Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 2 Die Geestelike Son, Boek 1

3. Wat moet nou daar gebeur? Steenbakkers gaan met die klei aan die werk. Die los klei word natgemaak en dan flink geknie. As dit flink geheg en taai genoeg is, dan word dit tot die welbekende stene gevorm. Sodat die kleideeltjies in die stene hulle nog inniger en duursamer met mekaar kan verbind, word elke steen nog in die vuur gebak, waardeur hy met die verkryging van die groter stewigheid gewoonlik ook die welbekende kleur kry. Wat gebeur nou met die kalksteen? Kyk, daar verder op word al verskeie oonde gebou waarin die kalksteen gebrand word. Wat daar met die gebrande kalk gebeur, weet julle tog seker goed? Laat ons verder kyk. Timmermans ontferm hulle oor die boomstamme en bewerk hulle ten behoewe van die bou. Die smede raak met die hoop erts besig, smelt dit, haal die bruikbare yster daaruit en bewerk dit tot allerlei benodigdhede vir die bou. Verder sien julle hoe ander die kieselstene fynstamp en maal en op die reeds bekende wyse tot suiwer glas verwerk.

4. Nou het ons die ruwe materiaal in die omgewing alreeds gekultiveer. Daar kom die boumeester ook al en lê sy bouplan uit. Die grond word uitgegrawe, die messelaars en hulle handlangers is druk besig en ons sien hoe die ruwe materie onder die hande van die bouers die vorm aanneem van `n geordende gebou. Langsamerhand groei die statige huis bo die grond uit en bereik die voorafbepaalde hoogte. Nou spring die timmermans aan die werk en binne `n kort tydjie is die gebou volledig van dakbedekking voorsien. By hierdie geleentheid het ons vroeëre hope ru materiaal ook totaal verdwyn. Ons sien nog net `n deel van die sand en `n deel van die gebluste kalk, maar daar word nou begin met die sogenaamde pleisterwerk en die afwerking van die huis. Hiermee verdwyn ook nog die twee laastes van die materiaal. Kyk, die huis is nou heeltemal afgewerk, van buite, sowel as van binne. Nou kom daar nog `n aantal ambagsmanne vir die kleiner werk: `n Timmerman, `n slotmaker, dan nog `n verwer, `n oondbouer en nog iemand wat die vloere lê. Hierdie ambagsmanne is nog `n ruk besig en dan staan die huis daar en dwing as te ware eerbied af.

5. As julle nou net julle gevoelens vergelyk, te begin by die sien van die ruwe materiaal, tot by die voltooiing van die statige gebou, dan sal julle tog sekerlik `n baie groot verskil daarin ontdek. Waardeur word die verskil egter teweeggebring? Ek sê vir julle: Deur niks anders as deur die doelmatige en goeie ordening en die eenword van die geskeide ruwe materie tot `n geheel. Toe julle aanvanklik tussen die hope ruwe materie rondgeloop het, was dit vir julle onbehaaglik in julle gemoed en julle gevoelens het chaoties deurmekaar gewoel. Toe julle gesien het dat die ruwe materie deur die vuur en deur die werktuie van die timmermans meer georden en bruikbaar gemaak was, het julle al behaagliker gevoel, want julle het nou reeds die moontlikheid gesien dat daar `n huis uit sulke geordende materie kan ontstaan. Maar nog steeds kon julle vir julleself geen volledige voorstelling van die huis maak nie.”

Hoofstuk 2 Mobiele weergawe Kommentaar