Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 203 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Die ses wat gewen is. Paulus se moeite met die oorblywendes. Rede oor die tyd van uitsonderlike genade. Die verblindende vleeslike lus

1. Die klublid wat die eerste na vore getree het, sê vir die ander: Praat kan hy wel, `n bietjie kennis van swart kunste het hy ook, en hy het eweneens `n goeie hart. Hoe dom dit ookal mag klink, dat hy ons as geeste en homself as die apostel beskou,... heeltemal ongegrond lyk sy bewering tog nie te wees nie. Daar het my ook al baie opgeval wat ek julle nie wou gesê het nie, maar die dinge lyk nou eenmaal so en daarom is ek van mening dat ons hierdie Paulus wel deeglik moet volg. Hy meen dit nie sleg met ons nie!”

2. Enkeles sê: “Ons kan dit in elk geval probeer! Is dit waar, dan kan dit niks verkeerds wees nie, en is dit nie waar nie, dan het ons niks verloor nie. Nou goed, ons vyf is dit met jou eens. Wat die ander doen, gaan ons niks aan nie. Ons is van die party!” Die eerste sê: “As daar nou nog een was, dan sou ons die heilige getal sewe gevorm het! Wel, sê niemand van julle iets daarvoor nie”

3. Een uit die menigte kom na vore en sê: “Wel nou, omdat ek die domste is van almal wat met julle instem, sal ek wel julle heilige getal volledig maak. En so is “die sewe Swape”* bymekaar, maar julle moet my toestaan dat ek as laaste, agter julle sal aanloop en vir julle sal sê: “Hannes, gaan jy vooraan, want jy het stewels aan!” Solank alles goed gaan, is ek oral agterna, maar as dit skeef begin te loop, sal ek as laaste na die omkeer beslis die eerste wees. Soos wat daar ook êrens in die evangelie staan: “Die eerstes sal die laastes wees en die laastes sal die eerstes wees” naamlik na die weghardloop! *(Die sewe Swape is die titel van `n Duitse sprokie.)

4. Julle weet dat ek altyd `n vrolike Fransman was en nog is, maar dat ons al gesterwe het, gaan nie by my in nie, want ons moes tog iets daarvan gemerk het! Die sterwe is tog nie so `n onbelangrike saak, dat jy dit volkome sou kan vergeet nie. Hoe dit ookal sy, vir tien dukate kan mens wel aan so-iets meedoen. Ek het self nog `n half dosyn vodde van tien Kreusers (Duitse papiergeld), miskien verander die goeie Paulus dit ook vir my in goudstukke!”

5. Nou wend hierdie sewende hom tot Paulus en sê: “Hoor net, beste, goeie vriend, ek het hier nog presies ses van sulke vodde, wil jy hulle nie ook vir my in goudstukke verander nie?” Paulus sê: “Waarom nie, as jy dink om daarmee gedien te wees? Waar het jy jou vodde?”

6. Die sewende sê: “Hier het hulle al byna heeltemal uiteengeval.” Paulus raak hulle aan en op dieselfde oomblik verander hulle in sestig dukate. Die sewende val byna agteroor van verbasing en sê na `n rukkie: Nou is dit duidelik, dit is `n wonder van die beste soort! By die vorige keer het ek slegs gedink dat jy `n foefie uitgehaal het, maar nou glo ek ook in al die wonderwerke van Christus en in alles wat ek andersins nooit as te nimmer kon glo nie. Kyk, goeie man Paulus, nou glo ek. Ook dat jy werklik die eintlike Paulus is en ook dat ons al gesterwe het.”

7. Nou sê hy, wat die eerste na vore getree het: “Ja, daarvan is ek nou ook vas oortuig; nie soseer vanweë die wonderwerk nie, maar baie meer vanweë sy vorige toespraak, want daaruit het werklik die ou Paulus, soos hy eens moes geleef en gewerk het, groot en sterk na vore gekom! Hoe meer ek by myself oor die woorde nadink, soveel te meer tref ek Paulus daarin aan en soveel te meer waarheid! Die verskyning van dukate maak wel baie indruk, maar of dit daarom ook goed en waar is, is `n ander saak. In die wêreld van die geeste kan allerlei wonderlike dinge sekerlik tog tot stand kom. Die goeie Paulus hoef hom maar baie lewendig honderd of duisend dukate gedagtes voor te stel, en daardie geeste gedagtes laat sien, dan sal ons as geeste ook die dukate-gedagtes van Paulus kan aanskou!”

