Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 226 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

11. Ek doen nou groot dinge voor julle oë en ore; maar julle self sal nog groter dinge doen in My Naam, wat die Liefde van God in julle harte is, waarsonder niemand iets effektief vir die ewige lewe kan doen nie, omdat die Liefde van God die eintlike, onverwoesbare lewe, sowel in God Self, as in elke uit God ontstaande wese is.

12. Maar al die eens aardse geskapenes vind as sodanig dan eers hulle einde, as hulle vervul word met die goddelike liefde en langsaam maar sekerlik oorgegaan het in die suiwer geestelike; en so sal ook hierdie aarde nie vir ewig bestaan nie, maar langsaam maar seker in die geestelike oorgaan. Maar volgens die tydsberekening van hierdie aarde sal dit vir julle huidige verstand nog baie lank duur totdat die vuur van die goddelike liefde alle materie in haar oorspronklike geestelike opgelos het.

13. Die oplossing van `n wêreld sal egter op gelyke wyse plaasvind soos waarop elke ander aardse wese opgelos word, waarby die uiterlike dood gaandeweg steeds meer intree en sigbaar word. As jy na `n boom kyk, sal jy sien dat hy langsaam maar sekerlik versiek. Hy word oud en verrot, slegs `n paar takke vertoon nog lewe, ander is vrot en vermolm en val met verloop van tyd van die stam af. Mettertyd word die stam ook gedeeltelik verrot en gaan dood, en dit gaan net so lank aan totdat die hele boom uiteindelik verrot, vermolm en op sigself dood is. Maar selfs as boom, wat op sigself reeds volkome dood is, bevat hy tog nog lewensgeeste; daarom sal julle, as hy deur die storm omgewaai in die bos lê, mos en ander kruidgewasse uit hom sien groei; ook sal allerlei wurms hom inwendig deurboor; en selfs `n groot aantal insekte knaag en teer solank op die vleis en murg van die gestorwe boom as wat daar nog iets aan sit, totdat daar miskien na honderde jare van die hele boom geen spoor meer te vinde is nie.

14. So, ook al is dit dan groot in omvang, sal dit ook gaan met `n sterwende en uiteindelik heeltemal gestorwe wêreld. Maar waar `n boom sterf, groei baie gou `n ander in sy plek. So vergaan daar dus ook `n wêreld, - maar dan kom daar een, en kom daar selfs `n aantal ander, in haar plek en neem die oorgeblewe lewensgeeste van die hele gestorwe en volledig tot niet gegane ou wêreld op om hulle verder te versorg en te ontwikkel. En kyk, so kom daar aan die eintlike skepping ewiglik geen einde nie, omdat God ook ewig nooit kan ophou om in Sy ewige onbegrensde Liefde en Wysheid te dink en te wil en lief te hê nie!

15. Ek dink dat dit nou wel vir elkeen heeltemal verstaanbaar moet wees! Vir hulle vir wie dit tog nog te onverstaanbaar mag wees, sê Ek nog bowendien: Dink jouself in as `n ewige jeugdige kragtige onsterflike en voortlewende op `n wêreld! Sal jy ooit ophou met dink en wil? Sal jy ooit heeltemal niks gaan doen nie, of sal jy jou nêrens meer wil geniet nie? Beslis nie, maar jy sal steeds meer gaan doen, ywerig besig wees en alles daarvoor gee om jou steeds meer en groot genoeë van die lewe te verskaf; want die liefde en die ware lewe van die liefde kan nooit rus nie, maar moet besig wees, omdat die lewe self niks anders is as om deurlopend besig te wees nie.

16. Laat niemand van julle daarom dink dat hy hom eenmaal aan die ander kant in `n ewige passiewe, soete rus sal bevind nie; want dit sou juis die ware dood wees vir die gees of die siel. Hoe geesteliker `n mens innerlik word, hoe aktiewer word hy ook, en dit deur en deur. As dit egter in hierdie wêreld al sigbaar en duidelik herkenbaar die geval is, hoeveel te meer sal dit dan aan die ander kant nie die geval wees nie, waar geen swaar liggaam die siel in haar besigwees sal belemmer nie! - Wel, sê nou of jy dit goed verstaan het!'

Hoofstuk 226 Mobiele weergawe Kommentaar