Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 242 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 6

8. En so gaan die seun op die pad en reis na sy vader. Op `n groot afstand sien die vader die seun al aankom, en hy kry medelye met hom. Daarom loop hy hom met oop arms tegemoet, val hom om die hals en kus hom. Die seun sê egter vir hom: 'Vader, ek het in die hemel en voor u gesondig; ek is in die vervolg nie meer werd dat ek u seun genoem word nie!' Maar die vader sê vir sy knegte: 'Bring dadelik die beste gewaad en trek dit vir hom aan, en gee hom `n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! En bring `n gemeste kalf, slag dit en laat ons eet en vrolik wees! Want hy, my seun, was dood en het weer lewend geword, hy was verlore en is gevind! Laat ons nou dus sing en vrolik wees!'

9. Maar die oudste seun was op die veld, en toe hy na die huis terug kom, hoor hy `n gesing en gedans. En hy roep een van die knegte na hom toe en vra hom wat dit was. Die kneg sê vir hom: 'U broer het gekom, en u vader het vir hom `n gemeste kalf geslag omdat hy sy verlore seun weer gesond terug het.' Toe word die oudste seun kwaad en wou nie na binne gaan nie. Die vader gaan egter na buite en vra hom dringend. Maar die oudste seun sê vir sy vader: 'Kyk, ek dien u soveel jaar en het nooit u gebod oortree nie, en u het my nooit ook maar `n bok gegee om daarmee met my vriende `n slag fees te vier nie! Maar noudat hierdie seun van u gekom het, wat sy besit met hoere deurgebring het, nou het u vir hom `n gemeste kalf geslag!'- 'My seun, jy is altyd by my', praat die vader, 'en alles wat myne is, is ook joune! Daarom moet jy nou ook vrolik wees, want hierdie broer van jou was dood en is weer lewend, en hy was verlore en is teruggevind!' Toe gaan die oudste broer ook na binne en was baie bly oor sy jongste broer. (Lukas l5:11-32)

10. Kyk, hierdie beelde sê vir julle alles wat diegene nodig het wat met hulle liefhebbende hart na die Vader in die hemel kyk; hy wat egter maar net wys is, voel nie die groot behoefte van die liefde in die Vader nie.

11. Dawid, die man na God se hart, het ook twee seuns gehad wat hy besonder liefgehad het. Wat sou Dawid, ondanks die feit dat Absalom hom vervolg het en hom met alle middele wou oorwin, nie wou gegee het aan hulle wat aan hom sy baie geliefde seun lewend sou teruggebring het nie! Salomo was wel die wysheid self en steeds by Dawid, maar Dawid se liefde en toegeneentheid het na Absalom uitgegaan.

Hoofstuk 242 Mobiele weergawe Kommentaar