8. Die sewende sê: “Ja, maar hoe is dit dan dat ons onsself as geeste ook al geruime tyd besighou met gedagtes aan klinkende munt, maar daar in die plek van die vodde selfs nie die allermiserabelste koperpenning tevoorskyn kom nie? Daar moet dus agter die dukatemakery van Paulus iets baie anders sit as net sterk gedagtes!”

9. Die eerste sê: “Dit staan buite verdenking, maar tog bly ek daarby dat sy rede beter was as sy dukatemakery!” Die sewende sê: “Ongetwyfeld! Maar hy het in sy rede ook aangetoon wat sy dukatemakery eintlik vir ons beteken. Ons kon die laaste daarom byna op `n lyn plaas met sy rede.”

10. Paulus sê: “Julle hele geselskap bestaan uit honderd-en-twintig mense. Sewe het aan my woorde en dade gehoor gegee. Dus bly daar nog honderd en dertien oor, wat geen gehoor daaraan gegee het nie. Hoe staan dit met hulle?” Een van hulle sê: “Ons bly hier en het van jou leer en jou goud niks nodig nie!”

11. Paulus sê: Nou is die poort na die ryk van God geopen! Wie na binne wil gaan, sal ook binnekom, maar wie nou nie wil nie, sal, wanneer die groot poort van die besondere genade weer gesluit word, moeilik binnekom. Hoewel die Heer steeds onveranderlik is in Sy liefde en groot erbarming vir al Sy skepsele en kinders, is Hy tog met die gee van Sy besondere genade nie altyd dieselfde nie. Nie elkeen kry haar nie, maar slegs weiniges, wat van die begin af aan uitverkies en voorberei is om die besondere genade sonder nadeel vir hulle bestaan te kan bevat en verdra. Daar was ook nie altyd profete nie. Nie elke aardse jaar bring sy eie profeet voort nie. Volgens aardse tydrekening tree daar in `n eeu amper een profeet op, wat volgens die wil van die Heer uit Sy besondere genade opgewek is. Hulle aanskou dinge van die gees en hoor die Woord uit die mond van God en verkondig dan beide aan die swakkes en blindes op aarde, sodat ook hulle salig kan word en mag binnegaan in die genadehemele van God.

12. Luister dus, julle dowes en sien, julle blindes! Nou is daar weer so `n tydperk van besondere genade van die Heer! Bodes uit die hoogste hemele deurkruis in alle rigtings die laer en onderste sfere van die duister geesteswêreld. Ja, die Heer Self doen dieselfde om die ongelukkiges gelukkig te maak! Op aarde en op alle hemelliggame word nou spesiale profete en knegte van die Heer opgewek, wat die ander mense die lig en die Woord uit die hemele gee!

13. Helaas gee slegs weiniges gehoor daaraan, maar baie doen wat julle doen: Hulle lag die profete in hulle gesig uit en bespot of bedreig hulle selfs! Maar hierdie tyd sal spoedig weer verbygaan en die besondere genadepoort van God sal weer vir lang tye vir die kinders van die wêreld gesluit word. As julle dan in groot nood sal roep, sal julle geen antwoord kry nie, en al sal julle soek, sal julle tog niks vind nie. Nou egter, noudat die tyd van besondere genade nog voortduur, hoef julle eenvoudig maar te wil en julle sal aangeneem word. Want nou word julle geroep en word daar deur ons aan die deur van julle harte geklop. Julle hoef slegs opreg “binne” te sê en julle opname in die Godsryk is bewerkstellig! Nou doen die Heer alles wat julle wil vir julle ewige saligheid, maar na die spoedige verstryking van hierdie besondere genadetyd kan julle al die moontlike doen, maar desondanks sal julle niks bereik nie!

