Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 229 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

God-Vader, God-Seun en God-Heilige Gees

1. Petrus sê: 'Toe U aan die Jordaan Uself deur Johannes laat doop het, het die hemele geopen, en die Gees van God het in die vorm van `n vurige duif bo U hoof gesweef, en uit die hemele het mense `n helder stem gehoor wat die volgende woorde uitgespreek het: 'Dit is My geliefde Seun in Wie Ek `n welbehae het, na Hom moet julle luister!' En ook by `n ander geleentheid het ek presies dieselfde woorde gehoor, waaroor ons eintlik tot op hede U nog nie so presies om nadere uitleg gevra het nie. Maar omdat U nou Self vir ons almal God nog duideliker wil laat ken, glo ek dat dit nou ook die oomblik sou wees om dit vir ons beter uit te lê, natuurlik as dit volgens U goddelike wil is.

2. Want tot nou toe is U vir ons maar net die waaragtige Seun van die Allerhoogste, soos wat ons selfs uit die mond van U liggaamlike moeder gehoor het, dat die aartsengel Gabriël aan haar verskyn het en haar aldus toegespreek het: 'Gegroet is jy, omdat jy barmhartigheid voor God gevind het! Die Heilige gees sal u oorskadu en u sal `n jong seun baar, wat u die Seun van die Allerhoogste sal noem!'

3. Kyk, Heer, dit en nog baie meer weet ons en ons kan nie ontken dat daar `n Allerhoogste God-Vader in die hemel is nie. U is Sy Seun, sonder enige twyfel, en `n Derde, beslis ook aan God, die Vader en U gelyk, is tog duidelik die Heilige Gees! - Het ons ongelyk as ons ons geloof hierop baseer?'

4. Ek sê: ‘Die oomblik het nog nie heeltemal gekom om dit volledig vir julle te ontsluier nie; maar dit sal ook nie lank op hom laat wag nie. Maar Ek het julle immers tog al op verskillende kere gesê, toe julle My gevra het om die Vader te sien: Wie My sien, sien ook die Vader; want Ek en die Vader is volledig één. Die Vader is in My en Ek insgelyks in die Vader. - Hoe het julle dit dan verstaan?'

5. Petrus sê: 'Ons verstaan dit so, en dit geld vir ons almal: U is altyd deurdring van die volledige Krag van die Vader in soverre U dit hier maar nodig het op hierdie aarde, en so bevind die ewige en oneindige Vader Homself ook in U. U is Sy volledige ewebeeld. Omdat die Vader dus as die oneindige, ewige en alomteenwoordige God ook in U is en U sekerlik in die besonder omgeef, daarom moet U ook in die Vader wees!'

6. Ek sê: 'Goed, - en hoe staan dit dan met die Heilige Gees? Wat dink julle dan van hom?'

7. Petrus sê: 'Heer, daarvan verstaan ons almal niks nie, hoewel U Self sê dat `n mens alle sonde vergewe kan word, maar nooit `n sonde teen die Heilige Gees nie! U is egter kennelik nie die Heilige Gees nie, omdat U sê dat sonde teen die Seun vergewe kan word. Die Vader is dit ook nie, omdat ook sonde teen die Vader, nog eerder vergewe sou kon word. Wel, wie en wat is die Heilige Gees dan? Ons het hom in die vorm van `n vurige duif gesien. Is hy nou die derde goddelike persoonlikheid wat aan alle mense vanaf Adam verborge gehou was, of is hy één met die Vader of één met U? Hy kan tog nie meer gewyd wees as die Vader en U nie? En tog sê U, dat sonde teen die Heilige Gees nooit as te nimmer vergewe kan word nie! Hy moet dus op nog `n wyse, wat heeltemal aan ons onbekend is, beslis die Mees Heilige van alle hemele wees.

8. Daaruit sien U, dat selfs ons oudleerlinge, nog baie ontbreek aan suiwer kennis van God, en daarom het ook ons alle rede om ons daaroor te verheug as U ook aan ons God nog suiwerder sal laat ken.

9. By Moses staan dit baie streng: Ek, JaHWeH, is slegs Eén, en julle enige God! Jy sal vir jouself geen vreemde gode naas My maak en bedink nie! - En volgens ons beperkte begrippe het ons nou drie daar, en tog moet ons slegs aan één God glo! O Heer, daaroor sou `n ietwat beter en duideliker uitleg ons baie help; want dit is nog geensins vir ons heeltemal duidelik nie!'

10. Ek sê: 'Slegs aan Eén Enige, omdat daar van ewigheid nooit meer was nie en ook ewig nooit meer sal wees nie!

11. Julle geheue is bepaald nie julle sterkste punt nie, dat julle My nou iets kon vra wat Ek tog al by geskikte geleenthede dikwels genoeg uitgelê het, - en tog is die hoofsaak vir julle nog steeds onduidelik; want toe Ek vroeër gesê het dat die volmaakte kennis van God die hoofsaak van die lewe is, omdat by die ontbreking daarvan, daar geen egte lewe is nie, maar dat dit slegs `n verwarde masjienagtige lewe is, toe het Ek julle kort daarna uitgelê wat en wie God is, - maar julle geheue is swak en kort!'

12. Die leerlinge sê: 'Heer, versterk ons geheue!'

13. Ek sê: 'Sê liewer: 'Heer, versterk ons liggaam en ons wil!', want die sterkte van die geheue hang altyd af van die sterkte van die wil. Julle siel is weliswaar baie gewillig, maar julle vlees is swak, en daardeur ook julle geheue, wat eers later sterker sal word wanneer Ek die Heilige Gees oor julle sal stuur. - Maar let dan nou goed op, en wel met gespanne aandag!'

Hoofstuk 229 Mobiele weergawe Kommentaar