Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 231 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Die oneindigheid en alomteenwoordigheid van God en Jesus. Die verskyning by die doop van die Heer

1. (Die leerlinge:) 'Maar daar bly nou nog `n vraag oor, en dan sal ons taamlik goed op hoogte wees!

2. Kyk, Heer, God is naas al Sy eienskappe egter ook oneindig en daardeur alomteenwoordig! Hoe is dit dan by U moontlik, terwyl U Uself, tog net soos ons, binne één noukeurige begrensde persoon liggaamlik by ons bevind?'

3. Ek sê: 'Kyk, beste oudleerlinge van My, dit is alweer `n ou denkfout van julle! Weet julle nie meer dat julle vir My, toe ons van Samaria na Galilea gegaan het, bykans dieselfde vraag daar gestel het nie? En het Ek julle nie deur `n teken aan die son bewys dat Ek deur My wil ook op die son, net soos op aarde, op gelyke wyse aanwesig is nie?! En nou vra julle My alweer bykans presies dieselfde vraag! Ook het Ek julle dieselfde laat sien by Césarea Philippi, by die herbergier Matthéüs in Kapernaum toe Ek die baie diep versonke gat oombliklik opgevul het, en in Chotinodara met die afgodemeer, en nog steeds verstaan julle nie die geheim van die ryk van God nie en nog minder die geheim van God?!

4. Is My Ewige Liefde, wat deurgloei van haar vlammelig, wat die Wysheid van God is - dan nie die deurstralende wil wat juis vir julle so `n onbegryplike Heilige Gees is nie, wat ewig onophoudelik van My uit die hele oneindigheid vervul word nie?! En deur die 'EK IS' en dus ook deur My ‘IS’ en bestaan, is Ek orals teenwoordig soos wat Ek nou in My eintlike wese persoonlik by julle aanwesig is. My oudleerlinge en broers, dit het Ek julle al baie kere duidelik laat sien, en julle het dit tog vergeet; maar julle sal dit die keer miskien wel onthou?!

5. Ek sal egter nie altyd so met My hele oerwese by julle bly nie, en tog sal Ek as die Dieselfde by julle bly, dit wil sê by almal wat getrou volgens My woorde sal handel en lewe, en wel tot aan die einde van die tye van hierdie aarde!

6. Want Ek sal nou ook, wanneer die tyd sal kom, die menslike deur baie lyding en baie groot vernederings nog op hierdie wêreld heeltemal in My oergoddelike verander en daarna opvaar na My God wat in My is en na julle God wat nou by julle is en julle dit leer met Sy Mond.'

7. Ander sê: 'Heer, dan sou dit vir ons tog beter gewees het dat U ewig so by ons bly; want waar U is, o Heer, daar is ook al die hoogste hemel, en ons verlang ewiglik geen beter een nie'

8. Ek sê: 'Dit sê nie julle gees nie, maar julle liggaam, waarin julle siel nog baie diep begrawe lê!

9. Omdat die suiwer geestelike lewe van die siel in My ryk vir julle nog volkome vreemd is, sou julle natuurlik graag liewer dadelik maar ewig hier wil lewe; maar as julle geweet het dat julle in één oomblik in My ryk meer en onbeskryflike groot salighede sal beleef as in `n duisend jaar met `n gesonde liggaam op hierdie aarde, dan sou julle nie so gepraat het nie. Julle, My oudleerlinge, het Ek wel al menige voorproewe gegee, - maar omdat julle geheue altyd en ewig kort is, weet julle nie meer daarvan nie. Maar Ek sal julle in die opsig geen nuwe bewyse gee nie; want wanneer My Gees te eniger tyd oor julle sal kom, sal Die julle alle wysheid meedeel!'

10. Toe sê Thomas, wat nog steeds die mees ongelowigste was, skielik: 'Heer, waarom het ons dan die Heilige Gees in die vorm van `n vurige duif gesien, en waarom het ons die stem van die Vader uit die geopende hemel gehoor?'

11. Ek sê: 'Ek het goed geweet dat jy ook nog met `n vraag sou kom, en Ek neem jou ook nie heeltemal kwalik nie; want jy hoort ook by hulle wat selde of byna nooit iets vra nie.

12. Kyk, die beeld van die duif beteken vir julle beperkte sintuie ten eerste die groot sagmoedigheid en ten tweede die groot vliegbekwaamheid van My Wil, wat die eintlike Heilige Gees is; want waar Ek met My Wil iets tot stand wil bring, daar is Ek ook al tot in die eindelose verte aanwesig en bring Ek iets tot stand.

13. Wat die stem betref wat van bo uit die hemele blyk te gekom het, dit het ook maar net My Gees gedoen, wat uit My gekom het en Sy hele vervullende liefde, wat alom met My Wil net soos in My, so innig verbonde is. Dat die stem uit die hemele blyk te gekom het, moes vir julle aantoon en leer dat al die ware en goddelik-goeie eers van bo kom, soos wat ook die mens in sy hart dan eers goed word, sodra die mensehart vanuit die verligte verstand deur God verlig en daardeur werklik veredel word.

14. Eers as die hart eenmaal verlig is en in die ware liefde ontvlam, word dit heeltemal lig en lewend in die mens. Dan gaan jou liefde ook praat en sal jy sê: 'Die lig in my is my liewe seun, in wie ek `n welbehae het, na hom - dit wil sê, na al my verlange, begeertes en hartstogte – moet jy luister!' - Nou My leerling, wat dink jy daarvan? Is dit so of nie?'

15. Die leerling sê: 'O, hoe sou dit anders kan wees? In U, o Heer, is die hoogste Liefde en Wysheid! U kan ons immers alles baie duidelik uitlê; maar dit sou tog nie so baie verkeerd wees as ook ander gelowiges dit net so vinnig sal verstaan soos ons nie?!'

16. Ek sê: 'Hulle vir wie dit vooraf nodig is om hierdie groot geheime beter te verstaan, het Ek nou hierdie uitleg van die geheim van God gegee. Hoe sal die ander, wat nog nie eens iets verstaan van die aardse sake en dinge van hierdie wêreld nie, sulke diep geestelike dinge kan verstaan en begryp?

17. Vir kinders is daar ander voedsel as vir ryp manne. Hoe wil jy aan iemand iets wat dieper geestelik is, verstaanbaar maak, as hy die aarde wat hom dra en voed, nie heeltemal ken nie, en nog minder besef wat die sterrehemel alles omvat en bevat nie? Maar Ek het alles vir julle geleer, sodat julle julleself veral `n lewendige begrip van die grootte en van die wyse orde van God kan vorm, en daarom kon julle die hoër en suiwer geestelike ook makliker verstaan; die ander wat hier is, het al baie in die wêreld beleef, en het daardeur `n basis om ook iets hoërs te verstaan, waartoe hulle groot liefde tot My hulle egter die meeste geskik maak. En so is nou aan almal wat daarvoor geskik was, die groot en diepe geheim deur My uitgelê; al die ander moet wag totdat hulle geskik is om dit van My Gees te ontvang.'

Hoofstuk 231 Mobiele weergawe Kommentaar