Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 190 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Die heilsbede van die aartsvaders. Antwoord van die Heer. Voorbereiding vir die wederkoms van die Heer

1. Alle profete en apostels kom na My toe en sê: “Ja amen! U Naam word geheilig, sowel hier in U hemele asook op U aarde, die waaragtige leerskool vir die geslagte wat vir `n ewige bestaan ontkiem onder U hart. Slegs die een, heilige Vader, vra ons U dan uit een hart en een mond: Laat dit eindelik eens afgeloop wees met die snode werk van die Satan! Neem weg van U aarde die purper en laat goud, silwer en edelstene verdwyn, sodat die mens nie meer aas op die glans van hierdie onsalige dinge nie, maar slegs strewe na suiwer liefde en waarheid. Hoeveel skatte van die gees moet daar wel ten grafte gedra word, omdat die jaag na al hierdie ydele dinge die mensdom hinder om haar gees volgens U orde op te wek en daaruit onverganklike rykdomme te put vir tyd en ewigheid!

2. Maak tog net `n einde aan die praktyke van Satan! Met die verdwyn van sy invloed op die sfeer van die menslike handelinge moet die mensdom meer geneig wees tot die goeie en die ware; so nie, dan sal die mensdom hom steeds dieper in die verderf stort. Wel is U raadsbesluite onnaspeurlik en U weë ondeurgrondelik. Dit is aan niemand bekend hoe U te werk gaan om ten slotte alles na die beste bestemming te lei nie. Vir baie wesens is wel `n redelike lang tydsduur vereis voor hulle hulle uiteindelike bestemming bereik. Dus die verkorting van die lang weg en die tydsduur, soos U, o Heer, dit Self aan U volkere belowe het, is wel die vurigste wens van ons, wat God goedgesind is!

3. Dit is werklik jammer vir U mooi aarde, dat sy nie in staat is om haar telkens opnuut toegebringde wonde te genees nie, as U haar die steeds eenderse kwelgeeste nie van die lyf af hou nie. Wat U, Heer en Vader, egter sal doen, doen dit spoedig, want anders word die mens verteer deur te groot angs vir die te verwagte dinge wat die aarde nog sal oorkom! Ons hier het natuurlik maklik te wag, omdat vanweë ons groot saligheid by U, heilige Vader, is ook vir ons `n duisend aardjare gelyk aan `n vlugtige lentedag, maar vir die nog in sterflike omhulling lewende broeders op aarde word bang minute tot jare, en jare tot ewighede. Daarom, o Vader, open U ryk bron van liefde en genade, beproef die armes op aarde genadiglik en verkort hierdie slegte tyd! U heiligste wil geskied altyd!”

4. Ek sê: “Julle doen goed daaraan om so te vra, maar dit gaan met julle vraag soos diegene wat oral te laat kom en daarom ook vir My steeds te laat moet kom, omdat Ek oral en in alles die Eerste is. Julle is dan die ledemate van My liggaam, wat nie in staat is om te handel alvorens My gees julle tot handelinge aansit nie. As julle My gees egter na alles nodig het, hoe kon julle dan gedink het dat Ek eers deur julle versoek daartoe beweeg moet word om iets te bewerkstellig, waarvan Ek die noodsaak al ingesien het nog voordat `n gees uit My hom verheug het oor `n vry bewussyn! Wanneer julle eers oor `n saak begin na te dink, het Ek al so `n duisend jaar lank voorsorgmaatreëls getref en alles so op dreef gebring, dat die uitwerking presies so aan die lig moet kom. Anders sou die algemene hoofdoel uiteindelik onmoontlik bereik kon word, naamlik julle ewige, vryskeppende lewe in My goddelike teenwoordigheid.

5. Moet Ek dan alle hiërargieë deur `n vuur uit die hemel met een slag verdelg? Na die groot werk van die verlossing gaan dit nou juis nie meer nie! Geen algemene sondvloed en geen ondergang van Sodom en Gomorra meer nie!

6. Maar elke kwaad op aarde is nou sy eie regter en die straf volg die sonde te voet. Die hiërargie verlang na hulle ou, wrede priestervryheid, en kyk, dit is hulle gegee, maar sonder materiële mag! As die hiërargieë in die vervolg egter gebruik sal bly maak van hulle wrede vryheid, dan sal hulle daardeur duisende daartoe aansit om van hulle slegte ingesteldheid oor te gaan na `n beter een. Terwyl julle My hier staan en vra, het daar al duisende van Rome afgeval! Kan die tyd dan nog meer verkort word? Is alles nie gedoen vir haar ondergang, wat nou spoedig noodsaaklik sal kom nie?

7. Hoe sou Ek ooit weer op aarde kon kom, as daar nie op doelmatige wyse `n einde sou gemaak word aan die ou praktyke van die slegte hiërargie nie? Sou Ek egter as God kom, wel, julle begryp seker, dat die hele aarde dan geoordeel sou word en daar geen wese op haar nog in staat sou wees om vry asem te haal nie.

8. Wanneer Ek egter na die aarde sal kom, kan Ek maar net na die armes kom. Dan eers is daar op aarde `n korrekte vereffening van al die heerssugtige strewe moontlik en daarnaas ook My spoedige besoek aan die verlorenes.

9. Julle versoek was egter tog tereg, want dit was julle so ingegee, maar My handelinge was julle lankal vooruit! Maar nou kom Robert-Uraniël met sy skares. Wees daarom almal bereid om verder te trek, want dit is noodsaaklik!”

Hoofstuk 190 Mobiele weergawe Kommentaar