Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 151 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

11. Die siel, as uiterlike substansiële vorm van die mens, het eintlik heeltemal geen lig by haarself nie, behalwe die lig wat van buiteaf in haar deurdring, komend van ander wesens, wat reeds lank hulle eie innerlike lig het. Haar insig kom daarom ook slegs in stukkies en bietjies. Want die dele van die sielewêreldbeeld wat in haar presies onder die brandpunt van `n van buiteaf deurdringende straal te staan kom, word deur die siel ook in hulle besonderhede herken en beoordeel, soos wat hulle hulleself aan die siel voordoen. Val die lig egter van die een deel op `n ander deel, dan tree daardeur `n volkome vergeet van die voorafgesiende in. Iets baie anders duik dan soos `n meteoor in die siel op en word deur haar slegs so lank herken en beoordeel, as wat sy haarself in die lig bevind. Wyk die van buite deurdringende lig deur `n wending ook weer van die tweede deel wat verlig was af, dan is dit met die insig van die siel oor die tweede beligte deel ook gedaan. So sou die siel haar dus van ewigheid tot ewigheid van buiteaf kon laat verlig en sou tog nog steeds op dieselfde punt van insig staan waarop sy voorheen gestaan het.

12. Iets anders en wat vir jou nog onbegryplik is, wanneer in die siel die eintlike lewende gees volledig te voorskyn kom en die hele siel van binne-af op sy sterkste verlig. Dit is dan `n ewige lig, wat nooit uitdoof nie en alle dele in die siel deur en deur verlig, voed en tot volkome ontplooiing bring. Wanneer dit dus in die siel bewerkstellig word, hoef sy nie meer afsonderlike dele te leer nie, maar dit het in haar alles eensklaps tot volle helderheid ontwikkel. Die volledig wedergebore geestesmens hoef dus nie meer te vra nie: “Heer, wat is dit of dat?” Want die wedergeborene dring dan self in alle dieptes van My goddelike wysheid deur.

13. Sodat jy hierdie waarheid grondiger sal begryp, sal Ek jou nou die opskrif voorlees en jy sal dadelik honderde vrae in jou voel opkom. Let dus goed op! So lui wat hier geskrywe staan:

14. “Die rus is netsoos die dood sonder daadkrag, maar die rus is tog geen rus nie, dog `n belemmering van die beweging. Ruim die belemmering op, dan word die rus weer beweging! Die beweging self is ewenwel geen egte beweging nie, maar `n soeke na `n ruspunt. As die ruspunt gevind word en die beweging tot rus gekom het, dan is die rus weer geen egte rus nie, maar `n voortdurende strewe na beweging. Dit volg ook, sodra die belemmering waardeur rus uit beweging ontstaan, weer opgeruim word. En so bestaan daar rus sonder rus en beweging sonder beweging. Rus is beweging en beweging is rus. Ja, in wese bestaan daar nóg rus nóg beweging, want beide hef mekaar voortdurend op as `n tegelykertyd sowel bevestigende as ontkennende grootheid. O wêreld wat onder hierdie klip rus, jy rus nie, maar beweeg jou in jou strewe, wat jou sondige swaarte is. Nou ryp jy die lewe tegemoet. Jy probeer onophoudelik jou remmende bande stukkend te skeur en wanneer hulle verskeur sal wees, dan sal jy jou na buite in die oneindigheid stort en sal in die oneindige weer soek wat jy nou het. `n Lewe bly, `n lewe vlug; maar die blywende wil vlug en die vlugtende soek om te bly. God, die oerbron van die ware lewe, gee aan die rus die ware rus en aan die beweging die ware beweging!”

15. ”Sê My nou, het jy die opskrif begryp?” Die Fransiskaan sê: “Heer, dit was vir my suiwer Japanees; meer kan ek nie daaroor sê nie! Maar verklaar dit tog ietwat beter vir ons.”

Hoofstuk 151 Mobiele weergawe Kommentaar