Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 191 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Vertrek na die saal van die voleinding. Robert en Helena, gevolg deur Cado, voor die geslote hemelpoort. Minerva verskyn weer op die toneel

1. Almal volg My wil nou vinnig op. Robert-Uraniël kom en sê: “Heer en Vader, alles is georden volgens U wil en U heilige orde!”

2. Ek sê: “Laat ons dan in `n oostelike rigting gaan, waar jy op `n oënskynlike groot afstand twee magtige pilare sal sien. Daar is die vierde groot saal van die voleinding, waar die eintlike hemel eers begin. Neem jou vrou nou met jou saam, sodat jy vanuit My besondere liefde volkome mag binnegaan in die ryk van jou liefde en insig!”

3. Met My woorde omvat Robert-Uraniël sy Helena met alle liefde en versoek My om aan sy sy, en wel tussen hom en Helena in, die groot saal binne te tree. Ek sê egter: “Jy moet net begin om jou vrylik te beweeg, anders sal jy steeds `n leiband nodig hê. Ek sal sonder meer in die groot saal aanwesig wees as jy daar binnegaan. Waarheen jy ookal, vervul van liefde tot My, jou sal begewe, sal Ek by jou wees, omdat jou liefde tot My Ekself is, want Ek is oral aanwesig waar waaragtige en suiwer liefde tot My, in volheid in `n hart aanwesig is. Gaan nou dus vooruit en open die poort na die ryk van die voleinding van jou hart.”

4. Nou maak Robert `n diep buiging voor My en begin dadelik met sy reis. Hy wandel welgemoed met sy Helena, wat hom onderweg vra hoe dit vir hom hier in die ryk van God eintlik voorkom en of hy hom al heeltemal tuis daarin voel. Robert-Uraniël sê daarop: “Soms kom dit vir my baie vreemd voor, veral as die Heer nie langs my is nie, maar as die Heer sigbaar in my nabyheid bly, is ek my weer heeltemal tuis. Al die verskynsels kom net nog steeds vir my vreemd voor, al begryp ek dit baie goed, ook omdat hulle dikwels so totaal onverwags opduik. Maar daaraan het ek ook al gewoond geraak. Daar het jy die poort al, maar hy is gesluit! Wat nou?”

5. Helena sê: “Wel, dit sal ons net in die Naam van die Heer probeer oopmaak. Kyk, daar sit `n goue sleutel in die slot!” Robert gryp dadelik die sleutel vas en begin hom na regs en dan na links te draai, maar die deur laat hom nie oopmaak nie. Hy draai nogeens, en kragtiger as eers du hy nou met geweld teen beide die vleuels van die poort, maar tevergeefs!

6. Daarop word Robert `n bietjie bang en sê vir Helena: “Kyk, my liewe vrou, ek moet eerlik aan jou beken dat ek my weereens baie vreemd voel, soos iemand wat heeltemal verlaat is deur sy vroeëre helpers in die nood. Kyk net agtertoe of jy nie in die verte iemand kan ontdek nie. Behalwe vriend Cado, wat ons baie stil gevolg het, ontdek ek geen siel en geen gees nie!” Helena sê: “Werklik eienaardig; behalwe Cado sien ek ook niemand nie, en die poort kan nie oopmaak nie. Tog het die Heer ons Self hiernatoe gestuur. Probeer die deur nogeens te open, ek sal jou help, miskien sal dit dan gaan.”

7. Robert neem nou weer die goue sleutel in die hand en draai hom na alle kante, terwyl Helena kragtig teen beide die vleuels du. Hierdie poging gaan nog `n hele tyd deur, maar sonder resultaat. Wanneer beide al ietwat vermoeid is, sê Helena: “Weet jy, my liewe Robert-Uraniël, niemand kan hom verplig voel tot `n daad wat sy mag te bowe gaan nie. Ons het reeds al ons kragte aangewend, maar hierdie hemelpoort laat hom volstrek nie open nie, wat tog nouliks ons skuld kan wees. Dan bly hy maar in die Naam van die Heer gesluit! Maar ons sou tog vriend Cado om hulp kon vra, miskien weet hy beter om daarmee om te gaan as ons twee.” Robert-Uraniël sê: “Jy het gelyk, dit sal ek dadelik doen!”

8. Robert-Uraniël sê: “Beste vriend, net jy was so vriendelik gewees om ons te begelei. Jy het ook die opdrag van die Heer aan my verneem, waarin ek versoek was om met my vrou hierheen te kom en hierdie poort te open, maar al ons kragtige pogings met hierdie poort het misluk! Daarom wil ek jou hierby vra om nog `n derde poging met my te waag. Miskien slaag ons drie tog om hierdie reusagtige hemelpoort te open. Slaag dit egter nie, dan moet die Heer maar met ons doen wat Hom behaag!”

9. Cado sê: “Beste vriend, my medewerking sal jou weinig seën bring; wat vir `n God voorbehou is, is nie vir `n esel weggelê nie! Jy is geroep en uitverkore, ek is nie eens geroep nie, maar ek sal jou desondanks die gevraagde hulp bied. Jy weet immers dat slegs hulle die hemelryk sal besit, wat dit met geweld na hulle toe sal trek! Laat ons dus in God se Naam begin!”

Hoofstuk 191 Mobiele weergawe Kommentaar