Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 151 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Die binnegaan in die museum in Robert se huis. `n Soort siele kerkhof

1. Ek sê: “Ja, My beste vriend, as jy dit al vir `n volmaakte hemel aansien, wat in wese slegs `n ietwat beter geestewêreld is, waar die eintlike hemel eers in die gees van die mens begin binnestroom sodat hy eers daaruit omvorm word, wat sal jy dan sê wanneer jy in die werklike hemel, wat vanuit jouself kom, sal binnegaan?

2. Ek sê jou dat dit slegs `n inleiding is op die binnegaan in die ware hemelryk. Kyk, hierdie aartsvaders, profete, apostels en moeder Maria met Josef, sou jy selfs gladnie kon aanskou, sonder om die lewe daarby te verloor nie, as hulle hulleself in hulle eintlike hemelse gedaante aan jou sou vertoon het. Trek jou egter niks daarvan aan nie, want Ek is immers Self daar om julle almal geleidelik aan in die ware hemel binne te lei; Ek dink, dat Ek die korrekte weg die beste ken.”

3. Die Fransiskaan sê: “Ja Heer, dan is Robert Blum tog ook nog lank nie in die eintlike hemel nie?” Ek sê: “Wel sekerlik nie! Die huis vir sover ons dit nou ken en sien, het weliswaar al uit sy hart ontspring en is al taamlik volmaak, maar daar is nog tallose gedeeltes en vertrekke, wat vir Robert nog ewe onbekend is as vir jou, maar met die nodige geduld sal julle nog alles leer ken.

4. Maar nou gaan ons deur die groot poort die museum binne. Daar sal julle almal se oë ietwat verder geopen word.”

5. Die Fransiskaan sê: “Heer, wat sal ons alles daarbinne te siene kry?” Ek sê: “Jy sal dit gou genoeg sien! Kyk, `n deel van ons gaste is al binne; hoor jy hulle uitroepe van grenslose verbasing? Ook ons sal ons dadelik daar bevind. Kyk nou aandagtig deur die poort, wat hoog en breed genoeg is, en jy sal al heelwat kan sien. Sê My maar wat jy al moontlikergewys sien.”

6. Die Fransiskaan kyk ingespanne nog van veraf deur die groot poort en sê na `n rukkie: “Heer, dit is baie eienaardig! Ek sien niks anders as `n byna onafsienbare kerkhof met `n redelike groot aantal grafmonumente. Werklik, `n eienaardige museum! Hoe nader ons aan die poort kom, hoe duideliker word `n onafsienbare kerkhof voor my oë. Ek sien nou ook al dat `n groot groep van ons vooruitgeloopte geselskap druk heen en weer loop tussen die grafmonumente op die grafte. Maar van `n vreugdevolle verbasing verneem my ore niks; wel hier en daar uitroepe van groot ontsteltenis. Heer, in dié museum sal ons sekerlik weinig amusant vind!”

7. Ek sê: “O, wees nie daaroor besorg nie! Ek sê vir jou, daar sal jy onuitspreeklik baie wonderbaarlik en amusant vind. En aangesien ons nou net die museum deur die groot poort binnegegaan het, sê My andermaal wat jy nou sien!”

8. Die Fransiskaan sê: “Heer, wat ek nou net gesien het, teken hom nou duideliker en skerper voor my oë af. Maar ons gaste... is hulle druk besig nie! Hulle lyk soos `n kudde lammers wat in die voorjaar eerste in die weiding gedryf word. Dan kom daar ook geen einde aan die gespring en geblêr nie. Ek moet so `n pragtige grafmonument tog net goed bekyk.”

9. Die Fransiskaan gaan na so `n grafmonument toe en ontdek baie gou `n opskrif in reliëf op `n swart ovaalplaat. Hy probeer die opskrif te lees, maar kan niks daaruit wys word nie, omdat daar enkele letters daarin voorkom wat vir hom heel onbekend is. Vol deemoed wend hy hom daarom tot My en vra My of Ek hom nie die betekenis van die opskrif wil verklaar nie.

10. Ek sê egter vir hom: “Vriend, as ons in die museum elke gedenkskrif sou wou lees en ontsyfer, sou ons vir die hele ewigheid volop werk daaraan hê. Dit sou wees asof jy sou wil bereken hoeveel saadkorrels vir die verdere voortplanting, wat tot in die oneindige gaan, hom reeds in `n saadkorrel bevind. Om oneindige dinge te begryp, moet mens nooit met die afsonderlike dele begin nie, ook nie by die voorwerp wat mens sou wil deurgrond nie, maar steeds eenvoudigweg na dit self kyk. Begryp jy jou eie wese, dan sal jy ook al die ander kan begryp en deurgrond, maar solank jy nog geen volledige duidelikheid oor jouself verkry het nie, kan al die ander in jou ook nie tot klaarheid kom nie. As die oog blind is, waarvandaan sal die mens sy lig vandaan kry en weet waarop hy staan en wat daar om hom heen is? Het die oog egter lig, is alles ook in en om die mens verlig. En presies so is dit ook met die geestesmens.

Hoofstuk 151 Mobiele weergawe Kommentaar