Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 225 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Invloede van geeste en kontak met die ander kant. Selfstandigheid en wilsvryheid van die mens

1. Ek sê: 'Gepraat het jy nou wel en met die toespraak sou jy in `n skool van die Sadduseërs, Stoïsyne en Epikuriste baie opsien gebaar het; maar hier het jy net so geoordeel soos `n blinde oor die lig en die kleure, en soos `n dowe oor die harmonie van `n goedgestemde harp.

2. Nóg `n mens en nóg minder `n reeds oorlede gees kan jou die lewe van die siel laat sien en bewys. Dit moet jy in jouself vind; en dit is maar net moontlik deur die ware liefde tot God en deur die liefde tot die naaste.

3. Jy dink dat die terugkeer van `n reeds oorlede siel die geloof in die onsterflikheid van die siel en die geloof in God die meeste sou versterk, en Ek sê vir jou dat jou mening fundamenteel foutief is! Ten eerste het `n oorlede siel aan die ander kant vir haarself en hulle wat daar haar naaste is, meer as genoeg te doen, en in `n sekere sin nie so baie vrye tyd om meermale weer, in en uit die lug van die aarde in haar aangeskafde liggaam, by die aardse mense te verskyn en hulle te leer hoe dit aan die ander kant is en hoe dit daar uitsien nie, en ten tweede kan elke volmaakte gees sonder meer, sonder beperking van die vrye wil, baie goed op die mense inwerk, en so `n onsigbare inwerking is vir die mens baie heilsamer as die sigbaarheid en hoorbaarheid van `n oorlede gees. Want as `n goeie en al baie verligte gees goeie en edele gedagtes en gevoelens in jou hart lê, dan is dit al so goed asof jy dit self bedink het; sy verenig haar met jou lewe en spoor jou tot dade aan.

4. As `n gees egter, soos byvoorbeeld die van Moses, voor jou verskyn en vir jou sal sê: 'Dit en dat moet jy doen as jy tot die lewe wil ingaan; doen jy dit nie, dan val jy onder die oordeel van die almagtige God en dan is `n volledige gelukkige opstanding uit die dood van die oordeel baie moeilik!' dan sal jy volgens die vermaning bewe, en jou lewe lank niks anders durf doen as wat die gees van Moses jou beveel het nie.

5. In hoeverre is dit dan `n verdienste van jouself? Kyk, heeltemal niks nie; want die eie beterwete van jou vrye wil het jou nie beter laat handel nie, maar die mag van die gees wat na jou toe gekom het, en dit het vir jou siel bykans geen waarde nie! Dit is byna dieselfde as wanneer julle mense `n os of `n esel of ook `n ander dier vir `n bepaalde werk afrig. Sonder stok, spies of gesel sal niemand maklik iets met `n dier gedoen kan kry nie; maar as jy `n dier vir growwe veldwerk afgerig het, dan is dit maar net jou verdienste en nie die verdienste van die dier nie.

6. As Ek deur My almag sou wil dat geen mens ooit `n sonde sou begaan nie, dan sou geen mens ook ooit meer gesondig het nie; want hy sou hom geen tree buite My wil kon waag of beweeg nie, soos wat ook niemand sy liggaam anders kan vorm as wat dit deur die wil van God gevorm is nie, en ook sy liggaamlike lewe nie na willekeur sal kan verleng nie, omdat dit alles van die almagtige wil van God afhang. As God dit nie sou toestaan dat `n mens ooit `n sonde sou begaan nie, wie sou dan die verdienste gehad het van die sondevrye lewe van die mens wat alleen deur God se almag so gelei word, soos wat die groei van die bome en van alle ander vrugte gelei word en die wêrelde gelei en begelei word deur die eindelose ruimte? Tog sekerlik niemand anders as net God nie, omdat die mens in die geval slegs `n speelpop in die hande van God sou wees! Dit sou vir God baie makliker gewees het, soos wat dit vir Hom ook makliker is om die meeste verskillende diere met hulle veelsoortigste en seldsaamste eienskappe te skep en hulle dan te lei en elkeen op sy wyse besig te laat wees.

7. Maar die mense van hierdie aarde is voorbestem om vrye en volledige selfstandige kinders van God te word, en dus moet hulle ook so gelei word dat hulle noodsaaklike vrye wil daarby nie die geringste dwang mag ondergaan van die kant van `n sterker gees nie, maar moet slegs deur openbaring en lering en deur uiterlike wette sodanig gelei word dat hy uit homself die ware en goeie wat hy geleer word, met sy vrye wil aangryp en dit uit eie beweging gaan doen.

Hoofstuk 225 Mobiele weergawe Kommentaar