Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 194 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Minerva se sataniese versoekingsleer. Cado se treffende teregwysing

1. Nou wend Cado hom tot Minerva en sê: “Hoe lank nog, Satana, sal jy ons geduld misbruik? Wil jy self heeltemal niks anders doen as wat sleg en boos is nie? Kyk, as die Godheid so `n groot diamant sou geskape het, dat `n bliksemflits `n miljoen aardjare nodig sou hê om van die een pool na die ander te vlieg - en daarby ook `n baie klein kolibrievoëltjie sou geskape het wat tot taak het om elke duisend jaar `n slag na hierdie diamantbal toe te vlieg en daar slegs `n keer met sy snawel teenaan te pik - dan sou die voëltjie die bal lankal vernietig het. Aan jou was al duisende van sulke tydsruimtes bestee en jy is nog steeds heeltemal dieselfde as wat jy was by die begin van alle tye! Geen gees kan begryp wat `n geduld die Godheid jou steeds bewys het en welke weë daar ingeslaan was om jou te louter nie, maar dit is werklik afskuwelik om te bedink dat dit alles tot nou toe tevergeefs was! Ek meen dat dit nou tyd geword het om jou hele wese in orde te bring, wat God al ewighede gelede vir jou uitgestippel het!”

2. Minerva sê: “Wat doen ek dan, wat teen jou Godsorde sou wees? Jy spreek voortdurend oor `n sekere ordening van God en skyn self in wese ook nie eens te vermoed wat dit eintlik is en waaruit dit bestaan nie. As ek, as die afgeskeide onsuiwer deel, die voortdurende teenpool van die suiwer deel van die Godheid voorstel, en dit onwrikbaar, soos die Godheid Self onwrikbaar in Sy suiwerheid bly - is dit dan iets anders as juis die Godsorde self in haar totaliteit? En wat doen ek dan, wat mens teenoor God as onreg, as iets slegs en boos sou kon aanmerk? Dit is waar, ek lei die mensdom steeds in versoeking om te sien of hulle in hulle deug voor God en Sy liefde die vuurproef sou kon deurstaan al dan nie. As hulle dit kan doen, wel, dan kom daar aan my versoeking sonder meer vir alle ewigheid `n einde. Kan hulle dit nie, dan word hulle deur my versoeking niks anders gegee nie as `n nuwe geleentheid om hulle vir die ware deug sterk te maak.

3. Die trotse maak ek nog trotser, sodat hy ten slotte deur hierdie ondeug innerlik verdeemoedig word, want niks genees hierdie ondeug immers beter as sy oormatigheid nie, as dit nie is op die materiële proefwêreld nie, dan tog later hier - wat `n sekere Cado self goed ondervind het! So maak ek ook die sinlike bokke nog sinliker as wat hulle reeds vanaf die begin was, en wel net vir so lank, totdat hulle tot en met hulle laaste lewensvesel in hulle ondeug bly en hulle vasgeloop en hulle neiging hulle tot die grootste kwelling en pyn word, waarop hulle dan uit eie beweging hierdie ondeug die rug toekeer en die weg van die kuisheid begin bewandel. Reeds op die materiële wêreld het ek deur bepaalde liggaamlike siektes grense gestel aan die sinlike begeerte. Help dit nie, dan het ek hier in die geestewêreld nog baie kragtiger middele om vir hierdie siele hierdie ondeug ten slotte veragtelik te maak.

4. Dit doen ek met elke ondeug. Ek is oënskynlik `n bevorderaar van die ondeug, dit is waar. Ek voel elke Job aan die tand, maar `n ondeug is nog nooit deur my beloon nie, tensy die sondaar nog nie sondig genoeg was om sy ondeug te verafsku nie. Dan moet ek inderdaad deur allerlei verlokkinge die sondaar nog sondiger maak, totdat die maat vol is, waarop hy dan die ondeug as sodanig moet erken om vir ewig daarvan afskeid te neem. Ek en die Godheid beoog steeds dieselfde doel, naamlik die suiwering van die geskape siele, sodat hulle geskik kan word om die ongeskape, redelike suiwer en magtige gees uit God te dra.

5. God is die pottebakker, maar ek is die vuur! Soos wat geen pot egter gebruik kan word om te kook as hy nie self vooraf deur die vuur verhard is nie, so is ook geen siel in staat om die vuur van die goddelike liefde te verdra, alvorens hulle nie deur my bestand gemaak is vir die vuur nie. As ek egter dit doen wat ek moet doen, hoe kan jy dit dan waag om te sê dat ek nie leef en handel volgens God se orde nie, waaraan ek, netsoos alle ander dinge, ewig ondergeskik is. Ja, as jy my ooit kan bewys dat ek die ondeug sou beloon het, het jy gelyk, maar as ek die ondeug onverbiddelik tugtig, dan is jy sprakeloos en skaaf aan die kors, waarvan jy die kern nooit te siene kan kry nie.

