Hoofstuk 1 | Die Geestelike Son, Boek 1 |
18. Laat ons `n ander voorbeeld neem. Julle het sekerlik al eens ruwe kieselklip (silikaklip) gesien, waaruit glas vervaardig word. Laat so `n ruwe kiesel, netsoos sy afstammeling, die glas, die strale ongehinderd deur? O nee, dit weet julle baie goed. Waarom laat so `n ruwe kieselsteen die strale nie deur nie? Omdat sy dele nog te veel geskei en veels te min eensgesind is. As die strale op hom val, verteer elkeen van sy deeltjies die strale vir homself en laat wel heeltemal niks of hoogstens in sekere sin die afval van die opgeneemde strale vir sy uiteindelike buurman oor. Maar hoe gebeur dit dan dat sy afstammeling, die glas, so vrygewig word? Kyk, die kiesel word eers stukkend geslaan en fyn gemaak. Daardeur moet elke deeltjie in `n sekere sin vir die ander sterf, of moet hom volledig van die ander losmaak. Daarna word sulke kieselpoeier gewas. Is dit gewas, dan word dit gedroog, met sout vermeng en kom dit in die smeltkroes, waar die afsonderlike stofdeeltjes deur die sout en die korrekte temperatuur van die vuur onderling volkome verenig word. 19. Wat wil dié werk met ander woorde sê? Die selfsugtige geeste word in `n sekere sin deur die materie vermorsel, sodat hulle volkome vanmekaar geskei is. In hierdie geskeide toestand word hulle dan gewas of beter gesê, gesuiwer. Is hulle gesuiwer, dan word hulle eers gedroog, `n toestand wat ooreenkom met sekerheid. In so `n toestand word hulle eers met die sout van die wysheid gesout, en ten slotte, so voorbereid, in die vuur van My liefde verenig. Begryp julle dié voorbeeld? Julle begryp dit nog nie heeltemal nie. Wel, Ek sal dit vir julle nog nader toelig. 20. Die uiterlike materiële wêreld in al haar dele is (stem ooreen met) die ruwe kiesel. Die opdeling daarvan is die vorm gee aan die verskillende wesens. Die was van die kieselstof is die suiwering of trapsgewyse opstyging tot hoër potensies van die geeste in die materie. Die droging beteken die vrymaking of die veilig stel van die geeste in `n eenheid, wat al by die mens tot uitdrukking kom. Die souting is die gee van die barmhartigheidslig aan die gees in die mens. Die uiteindelike samesmelting deur die hitte van die vuur in die smeltkroes is die eenwording van die geeste, onder mekaar, sowel as met die vuur van My liefde. Want soos die materie in die smeltkroes nie kan saamsmelt, voordat hulle nie dieselfde warmtegraad as die van die vuur in hulleself opgeneem het nie, kan ook die geeste onderling nie vooraf eensgesind en dus vir ewig verdraagsaam word, voordat hulle deur My liefde of wel deur Myself, volkome deurdring word nie. So staan daar ook in die Skrif: “Wees volmaak soos u Vader in die hemel volmaak is” (Matthéus 5:48). En wederom staan daar: “Sodat julle een kan word soos wat Ek en U een is” (Johannes 17). Kyk, hieruit sal die voorbeeld tog sekerlik duidelik word. |
Hoofstuk 1 | Mobiele weergawe Kommentaar |