Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 6 Die Huishouding van God, Boek 1

Hoofstuk 6: Die betekenis van die sterre

1. Nou lig jou oë van die aarde af op na die son, wat ‘n getroue afbeeld van die wedergeborene is! Kyk mooi, en jy sal gewaar, dat daar soms vlekke op sy gordel voorkom. Sien, volgens die natuur, soos julle sê, is dit uitbarstings van binne af, nes die vulkane op aarde en is ooreenkomstig uitbarstings van die grimmigheid van die Godheid en klein spore van Sy alles vernietigende mag, wat in die natuur op die aardes altyd deur groot of klein donderstorms, afhangende van die grootte van die vlekke, gedeeltelik tot uiting kom; tog word die Liefde dan altyd al hoe meer aktief en versag alles weer met water van barmhartigheid en op die son met groot stormvloede uit die oewerlose meer van haar barmhartige genade. En sien, so word alles weer in die grootste orde gebring, en buite hierdie orde, waarin Ek, die ewige Liefde, van ewigheid der ewighede Self is, en waaruit en waarin alles, wat bestaan, gemaak is, kan niks bestaan nóg ontstaan nie; en wie met sy vryheid uit hierdie orde wil tree, die handel teen die Liefde en teen die lewe en sal ten gronde gaan vir ewig.

2. Jy het nou die son gesien en dit begryp volgens die natuur, wat eenvoudig is en moet wees, sodat dit kan bestaan vir die doel, waarvoor dit daar is en uit die orde van die Liefde moet wees.

3. Nou trek jou oog af tot die wedergeboorte van die gees, en na die volk van God, en tot die wet van die Liefde, en tot die lewe van vryheid in die lig van genade uit die waters van die barmhartigheid, en die son sal onthul voor jou oë sweef, en geen vou daarin moet vir jou verborge bly nie!

4. Maar sien, ook die son het sy pole, waaruit al die lig en die warmte uit die sentrum van rus van genade oor die volle omtrek uitgegiet word; en sou sy nie die rus van die pole gehad het nie, dan sou sy ook geen lig gehad het nie. Want sien, die rus is vir die opname van lig en warmte onontbeerlik nodig en moet gelyk wees met die rus van die Liefde in God; net uit rus kom die ontvanklikheid vir die lewe en die lig.

5. En sien, wanneer die lug rustig is, dan is dit ook suiwer en vrolik op die aarde; waai egter sterk winde in verskillende rigtings, dan kom vinnig swart wolke op en verdonker die lig.

6. Julle begeertes is nes die winde, waardeur julle van alle soort sorge omring word, wat verhinder dat die lig van genade in julle vloei, nes die wolke, wat deur winde aangewaai word en verhinder dat die strale van die son, op die aarde val.

7. Daarom moet julle julle nie bekommer nie, maar al julle begeertes en die sorge wat daaruit onstaan, moet julle op My rig en aan My oordra, sodat julle kan rus kry en Ek bestendig in julle kan vloei.

8. En sien, soos die aarde uit My orde reëlmatig rondom die rus van die pole draai, wat deur die mag van My Liefde bewerkstellig word, sodat geen kant onbelig sal bly nie, so ook moet julle handelinge uit My Liefde voortgaan, wat oorspronklik en later volgens julle vaardighede deur die gegewe woord van die ewige Liefde in die wet van genade en barmhartigheid, in julle is; en soos die nag die aarde verkwik, sal die Liefde vir julle verkwik, en soos die dag van die aarde sal julle verhelder word deur die lig uit die son van genade.

9. Julle moet soos die winter wees, wat koud is in die rus, maar daarom ook die meeste geskik is vir die opname van warmte tot in die diepste dieptes van die aarde. En by wie die winter aangebreek het, by hom sal ook die lente aanbreek, soos dit is met die eerste lewe van die Liefde in julle, en sal die somer in sy volste daadkragtigheid uit die lewe van die Liefde aanbreek, wat in julle sterk geword het deur die genade, en sal die rustige herfs met die vrugte van werke uit die Liefde en genade aanbreek, waarin julle dan as heel nuutgeborenes in die lewe van die son sal ingaan, om die aangesig van julle heilige Vader te aanskou en om soos die son vir alle wêreld deur die groot krag van die genade, die liefde en die barmhartigheid van die oorgoeie, heilige Vader, te skyn.

10. Maar wie nie soos die maan word nie en nie soos die aarde word nie, kan ook nie soos die son word nie, - want hy is nes ‘n komeet, wat geen vastigheid het nie, ook nie in die minste nie, en al sy wese is uit die genadeuitvloeisels van die sonne gesteel, en sy baan is deurmekaar soos die weë van diewe en rowers, en hy word deur die vrees vir lig van een wêrelddiepte tot die volgende gedryf en sal tot in ewigheid nooit meer rus vind nie; en die lig sal vir hom op al sy paaie vervolg en sy nietigheid verlig.

Hoofstuk 6 Mobiele weergawe Kommentaar