6. Of kan jy jou `n aktiwiteit, wat slegs uit positiewe beweging bestaan, voorstel? Moet `n voet nie telkens rus sodat die ander intussen die positiewe beweging kan maak nie? `n Voet moet dus steeds `n sonde begaan vir die beweging, sodat uit die weerstand vir die beweging en uit die beweging van die ander voet `n volmaakte beweging ontstaan. Moet daar nie `n nag bestaan nie, sodat die siende die lig leer waardeer nie? Moet daar nie op sy minste `n oënskynlike dood bestaan nie, sodat die lewe daardeur verheerlik word? En wat sou die saligheid beteken vir die gees as hy nie sou voel dat hy moontlikergewys ook onsalig sou kon gewees het nie! As daar geen pyn sou wees nie, hoe sou dit daar dan uitsien met die gevoel van die welstand van die gesondheid? En as daar geen op sy minste oënskynlike boosheid sou bestaan nie, hoe sou dit dan met die goeie daaruit sien? Kyk, alles moet sy teenstelling hê, sodat dit kan bestaan! As ek die grondslag van al die teenoorgestelde is, hoe kan ek dan teen God se orde wees?”

7. Cado sê: “My liewe Minerva, as jy op aarde op die spreekgestoelte van `n universiteit so `n salwende rede oor die Godsorde betreffende jou sataniese wese gehou het, werklik, jy sou in die geleerde kollege nie weinig opsien gebaar het nie! As jy egter dink om my te oortuig van die goedheid van jou wese, dan het jy `n belaglike vergissing gemaak, want daardeur toon jy, dat jy jouself nog nooit begryp het nie en daarom gladnie kan weet hoe jy geaard is en welke rigting jy volgens God se ordening moet inslaan nie. Bowendien ken jy my gladnie, selfs nie eens my naam nie, en tog durf jy sulke onsin teenoor my uitkraam!”

8. Minerva val hom in die rede: “Jy heet Cado!” - Cado vervolg: “So heet die kleed wat ek nou aan het, maar ekself heet anders! - Sê net, hoe kan dit ooit in jou opkom, dat God die siel deur ondeug wil verbeter, of sou toelaat dat hulle deur die opeenstapeling van ondeugde suiwer, sterk en kragtig sou word vir die dra van Sy gees? Om jou dwaasheid aan jou te toon vra ek jou maar net of `n kleed volmaakter word deur dag na dag `n nuwe skeur daarin te maak. Of sal `n ontstemde harp suiwerder gaan klink as mens haar in plaas van suiwer te stem, steeds meer ontstem? Sal `n skool, waarin niks anders as hoerery, vloek, steel, roof, plunder en moor geleer word, ooit rein, sagaardige, eerlike, liewe en moreel goeie mense voortbring? En sal dit met `n sieke beter gaan as mens hom met giftige medisyne en geweldige tugtiging te hulp kom?

9. O kyk, jou dom en verblinde wese, duisend voorbeelde sou ek kon aanhaal, terwyl dit voldoende is om die klinkklare onsin van jou woorde oortuigend aan te toon! Wat wil jy dan daarmee bewys? Jou onskuld miskien, omdat jy nooit `n ondeug sou beloon het nie? O, wat `n onvoorstelbare onsin! Sê my net, hoe sou mens die dooies kon beloon? Hoe kan jy `n klip beloon vir `n diens, wat hy jou deur sy natuurlike, in hom redelik veroordeelde swaarte bewys het? Of welke loon kan jy gee aan `n gebraaide voël omdat hy hom deur jou laat vang, gebraai en opgeëet het?

10. Op hierdie manier wil jy dus beweer om heeltemal volgens die goddelike orde te handel? En van jouself wil jy sê, dat jy en God een en dieselfde doel nastrewe? O jou aller ellendigste! Jy wil jouself met God gelykstel, ja jouself selfs bo Hom plaas, asof jy nog voortrefliker sou wees as Hy?! My beste, dit is tog al te bar! Dit kan voortaan nie meer geduld word nie! Daarom sal selfs jou skynvryheid van nou af aan weer redelik aansienlik beperk word, want jy het jou ernstig vergryp aan die regte van God, en vergryp jy op aarde saam met jou baälsdienare blindelings aan hulle wat in goud en silwer voorwend om God te dien! Jy het jou bowendien aan die regte van die konings en hulle volkere vergryp en hulle sal jou daarom spoedig die genadeslag toedien! Daar sal van jou niks anders oorbly as om met enkele varke die bekende afval te vreet nie! Maak nou egter dat jy wegkom, want ek het `n afkeer gekry van jou aanwesigheid!”

Hoofstuk 194 Mobiele weergawe Kommentaar