Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 2 Die Geestelike Son, Boek 1

Die hele natuur, `n evangelie van God se ordening

1. Nadat Ek dit al so menigmaal vir julle gesê het, sê Ek dit nogeens opnuut vir julle: “Die hele natuur en ook elke uiteindelike daad, van diere sowel as, heel in die besonder, van mense, kan `n evangelie aan hom, en deur sy verhoudings die wonderbaarlikste dinge van My ewige ordening toon en openbaar. Ja, mens hoef volstrek nie die een of ander vir `n vergelykende voorbeeld te soek nie. Julle kan `n willekeurige voor die hand liggende, nog so onbeduidende ding neem, die sal sekerlik daardie evangelie in hom dra wat ter verheldering van watter geestelike toestand dan ook so volkome deugdelik is, asof dit van ewigheid af uitsluitlik vir dié doel geskape was. Ek het dus gesê dat ons nog enkele voorbeelde nodig het om daardeur volledig tot die geestelike son te kan opstyg. Daarom wil ons ook nie kieskeurig wees nie, maar die eerste en beste voorbeeld neem.

2. Stel `n woonhuis vir jou voor. Waarvan word dit eintlik gebou? Soos julle weet, gewoonlik uit heel ruwe, vormlose brokke materie. Hierdie materie kom in hierdie, as`t ware selfsugtig op homself staande, toestand oral voor. Dit is die klei waarvan die bakstene gemaak word, netsoos `n bepaalde soort klip waaruit kalk gebrand word, vervolgens sand en nog onbewerkte hout. Ons bring nou die ruwe materiaal op die een of ander terrein bymekaar. Hier lê `n hoop klei, daar `n hoop kalksteen, verder `n chaotiese hoeveelheid bome, wat egter nog nie bewerk is nie, en nog `n groot hoop sand. `n Bietjie verderop bevind hom `n kleiner hoop ru ystererts, weer `n bietjie verderop `n hoop kieselstene, en nie ver daarvandaan nie, `n groot plas water. Kyk, daar het ons genoegsaam ruwe materiaal vir `n huis bymekaar. Maar sê net, wie van julle is so skerpsiende dat hy in al hierdie ruwe hope materie `n goedgeordende, statige huis kan sien? Dit alles lyk tog netso min soos `n huis, as wat `n vlieg soos `n olifant of soos `n vuis op `n mens se oog lyk. En tog is dit alles bestem vir die bou van `n statige huis.

3. Wat moet nou daar gebeur? Steenbakkers gaan met die klei aan die werk. Die los klei word natgemaak en dan flink geknie. As dit flink geheg en taai genoeg is, dan word dit tot die welbekende stene gevorm. Sodat die kleideeltjies in die stene hulle nog inniger en duursamer met mekaar kan verbind, word elke steen nog in die vuur gebak, waardeur hy met die verkryging van die groter stewigheid gewoonlik ook die welbekende kleur kry. Wat gebeur nou met die kalksteen? Kyk, daar verder op word al verskeie oonde gebou waarin die kalksteen gebrand word. Wat daar met die gebrande kalk gebeur, weet julle tog seker goed? Laat ons verder kyk. Timmermans ontferm hulle oor die boomstamme en bewerk hulle ten behoewe van die bou. Die smede raak met die hoop erts besig, smelt dit, haal die bruikbare yster daaruit en bewerk dit tot allerlei benodigdhede vir die bou. Verder sien julle hoe ander die kieselstene fynstamp en maal en op die reeds bekende wyse tot suiwer glas verwerk.

4. Nou het ons die ruwe materiaal in die omgewing alreeds gekultiveer. Daar kom die boumeester ook al en lê sy bouplan uit. Die grond word uitgegrawe, die messelaars en hulle handlangers is druk besig en ons sien hoe die ruwe materie onder die hande van die bouers die vorm aanneem van `n geordende gebou. Langsamerhand groei die statige huis bo die grond uit en bereik die voorafbepaalde hoogte. Nou spring die timmermans aan die werk en binne `n kort tydjie is die gebou volledig van dakbedekking voorsien. By hierdie geleentheid het ons vroeëre hope ru materiaal ook totaal verdwyn. Ons sien nog net `n deel van die sand en `n deel van die gebluste kalk, maar daar word nou begin met die sogenaamde pleisterwerk en die afwerking van die huis. Hiermee verdwyn ook nog die twee laastes van die materiaal. Kyk, die huis is nou heeltemal afgewerk, van buite, sowel as van binne. Nou kom daar nog `n aantal ambagsmanne vir die kleiner werk: `n Timmerman, `n slotmaker, dan nog `n verwer, `n oondbouer en nog iemand wat die vloere lê. Hierdie ambagsmanne is nog `n ruk besig en dan staan die huis daar en dwing as te ware eerbied af.

5. As julle nou net julle gevoelens vergelyk, te begin by die sien van die ruwe materiaal, tot by die voltooiing van die statige gebou, dan sal julle tog sekerlik `n baie groot verskil daarin ontdek. Waardeur word die verskil egter teweeggebring? Ek sê vir julle: Deur niks anders as deur die doelmatige en goeie ordening en die eenword van die geskeide ruwe materie tot `n geheel. Toe julle aanvanklik tussen die hope ruwe materie rondgeloop het, was dit vir julle onbehaaglik in julle gemoed en julle gevoelens het chaoties deurmekaar gewoel. Toe julle gesien het dat die ruwe materie deur die vuur en deur die werktuie van die timmermans meer georden en bruikbaar gemaak was, het julle al behaagliker gevoel, want julle het nou reeds die moontlikheid gesien dat daar `n huis uit sulke geordende materie kan ontstaan. Maar nog steeds kon julle vir julleself geen volledige voorstelling van die huis maak nie.”

6. Toe julle die boumeester die bouplan sien uitlê, voel julle in `n sekere sin al aangenaam verras, want julle kon toe al sê: "Haai, kyk net, dit word `n manjifieke gebou!" Maar toe julle dit gesien het, nadat dit, op die afwerking na, voltooi was, het julle na die voltooiing daarvan verlang. En toe die gebou heeltemal klaar was, bekyk julle dit met groot genoeë en toe julle in die mooi en sierlike vertrekke van die huis rondgelei was, was julle hoogs verbaas en gesê: Wie het gedink dat so-iets uit die voorheen nog heeltemal ruwe materie kon ontstaan?

Hoofstuk 2 Mobiele weergawe Kommentaar