Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 241 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

Lasarus wil die sondaars help

1. Maar toe sê die Fariseërs en Skrifgeleerdes, wat in die geheim nie baie met die uitleg oor die hel tevrede was nie: 'Ag, daaroor is ons gladnie bekommerd nie en ons laat dit aan Sy goedheid en wysheid oor. Ons het immers gemopper omdat Hy soveel sondaars en tollenaars aanneem, wat tog ook egter geen hemelse geeste was nie, dus sal Hy ook wel vir geeste wat reeds werklik hels is, `n uitweg hê! Want in Sy wysheid sal nog baie verborge lê wat Hy nie aan ons sal openbaar nie. Wat ons nodig het, sal Hy aan ons openbaar; wat ons egter beslis nie nodig het nie, daaroor moet ons onsself ook nie bekommer nie. As `n duiwel uit eie wil so blind en dom is en as hy geen lig wil aanneem nie, - wel, laat hom dan in ewigheid `n duiwel bly! As hy voortdurend die geleentheid het om homself te verbeter, en as dit hom nie aan begrip en verstand en ook nie aan die wil daarvoor ontbreek nie, maar as hy tog die goeie en ware nie wil nie en dit in `n sekere sin `n eer vind om teen die wil van God in te gaan, wel, laat die nar dit dan doen solank dit hom waarskynlik genot verskaf, en God en alle salige gewydes sal niks daarby verloor nie! - So is dit ons baie nugter mening.'

2. Lasarus sê: 'Ja, ja, julle mening is volkome korrek, en die Romeine het ook heeltemal gelyk as hulle sê: 'Aan hom wat dit self wil, geskied geen onreg nie!', maar ek sê: Die droë wêreldse regsfilosofie praat maar net so. Maar as ek `n mens sien wat hom uit vertwyfeling van die lewe wil beroof, of ek sien egter `n onervare mens wat giftige bessies versamel om te eet, dan is dit tog nie net my menslike plig om hom te verhinder om te doen wat hy hom voorgeneem het nie, maar ook om hom baie ernstig daarvan af te raai en hom te vertel watter gevolge dit vir hom kan hê.

3. Natuurlik, as ek nie weet of sien dat daar êrens vir `n mens deur sy handelwyse gevaar dreig nie, dan het ek ook geen gevoel vir hom en kan ek hom ook nie help nie; maar as ek dit sien, weet en voel, dan mag ek `n mens, al is hy hoe dom en eiesinnig, nie deur sy eie wil aan sy ondergang prysgee nie, en dit kan `n voelende hart nie onverskillig laat of daar tussen duisend mense nege-honderd nege-en-negentig verlore gaan of nie. En ek kan daarom slegs al diegene prys wat hartseer en treurig word as hulle besef dat daar so ontsettend baie is wat so goed as vir ewig verlore is, en ek vind dit nou ook baie natuurlik dat hierdie edel voelende mense hulle op die wyse vir die Heer uitgespreek het. Want van Hom kan mens tog wel met die volste vertroue verwag, dat Hy ons in die opsig `n korrekte verklaring, ook al is dit deur een of ander beeld, sal gee. - Heer, het ek reg geoordeel of nie?'

Hoofstuk 241 Mobiele weergawe Kommentaar