk dan eers wat jy aan die splinter in die oog van jou buurman kan doen! Laat elkeen eers sy eie straatjie vee en dan eers na sy buurman toe gaan en sê: 'Voor my deur is dit nou skoon, as jy wil, sal ek ook voor jou deur vee, sodat die verbygangers hulle nie aan ons vuilheid sal vererg nie."

Hoofstuk 222 Mobiele weergawe Kommentaar