14. Want ek sien julle gesindheid: Julle wil nie aan die gees toebehoort en sy sagte stem uit die hemele volg nie, omdat julle na die dooie stem van julle veronderstelde vlees luister en vroue terwille wees om met hulle die res van julle lewe in ontug deur te bring! Maar die vroue wil julle bokkegedaantes nie meer aanskou nie en hulle wat julle nog sou kon vermaak, kan julle nie meer behaag nie, omdat julle geil vleesbokke slegs nog maar jong en mollige vlees begeer.

15. Wag nog maar so `n bietjie. Hierdie besondere genadetyd sal nie lank meer duur nie; dan sal julle bekla word deur vroue wat julle buitensporig sal bedien! Dan sal julle huil en weeklaag, julle sal julle wil verwyder van die vlees van die vroue, maar dan sal al julle inspanning tevergeefs wees. Die vroue sal gloeiende, van slange gemaakte kettings om julle lendene slaan, en hulle sal julle vir ewig in die poel van die verderf laat sink, waaruit geen toekomstige genadetyd julle dan meer sal kan bevry nie! Wee elke ontugtige, sowel hier in die geesteswêreld, as op aarde, wat hulle van die genade afwend en hulle oë rig op die vlees van die vroue! Sowaar as wat daar `n God leef, wie se Woord nou deur my mond tot julle kom, so seker sal dit, wat hom nou aan julle begeerte voordoen as `n hemel van genot en julle harte verlei, binnekort vir julle en al julle soortgenote tot `n hel word van die afskuwelikste soort!

16. Julle skimp op regerings van wêreldse vorste, omdat hulle weelde te veel verg en julle daardeur tekort kom, maar dit hinder julle hoofsaaklik vanweë julle onbevredigde vlees! Omdat julle finansies nie toereikend is nie en julle in `n sekere sin met die varke die peule moet eet en dit dikwels, is julle woedend vir die vorste, wat die mooiste vroue kan kry, soveel as wat hulle maar wil hê.

17. Maar julle sien nie in dat God, die Heer dit so laat gebeur nie, sodat julle mag besef dat God julle vir iets beters bestem het, as slegs vir die werke van die vlees. Solank `n man op aarde in die ware vlees van die dood leef, moet hy dit ook verstandig en in beperkte mate gebruik, nie as doel van sy bestaan nie, maar as `n suiwer, natuurlike daad, soos dit ten behoewe van die tydelike, dooie vlees is.

18. Wie dit op aarde in beperkte mate doen, doen goed daaraan; wie dit egter heeltemal agterweë laat, doen beter daaraan, want die Heer gee die vlees hierdie lus nie as `n behoefte nie, maar as `n eienskap om nugter en wys te gebruik. Wie egter `n behoefte daarvan maak, is `n ellendige sondaar. Die genade van God wyk uit sy hart, omdat hy gehoor gee aan die stomme wet van die vlees en hy daardeur `n hemel vir bokke en honde opbou volgens die wetmatigheid van dood en oordeel!

19. Wie dit kan vat, die vat dit; maar wie plesier beleef aan `n wet wat belas is met `n oordeel en die wet terwille van die wellus opvolg, het die oordeel reeds in hulleself. Wie egter die oordeel in hulle dra, is `n slaaf en is waarlik vir die vryheid in God vervloek.

20. Daarom moet julle bo die wet van die vlees staan deur die vrye mag van die selfverloëning en deur die liefde en die lewende geloof in God, die Heer, sodat julle vry kan word van elke wet en elke oordeel! `n Slaaf van die wet, hetsy natuurlik of moreel, kan nie binnegaan in die ryk van God alvorens hy nie vrygekom het van elke wet nie. In die ryk van God word niemand weliswaar volgens die wet geoordeel nie, maar die wet self is al die oordeel. Slegs wie hulle in die liefde tot God vry bo elke wet verhef, sal ook vry word in God en in alle waarheid, want die liefde in God is die enigste waarheid!

21. Nou het julle dit almal gehoor en niemand kan hulle verontskuldig omdat hy dit nie verneem het nie. Doen dus nou wat vir julle die beste lyk!”

Hoofstuk 203 Mobiele weergawe Kommentaar