Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 191 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Vertrek na die saal van die voleinding. Robert en Helena, gevolg deur Cado, voor die geslote hemelpoort. Minerva verskyn weer op die toneel

1. Almal volg My wil nou vinnig op. Robert-Uraniël kom en sê: “Heer en Vader, alles is georden volgens U wil en U heilige orde!”

2. Ek sê: “Laat ons dan in `n oostelike rigting gaan, waar jy op `n oënskynlike groot afstand twee magtige pilare sal sien. Daar is die vierde groot saal van die voleinding, waar die eintlike hemel eers begin. Neem jou vrou nou met jou saam, sodat jy vanuit My besondere liefde volkome mag binnegaan in die ryk van jou liefde en insig!”

3. Met My woorde omvat Robert-Uraniël sy Helena met alle liefde en versoek My om aan sy sy, en wel tussen hom en Helena in, die groot saal binne te tree. Ek sê egter: “Jy moet net begin om jou vrylik te beweeg, anders sal jy steeds `n leiband nodig hê. Ek sal sonder meer in die groot saal aanwesig wees as jy daar binnegaan. Waarheen jy ookal, vervul van liefde tot My, jou sal begewe, sal Ek by jou wees, omdat jou liefde tot My Ekself is, want Ek is oral aanwesig waar waaragtige en suiwer liefde tot My, in volheid in `n hart aanwesig is. Gaan nou dus vooruit en open die poort na die ryk van die voleinding van jou hart.”

Hoofstuk 191 Mobiele weergawe Kommentaar