Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 160 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

9. Kyk, vriend Cypriaan, netsoos die Roomse biskoppe op aarde nou beraadslaag, hoe hulle hulle ou posisie van mag en aansien tog in stand kan hou, terwyl hulle minder geleë is aan die werklike heil van My volkere, so is daar in jou ook nog so-iets eg Rooms-Katoliek, wat hierdie dogter van My om My liefde beny en jou hart daardeur met verborge ergernis vervul. Daarom sê Ek vir jou dat jy jou om die rede moet terugtrek na die agtergrond, omdat jou afguns en jou ergernis My liewe dogter in haar liefde tot My van haar bedoeling afbring. Ek wil jou egter nie gebied nie, omdat jy teenoor My ook al enkele bewyse van `n ietwat gelouterde liefde gegee het. Wil jy bly, bly dan! Maar as jou verborge afguns en ergernis jou nie toelaat om te bly nie, gaan dan!”

10. Die Fransiskaan trek na hierdie woorde `n bedroefde gesig en sê vir homself: “Nee, so streng het ek my Hom nooit voorgestel nie! My God en my Heer, wat sal daar van my word as Hy my die deur wil wys? Ja, Hy het ewig gelyk; ons pousgesindes deug ook vir niks, maar wat gebeur daar met ons as Hy ons gelas om weg te gaan? Maar ek kan ook bly, sê Hy ook. Is ek egter ook in staat om te bly, vry van afguns en ergernis? Helaas nie, maar dit sal en moet anders word! Ja, die Heer het vroeër eens gesê, dat die mens na siel en liggaam uit die gevalle en veroordeelde Satan stam, ooreenkomend met een of ander deel van die vors van die leuen. Ek sal sekerlik uit sy horings stam, omdat my hart niks anders as afstootlike rommel te siene gee nie, en nog ander dele sal wel uit Satan se slegte hart stam, omdat dit uit niks anders as nyd, gierigheid, heerssug, hoogmoed en `n groot aantal soortgelyke duiwelse eienskappe blyk te bestaan nie. O Heer, dryf ook by my die Satan uit!”

Hoofstuk 160 Mobiele weergawe Kommentaar