Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 1 Die Geestelike Son, Boek 1

16. Sodat julle hierdie dinge egter steeds duideliker sal begryp, sal Ek julle weer, deur enkele voorbeelde, `n helder insig verskaf. Neem net `n klein stafie edelmetaal. As julle dit in ruwe toestand bekyk, dan is dit donker en ru. As jy dit egter slyp en daarna mooi poleer, sal dit heel anders daaruit sien as voorheen en tog is dit nog steeds dieselfde stafie. Wat is dan wel die eintlike rede van die verfraaiing van dié stafie? Ek sê vir julle, baie eenvoudig. Deur die slyp en poleer is die dele aan die oppervlakte van die stafie digter op mekaar gedruk en in `n sekere sin met mekaar verbind. Daardeur word dit ook meer konkreet en onderling hegter samehangend en in sekere sin ook, om dit maar eers so te sê, volkome eensgesind. In die vroeëre ruwe toestand, wat nog `n losser eenheid was, staan die deeltjies as`t ware vyandig teenoor mekaar. Elke los deeltjie woeker vir homself met die voedende strale van die lig, neem soveel daarvan op as wat hy maar kan, en laat vir sy buurman niks oor nie. In die gepoleerde toestand, wat `n gelouterde of gesuiwerde genoem kan word, gryp hierdie deeltjies inmekaar. Deur dié inmekaargryp word die daarop vallende ligstrale gemenegoed, omdat geen enkele deeltjie dit nou nog vir homself wil hou nie, maar selfs die kleinste bietjie lig reeds met sy bure deel. Wat is die gevolg daarvan? Almal het nou lig in oorvloed, sodat hulle by verre na nie in staat is om die rykdom op te neem nie. Die oorvloed van die nou algemene stralerykdom straal dan as `n pragtige harmonieuse glans terug van die hele oppervlak van die gepoleerde goudstafie.

17. Vermoed julle al `n bietjie waar hierdie prag vandaan kom? Van die eensgesindheid of wel van die eenwording. As die geestelike bygevolg volmaak is en in homself eensgesind, hoeveel groter moet die prag van die geestelike dan wel wees as die van sy liggaam, wat slegs uit deeltjies of stukkies bestaan en juis daardeur ook selfsugtig, vol eiebelang en dus dood is!

18. Laat ons `n ander voorbeeld neem. Julle het sekerlik al eens ruwe kieselklip (silikaklip) gesien, waaruit glas vervaardig word. Laat so `n ruwe kiesel, netsoos sy afstammeling, die glas, die strale ongehinderd deur? O nee, dit weet julle baie goed. Waarom laat so `n ruwe kieselsteen die strale nie deur nie? Omdat sy dele nog te veel geskei en veels te min eensgesind is. As die strale op hom val, verteer elkeen van sy deeltjies die strale vir homself en laat wel heeltemal niks of hoogstens in sekere sin die afval van die opgeneemde strale vir sy uiteindelike buurman oor. Maar hoe gebeur dit dan dat sy afstammeling, die glas, so vrygewig word? Kyk, die kiesel word eers stukkend geslaan en fyn gemaak. Daardeur moet elke deeltjie in `n sekere sin vir die ander sterf, of moet hom volledig van die ander losmaak. Daarna word sulke kieselpoeier gewas. Is dit gewas, dan word dit gedroog, met sout vermeng en kom dit in die smeltkroes, waar die afsonderlike stofdeeltjes deur die sout en die korrekte temperatuur van die vuur onderling volkome verenig word.

19. Wat wil dié werk met ander woorde sê? Die selfsugtige geeste word in `n sekere sin deur die materie vermorsel, sodat hulle volkome vanmekaar geskei is. In hierdie geskeide toestand word hulle dan gewas of beter gesê, gesuiwer. Is hulle gesuiwer, dan word hulle eers gedroog, `n toestand wat ooreenkom met sekerheid. In so `n toestand word hulle eers met die sout van die wysheid gesout, en ten slotte, so voorbereid, in die vuur van My liefde verenig. Begryp julle dié voorbeeld? Julle begryp dit nog nie heeltemal nie. Wel, Ek sal dit vir julle nog nader toelig.

20. Die uiterlike materiële wêreld in al haar dele is (stem ooreen met) die ruwe kiesel. Die opdeling daarvan is die vorm gee aan die verskillende wesens. Die was van die kieselstof is die suiwering of trapsgewyse opstyging tot hoër potensies van die geeste in die materie. Die droging beteken die vrymaking of die veilig stel van die geeste in `n eenheid, wat al by die mens tot uitdrukking kom. Die souting is die gee van die barmhartigheidslig aan die gees in die mens. Die uiteindelike samesmelting deur die hitte van die vuur in die smeltkroes is die eenwording van die geeste, onder mekaar, sowel as met die vuur van My liefde. Want soos die materie in die smeltkroes nie kan saamsmelt, voordat hulle nie dieselfde warmtegraad as die van die vuur in hulleself opgeneem het nie, kan ook die geeste onderling nie vooraf eensgesind en dus vir ewig verdraagsaam word, voordat hulle deur My liefde of wel deur Myself, volkome deurdring word nie. So staan daar ook in die Skrif: “Wees volmaak soos u Vader in die hemel volmaak is” (Matthéus 5:48). En wederom staan daar: “Sodat julle een kan word soos wat Ek en U een is” (Johannes 17). Kyk, hieruit sal die voorbeeld tog sekerlik duidelik word.

21. Waardeur kom die eenwording van die glas egter vervolgens tot uitdrukking? Deurdat alle dele nou die straal van die son op een en dieselfde manier opneem en deur en deur verlig word, dus heeltemal van lig versadig is. Tog kan hulle die opgeneemde lig geheel ongehinderd deur hulle heen laat gaan. Kyk, so leer die vensterglas julle reeds, hoe die hemelse verhoudings geaard is en tewens leer dit julle ook om die geestelike son op `n beduidende hoër trap te beskou. Ons sal ons egter nog nie met dié voorbeeld tevrede stel nie, maar by `n volgende geleentheid nog enkele dinge aanhaal, waardeur ons dan op die maklikste manier heeltemal tot die geestelike son self kan opstyg om onuitspreeklike heerlikhede daar te aanskou!

Hoofstuk 1 Mobiele weergawe Kommentaar