Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 191 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

8. Robert-Uraniël sê: “Beste vriend, net jy was so vriendelik gewees om ons te begelei. Jy het ook die opdrag van die Heer aan my verneem, waarin ek versoek was om met my vrou hierheen te kom en hierdie poort te open, maar al ons kragtige pogings met hierdie poort het misluk! Daarom wil ek jou hierby vra om nog `n derde poging met my te waag. Miskien slaag ons drie tog om hierdie reusagtige hemelpoort te open. Slaag dit egter nie, dan moet die Heer maar met ons doen wat Hom behaag!”

9. Cado sê: “Beste vriend, my medewerking sal jou weinig seën bring; wat vir `n God voorbehou is, is nie vir `n esel weggelê nie! Jy is geroep en uitverkore, ek is nie eens geroep nie, maar ek sal jou desondanks die gevraagde hulp bied. Jy weet immers dat slegs hulle die hemelryk sal besit, wat dit met geweld na hulle toe sal trek! Laat ons dus in God se Naam begin!”

10. Robert gaan nogeens met die sleutel en draai hom sewemaal na links, en omdat na alle kragsinspanning die deur nog nie oop gaan nie, draai hy die sleutel so ver moontlik na regs. Daarby word tydens die draai aaneen kragtig teen die deur gedu, wat egter hardnekkig gesluit bly.

11. Robert-Uraniël krap hom agter die ore en Cado sê: “Ek het jou immers gesê dat dit nie sou gaan nie! Want ek weet dat hierdie geestelike dinge baie hardnekkiger is as die aardse. `n Berg op aarde laat hom makliker verplaas as dat so `n geestespoort homself laat open! Ek sou hier aanraai om die verdere verloop af te wag. Dit kan nie die bedoeling wees om God die Heer aanhoudend lastig te val nie. Daar is ons bygevolg `n plek aangewys, waar ons so lank moet bly totdat hierdie hemelpoort deur hoër magte vir ons oop gedwing sal word. Wat ons egter sou kan doen, is om vas te hou aan die evangeliese raad: “Soek en jy sal vind; vra en vir u sal gegee word en klop en daar sal oopgemaak word!” Wie weet of die poort dan nie reeds vir ons sou oopstaan nie. Wat dink jy, vriend, van hierdie saak?”

12. Robert-Uraniël sê: “Ja, jy het volkome gelyk, maar dat die Heer my dringend versoek het om my vinnig hierheen te begewe en hierdie poort te open, omdat baie belangrike dinge ons daaragter te wagte staan. En nou is ek hier en kan niks met die poort vermag nie. Dit is tog wel ietwat eienaardig, maar ek sal jou raad opvolg.

13. Hierop sê Helena: “Vriende, daar is werklik baie voor nodig om in die hemelryk van God te kan binnegaan! Vir my steur niks my hier as soseer die pragtige stralekleed nie. As ek `n baie gewone boerejurk sou gehad het, dan sou hierdie geweierde ingang in die eintlike hemelryk my baie minder gehinder het. Werklik, deur hierdie gebeurtenis sou mens behoorlik kwaad kan word vir die Heer! Eers melk en heuning van die beste kwaliteit en vervolgens `n bitter druppel; en in plaas van hemelbrood, wat mens al eg in oordaad geniet het, kom nou hawermoutpap! Eet smaaklik, dit sal vir my `n eienaardige hemelse soetigheid word! Word ek, sottin, maar eers van die dom kleed verlos, want nou begin dit my regtig ontsettend te hinder. Geval, my liewe Robert, jou uraniaanse sterregewaad jou nog steeds?”

14. Robert sê: “Eerlik gesê sou ook vir my `n ander gewaad honderd keer beter gewees het! Ek vind myself nou in die goddelike sterregewaad net in `n gefopte hemelse esel. By God, `n leerbroek en `n jassie van die grofste laken sou vir my beter gewees het! Ek het my in my hele aardse en geestelike lewe nooit so geskaam as hierdie keer in die ellendige hemelsgewaad nie. Kon ek dit maar geruil het vir `n ander!” Helena sê: “Ek sal myne weggee vir die vuilste kombuisvoorskoot, want daar is niks so erbarmlik as om `n koningsgewaad te dra in `n weiland vir varkoppassers nie.”

