Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 192 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

8. Helena sê: “Ja, ja, dit weet ek goed, maar ek weet ook dat mens as eerlike Christen die duiwel die mond moet snoer! Kyk, nou hou sy haar al stil, omdat sy insien dat sy nooit nog growwer kan word as wat ek is nie. As sy nog een keer `n geluid maak, sal ek vir haar `n Lerchenfeldse liedjie sing waaraan sy vir die hele ewigheid genoeg sal hê! Nee, die gifbaksel van die heilige aartsengel Migael sal my dan eers goed leer ken! Werklik, ek sou selfs ons liewe Heer iets grof in Sy gesig kon sê as Hy ooit hierdie lieflingstoel van Petrus genade wil bewys. Sy is immers lankal te sleg vir die hel, daarom verdra die ander duiwels haar nie meer in hulle midde nie. Jy moes haar ook so nodig hierheen roep!”

9. Cado sê nou vir die van boosheid trillende Minerva: “En, is jou woordeskat van grofhede al uitgeput, noudat jy geen antwoord op hierdie agtenswaardige komplimente gee nie? Dit lyk my dat jy jou meerdere gevind het en nou deur jou swye toegee, dat die Lerchenfeldse gelyk het!” Minerva sê: “Asseblief, praat my nie meer oor die galgebrokkies nie, want ek het my buik vol van haar!”

10. Helena val haar in die rede: “Maak dat jy wegkom, anders sal daar raak klappe val! Het jy hiermee wel eens kennis gemaak?” (Terwyl sy Minerva beide haar vuiste toon): “Ek sê jou, as jy nie gou weggaan nie, roffel ek jou hiermee `n bietjie op jou groot vieslike mond!” Robert sê: “Maar Helena, ek smeek jou, in godsnaam! Ons beland nog, in plaas van in God se hemel, straks nog in die Lerchenfeldse rioolsloot! Bedink tog, hoe jy, as liefling van God, aan die heilige bors van die Heer gelê het en alle genade van Hom in jou opgeneem het... en nou is jy weer heeltemal `n egte Lerchenfeldse! Dit moet jy heeltemal aflê, anders sal dit nog lank duur voordat die poort vir jou sal oopgaan!”

11. Helena sê: “Nou, ek glo dat jy dit selfs `n bietjie jammer vind, dat ek die helleveeg net goed die waarheid gesê het!” Robert sê: “Nee, liefste Helena, verseker nie, maar dit doen my slegs verdriet aan, vanweë jou reeds redelike hemelse mooi mond, wat selfs al met God gespreek het en my menige voortreflike lesse in die liefde gegee het.”

12. Helena sê: “Of ek nou `n mooi mond het of nie, die waarheid moet `n slag uit! Dat die waarheid, ook uit die mooiste mond, nie al te mooi sal klink nie, is lankal bekend, maar hoe is dit dan dat jy dit laat lyk asof die waarheid, juis uit my mond, sleg klink, terwyl jy die leuen uit die eweneens mooi mond van die duiwelse griet nie so verfoeilik blyk te gevind het nie? As dit jou verdriet aandoen wanneer my mooi mond die ewige godslasteraarster op so `n Lerchenfeldse manier `n les leer, hoeveel te meer verdriet moet jy dan nie hê oor die lieflike mond waaruit verseker nog nooit `n ware woord gekom het nie! Gee haar liewer `n goeie berisping en laat my praat as ek eenmaal op dreef is!”

13. Minerva sê: “Is jy nou klaar, jou onhebbelike Lerchenfeldse! Jy het verseker nog nooit op `n hoërskool beleefdheid geleer nie, want iets growwer het nog nooit tot my ore deurgedring nie.” Helena onderbreek haar: “Wel, pas maar op dat jy geen oorontsteking daarvan kry nie! Ek moet seker haar grofhede deemoedig absorbeer soos `n vroom jesuïete-biegeling, wanneer hy deur God se plaasbekleder met hel en vagevuur volgestop word? Wag jy maar net. As jy nie uit my oë verdwyn nie, sal daar tussen ons twee nog `n verskriklike spektakel losbars! Daarom sê ek jou nou vir eens en vir altyd, dat jy jou dadelik uit die voete moet maak, anders sal jou mooi gesig wel eens spoedig `n ander aansien kry!”

14. Cado sê: “Wees rustig, Helena, en jy ook, vriend Robert! Ek sal nou alleen met Minerva praat en probeer om iets baie belangrik met haar af te spreek. Miskien slaag ek om haar weer `n stap nader aan die Heer te bring, maar julle moet julle ondertussen rustig hou.” Robert sê: “Ja broeder, doen dit! Ek sal nou werklik baie bly wees as ons haar spoedig kan kwytraak. Sy saai werklik tweedrag tussen diegene wat haar te na kom. Ek glo dat sy binne die kortste tyd alle engele in disharmonie sou bring. Ek wens jou baie geluk met jou prysenswaardige voorneme, maar ek twyfel of jou moeite ook maar enigsins beloon sal word, want die wese sal slegs onder dwang iets goeds doen, maar as volkome vry wese, nooit as te nimmer nie.”

15. Cado sê: “Jy het miskien nie heeltemal ongelyk nie, maar my saligheid durf ek desondanks nie daarvoor verwed nie. Die ewigheid is eindeloos lank, en in sulke eindelose tye en situasies sou nog baie kan gebeur waarvan tot nou toe nog geen enkele gees enige idee het nie. Daarom hou ons alles wat nie met die goddelike orde in stryd is nie as moontlik, maar `n weddenskap aangaan oor die vraag of iets ooit wel of nie moontlik sou kon wees nie, wil soveel sê as aan die goddelike wysheid self te twyfel. By God is alle dinge moontlik, waarom dan ook nie die volledige ommekeer van Satan nie?”

Hoofstuk 192 Mobiele weergawe Kommentaar