Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 161 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Wonderbaarlike verandering van die sielegrafte. Robert ontvang sy hemelse naam. Die engel Sahariël as leier

1. As Robert, vervul van `n oorgrote liefde, vinnig na My toe kom en buitengewoon verheug is daaroor dat sy Helena soveel genade by My gevind het, verdwyn al die grafmonumente skielik en in plaas daarvan styg magtige ligte soos opgaande sonne omhoog. Hulle verhef hulleself en swewe in die lieflikste ordening steeds hoër en hoër, totdat hulle dan aan `n hoë uitspansel as sterk verligtende sterre van die eerste grootte in pragtige groepe tot rus kom.

2. Nadat alle aanwesiges hulle `n tydjie daaroor verbaas het, kom `n verligtende gees vanuit die hoogte na benede geswewe. Hy bly op dieselfde plek staan waar die welbekende piramide vroeër gestaan het, en hou `n hemelsblou, met baie skitterende sterre gesette geplooide gewaad in sy regterhand.

3. Almal is so verras daardeur, dat hulle van eerbied nouliks durf asemhaal. Selfs Robert staan onthuts voor My en durf nouliks sy mond te roer. Slegs Helena skep, hoewel sy ook verbaas is, moed en vra My wat dit kan beteken.

4. Ek sê daarop: “Kyk, My dogter, dit kom alles voort uit die vlees van Robert! Die engel daar het `n gewaad daaruit saamgestel en het dit nou op My versoek aan Robert as vanuit die hemel aangereik. Tot die bereik van die hoofdoel het jy ook baie bygedra, want die groot liefdeskrag van jou hart het baie daartoe bygedra om die vlees op te los en te suiwer. Gaan daarom na die engel en lei hom hierheen, sodat hy vir Robert, voor My oë, die hemelgewaad kan oorhandig en aantrek, want dit is al `n waaragtige kleed vir die ewige lewe!”

5. Helena, wat heeltemal verruk is oor My versoek, loop vinnig na die verligtende engel en vra hom om hom na My te begewe. En die engel kom ook dadelik saam met haar na My toe. By My aangekom, maak hy `n diep buiging en oorhandig die kleed met `n allervriendelikste gesig aan die byna van liefde en eerbied smeltende Robert, wat hom, op dieselfde oomblik toe die engel die gewaad vir hom aanreik, al daarin gekleed sien.

6. Toe Robert nou in die kleed van die onsterflikheid voor My staan, vra Ek vir hom: “Wel vriend en broeder Robert-Uraniël, hoe geval die gewaad jou en wat dink jy van hierdie gedaanteverwisseling?” Robert-Uraniël sê: “Heer, enige, van die hoogste liefde vervulde Heilige Vader! Op aarde het ek so nou en dan vaag aangevoel, dat daar in die verloop van die lewe dalk oomblikke is wat `n mens laat verstom en selfs sy gedagtegang laat stilstaan. As `n mens iets daaroor wil sê, dan vind mens geen woorde nie. Hoeveel te meer moet dit nie hier in die geesteryk die geval wees, waar die een buitengewone wonder die ander oortref. Daarom sal U, o Heer, my wel vergewe, dat ek hier, deur te groot vreugde en liefde vir U, byna nie in staat is om iets te sê nie. Hierdie verhewe gebeurtenis het so skielik plaasgevind, dat ek daardeur nie my ewewig dadelik kan hervind nie. As U, Heiligste Vader, my egter `n bietjie tyd wil gun, sal ek wel `n woordjie oor dit alles kan sê.”

7. Ek sê: “Wel nou, gaan dan saam met hierdie engel; hy sal jou die hele museum dan werklik as `n waaragtige museum laat sien. Kom daarna weer hierheen en vertel aan almal wat jy daarin gesien en gehoor het. Omdat jy egter vroeër met hierdie dinge klaar sal wees, sal jy aan die sy van My engel met werklik geestelike treë loop. Hierdie beweging het die snelheid waaroor jy op aarde dikwels gespreek het. Jy het haar die gedagtevlug genoem.” (Ek wend My tot die engel): “Sahariël, sien jou broer Uraniël aan! Lei hom deur hierdie wonders van sy siel en toon hom ook sy eerste aarde, waar ook jy vandaan gekom het. Dit is so en so sal dit geskied!”

8. En Sahariël sê vir Robert-Uraniël: “Kom broeder, aanskou, leer en bewonder die eindelose Wysheid van die Vader!” Dadelik verhef beide hulle en verdwyn uit die gesigsveld van almal, wat hier in die geestelike wêreld met Robert-Uraniël aangekom het.

Hoofstuk 161 Mobiele weergawe Kommentaar