15. Cado sê: “My beste vriende, julle woorde is vir my uit die hart gegryp! Christus, as Heer van die oneindigheid, moes dit ook diep gevoel het, omdat Hy so dikwels teen klereprag geywer het. Hy dra immers ook hier in die ryk van die lig, `n allereenvoudigste kleed. Ekself is die grootste vyand van elke vorm van klereprag, of hulle nou op aarde materieel, of hier in die ryk van die gees, geestelik is. Daarom gee ek julle volkome gelyk dat julle julle pragtige hemelsgewaad, wat hier nie op sy plek is nie, te verafsku. Het dit nou in julle oë geen waarde nie, dan is alles goed en wel. In my oë het selfs so `n hemelse opskikking nooit enige waarde gehad nie! Maar wat sal ons nou doen, solank die poort nog nie oop is nie? Sal ons begin te vra, te soek en te klop?”

16. Helena sê: “Ek is van mening dat ons dit mooi agterweë moet laat! As die Heer hom nie vir ons wil oopmaak nie, moet hy gesluit bly in alle ewigheid, amen!” Robert sê: “Jy het bepaald geen ongelyk nie, my liefste Helena, maar weet jy, as mens dit al sover gebring het, dat mens voor die hemelpoort staan, sou mens tog ook moeite moet doen om daardeur te kom! Vra is seker geen skande nie, soek nog minder, en wat die aanklop betref, wil ek dadelik op beide die deurvleuels `n lawaai maak wat daar nie om lieg nie! Wel, dit is vir my ook iets: Eers maak ek as engel met Sahariël al die verste hemelreise - nou is ek weer in julle geselskap en heeltemal ten einde raad! Slegs die pragtige Minerva ontbreek nog maar! Dit sou werklik `n mooi grap wees: om haar hier te kere hoor gaan oor die gesluite poort!”

17. Cado sê: “As jy dit oor die duiwel het, trap jy hom op die stert! Inderdaad, as ek my nie vergis nie, kom sy al daar aan om `n besoek aan ons te bring! Nou moet ons maar sien hoe ons haar weer gaan kwytraak!” Heeltemal oorbluf deur hierdie verskyning, sê Helena: “Maar sy moet `n skerp gehoor hê! Wel Robert-Uraniël, dit sal `n netelige gebeurtenis word. Jy moes haar naam in ons netelige situasie ook nooit genoem het nie. Dit sal vir my `n mooi gedoente word! Uiteindelik trek sy ons al drie nog saam na die onderste “God-staan-ons-naby”.

18. Cado sê: “Og, daar is geen sprake daarvan nie! Die vervelende is net dat mens haar nie meer so gou kan kwytraak nie as sy daar eenmaal is nie!” Robert sê: “Laat ons dit dan probeer verhinder dat sy hierheen kom, want met soveel goddelike krag en mag sal ons tog nog wel uitgerus wees!” Cado sê: Probeer dit, maar ek dink nie dat dit sal baat nie. Sy sal dadelik sê dat ook sy die volste reg het om voor die poort van die Godshuis te verskyn en daar toegang te verlang. Of sy binne gelaat sal word, is trouens `n ander vraag. Laat ons haar maar ongehinderd haar gang gaan en maak asof ons haar nie opgemerk het nie. As sy haarself dan met ons gaan bemoei, dan sal ons haar wel iets kan vertel wat sy sekerlik nie graag sal wil hoor nie. Ons mag ons net nie vriendelik teenoor haar, en nog minder teregwysend-gebiedend gedra nie, maar baie onverskillig, wat sy die minste kan verdra. So sal ons haar die vinnigste kwytraak. Ek glo om haar al byna deur en deur te ken.”

Hoofstuk 191 Mobiele weergawe Kommentaar