Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 192 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Minerva voor die poort. Onvriendelike ontmoeting met Helena

1. Robert sê: “Jou raad is werklik baie goed; maar stil nou, sy kom al in aller yl na ons toe. Sy het die pragtige kleed nog aan en die pseudo-swaard van blik en karton by haar. Ook skyn sy nog niks van haar uitsonderlike skoonheid ingeboet te hê nie. Sy is werklik onbeskryflik mooi en mens sou kon stel dat dit vir die Godheid onmoontlik sou wees om `n nog groter uiterlike skoonheid in die lewe te roep. Ek glo egter dat mens ook haar gestalte nie te veel mag roem nie; sy sou daardeur nog ydeler en trotser kon word as wat sy alreeds is.” Cado sê: “Ja, ja, in elk geval nie oor en met haar praat nie, anders kan ons nie so maklik van haar ontslae raak nie!”

2. Agter die rug van Cado sê Minerva al: “Juis, jy slaan die spyker steeds op die kop! Jy wil die ander leer hoe hulle die vinnigste van my ontslae kan raak, asof ek my dalk ooit aan iemand sou opgedring het. Daarvoor het ek tog te veel eergevoel in my en is ek te trots. En jy, my vriend Cado, hoef heeltemal nie bang daarvoor te wees nie, want ons ken mekaar immers al `n hele tyd. Sal ek jou dalk by jou egte naam noem?”

3. Cado sê: “Swyg! Anders sal jy getuie wees van `n nuwe staaltjie van my welbekende hoflikheid! Daar is die gesluite poort, probeer of iemand jou sal binnelaat. Want hoort jy miskien ook daar?” Minerva sê: “Hou jou smoel! Ek doen wat ek wil en nooit wat jy wil nie! Begryp jy dit?”

4. Cado sê: “O, dit begryp ek volkome, want jy is ydel en trots en bygevolg ook dom genoeg! Hoe sou jy iets wil en kon doen wat werklik van ewige nut vir jou sou wees? Wanneer jy egter nog iets met ons wil bespreek, dan vra ek jou om jou ietwat beskaafder en fatsoenliker uit te druk! As jy dan geen rekening met my wil hou nie, doen dit dan tenminste met ons allerliefste hemeldame wat hier aanwesig is!”

5. Minerva sê: “Dit is vir my `n vreemde hemeldame; hierdie aller ordinêrste proletariese trens, en vir haar sou ek uiteindelik nog respek moet hê?! Ek, die eerste wese van die hele oneindigheid, en die daar, die minste uit die aller-armsaligste en berugte Lerchenfeldse. Jy het wel `n kosbare voorstelling van `n hemeldame, as jy die egte Weense misbaksel as so-iets aansien! `n Geluk dat jy dit met jou wysheid in die hemel werklik al ver gebring het!”

6. Helena wat vol oplaaiende ergernis is, val haar hier in die rede: “Wel, jou verwaande feeks! Weet jy dalk nog iets slegter oor my, jy, individu wat uit die hele oneindigheid byeengeraap is! Nee, dit gee my `n genot! Wil die allergrootste skobbejak van alle vaste sterre my belaster? Wag maar, ek sal jou gepolyste eselsvel wel ietwat verkreukel as dit jou so erg laat jeuk! Dink jy dalk, lekker room van die helse beesvleissop, dat ek jou nie ken nie? O, wees maar nie besorg daaroor nie, jou vuil Jesuïete-sakdoek! Jy wil my uitmaak vir `n proletariatiese trens! Maak maar gou dat jy wegkom, anders sal God se ewige timmerliede jou wel die gat in die deur wys!”

7. Robert sê: “Maar ek smeek jou, liefste Helena, deur God Self aan my gegewe vrou, wen jou nie so op nie! Kyk, met hierdie skyn-Minerva het God Self niks uitgerig nie, wat kan ons dan met haar uitrig! Jy weet tog dat aan distels geen dadels, en aan doringbosse geen vye groei nie! Laat haar daarom praat wat sy wil, want haar stem dring werklik nie deur tot ons ore, en nog minder tot ons harte nie!”

8. Helena sê: “Ja, ja, dit weet ek goed, maar ek weet ook dat mens as eerlike Christen die duiwel die mond moet snoer! Kyk, nou hou sy haar al stil, omdat sy insien dat sy nooit nog growwer kan word as wat ek is nie. As sy nog een keer `n geluid maak, sal ek vir haar `n Lerchenfeldse liedjie sing waaraan sy vir die hele ewigheid genoeg sal hê! Nee, die gifbaksel van die heilige aartsengel Migael sal my dan eers goed leer ken! Werklik, ek sou selfs ons liewe Heer iets grof in Sy gesig kon sê as Hy ooit hierdie lieflingstoel van Petrus genade wil bewys. Sy is immers lankal te sleg vir die hel, daarom verdra die ander duiwels haar nie meer in hulle midde nie. Jy moes haar ook so nodig hierheen roep!”

9. Cado sê nou vir die van boosheid trillende Minerva: “En, is jou woordeskat van grofhede al uitgeput, noudat jy geen antwoord op hierdie agtenswaardige komplimente gee nie? Dit lyk my dat jy jou meerdere gevind het en nou deur jou swye toegee, dat die Lerchenfeldse gelyk het!” Minerva sê: “Asseblief, praat my nie meer oor die galgebrokkies nie, want ek het my buik vol van haar!”

10. Helena val haar in die rede: “Maak dat jy wegkom, anders sal daar raak klappe val! Het jy hiermee wel eens kennis gemaak?” (Terwyl sy Minerva beide haar vuiste toon): “Ek sê jou, as jy nie gou weggaan nie, roffel ek jou hiermee `n bietjie op jou groot vieslike mond!” Robert sê: “Maar Helena, ek smeek jou, in godsnaam! Ons beland nog, in plaas van in God se hemel, straks nog in die Lerchenfeldse rioolsloot! Bedink tog, hoe jy, as liefling van God, aan die heilige bors van die Heer gelê het en alle genade van Hom in jou opgeneem het... en nou is jy weer heeltemal `n egte Lerchenfeldse! Dit moet jy heeltemal aflê, anders sal dit nog lank duur voordat die poort vir jou sal oopgaan!”

11. Helena sê: “Nou, ek glo dat jy dit selfs `n bietjie jammer vind, dat ek die helleveeg net goed die waarheid gesê het!” Robert sê: “Nee, liefste Helena, verseker nie, maar dit doen my slegs verdriet aan, vanweë jou reeds redelike hemelse mooi mond, wat selfs al met God gespreek het en my menige voortreflike lesse in die liefde gegee het.”

Hoofstuk 192 Mobiele weergawe Kommentaar