Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 151 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Die binnegaan in die museum in Robert se huis. `n Soort siele kerkhof

1. Ek sê: “Ja, My beste vriend, as jy dit al vir `n volmaakte hemel aansien, wat in wese slegs `n ietwat beter geestewêreld is, waar die eintlike hemel eers in die gees van die mens begin binnestroom sodat hy eers daaruit omvorm word, wat sal jy dan sê wanneer jy in die werklike hemel, wat vanuit jouself kom, sal binnegaan?

2. Ek sê jou dat dit slegs `n inleiding is op die binnegaan in die ware hemelryk. Kyk, hierdie aartsvaders, profete, apostels en moeder Maria met Josef, sou jy selfs gladnie kon aanskou, sonder om die lewe daarby te verloor nie, as hulle hulleself in hulle eintlike hemelse gedaante aan jou sou vertoon het. Trek jou egter niks daarvan aan nie, want Ek is immers Self daar om julle almal geleidelik aan in die ware hemel binne te lei; Ek dink, dat Ek die korrekte weg die beste ken.”

3. Die Fransiskaan sê: “Ja Heer, dan is Robert Blum tog ook nog lank nie in die eintlike hemel nie?” Ek sê: “Wel sekerlik nie! Die huis vir sover ons dit nou ken en sien, het weliswaar al uit sy hart ontspring en is al taamlik volmaak, maar daar is nog tallose gedeeltes en vertrekke, wat vir Robert nog ewe onbekend is as vir jou, maar met die nodige geduld sal julle nog alles leer ken.

4. Maar nou gaan ons deur die groot poort die museum binne. Daar sal julle almal se oë ietwat verder geopen word.”

5. Die Fransiskaan sê: “Heer, wat sal ons alles daarbinne te siene kry?” Ek sê: “Jy sal dit gou genoeg sien! Kyk, `n deel van ons gaste is al binne; hoor jy hulle uitroepe van grenslose verbasing? Ook ons sal ons dadelik daar bevind. Kyk nou aandagtig deur die poort, wat hoog en breed genoeg is, en jy sal al heelwat kan sien. Sê My maar wat jy al moontlikergewys sien.”

6. Die Fransiskaan kyk ingespanne nog van veraf deur die groot poort en sê na `n rukkie: “Heer, dit is baie eienaardig! Ek sien niks anders as `n byna onafsienbare kerkhof met `n redelike groot aantal grafmonumente. Werklik, `n eienaardige museum! Hoe nader ons aan die poort kom, hoe duideliker word `n onafsienbare kerkhof voor my oë. Ek sien nou ook al dat `n groot groep van ons vooruitgeloopte geselskap druk heen en weer loop tussen die grafmonumente op die grafte. Maar van `n vreugdevolle verbasing verneem my ore niks; wel hier en daar uitroepe van groot ontsteltenis. Heer, in dié museum sal ons sekerlik weinig amusant vind!”

7. Ek sê: “O, wees nie daaroor besorg nie! Ek sê vir jou, daar sal jy onuitspreeklik baie wonderbaarlik en amusant vind. En aangesien ons nou net die museum deur die groot poort binnegegaan het, sê My andermaal wat jy nou sien!”

Hoofstuk 151 Mobiele weergawe Kommentaar