Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 216 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Geldsugtige bedelmonnike by die uitgang van die grafkelder

1. Robert gaan nou vooruit. By die ingang van die grafkelder staan egter twee monnike met `n kollektebus en vra vir Robert vir `n fooi vir die arme siele in die vagevuur. Robert verontskuldig hom en sê dat hy geen geld het nie. Die monnike sê heimlik: “Ja, ja weer `n gierigaard meer in die wêreld!” Nou kom die vorste naby die uitgang aan en word eweneens aangespreek. Hulle gee die monnike ook niks, natuurlik omdat hulle niks het nie. En die monnike sê: “Ja, ja, by dié soort moet mens altyd `n offisiële versoekskrif indien en `n paar jaar later kry mens hoogstens `n afwysende, allergenadigste berig. Wel ja, dit ken ons al! Maar nou kom die vier vreemdelinge, miskien laat hulle `n paar veertjies in die bussie!”

2. Nou kom Ek, saam met Paulus, Petrus en Johannes, en ook van ons word dadelik `n bydrae gevra vir die arme siele in die vagevuur. Maar Paulus vra die monnike waar die vagevuur vir die arme siele dan wel is. Een van hulle antwoord baie plegtig: “Tweehonderd myl diep in die aarde, en nog so `n honderd myl dieper kom dan die hel met die verdoemdes, wat daar ewig brand, omdat hulle nooit iets wou doen vir die arme siele in die vagevuur nie!”

3. Daarop sê Paulus: “En daarvoor is julle seker regtig bly?” Beide die monnike sê: “O ja, verseker! Ook al kon ons hulle gehelp het, dan sou ons dit nog nie gedoen het nie, want hardvogtige slegte skepsels moet maar vir ewig brand! Ons sal nog geen onse vader vir hulle bid nie.” Paulus sê: “Julle is nie baie barmhartig nie, volgens wat ek sien! Hoe sou dit dan wees as julle in die vierhonderd myl diep hel onder die aarde sou sit? Sou julle dit lekker vind as iemand so onbarmhartig met julle sou omgegaan het? Sou julle julleself graag vir ewig sien kook en brand?” Die een sê: “Verskoon tog, weledele heer, dit is `n dom vraag. Hoe kan mens vra oor iets wat nie kan gebeur nie? `n Monnik kom nie so maklik in die hel as iemand anders nie, want hy word al beskerm deur die baie heilige misse wat hy vir die arme siele gelees het. Begryp, edele heer?”

4. Paulus sê enigsins skertsend: “Aha, dit is natuurlik iets baie anders; natuurlik, aan die heilige misse het ek gladnie gedink nie! Ja, dit sal wel vir alles en nog wat goed wees. Het julle twee al baie heilige misse gelees en meer betaalde of meer onbetaalde?”

5. Die monnike sê: “Dit is alweer `n dom vraag! Wie sou nou in Wenen `n onbetaalde mis lees? Weet die edele heer dan nie dat die ryke die hemel moet koop en dat slegs die arme drommels gratis binnegelaat word nie? Ja, my beste edele heer, die ryk suiniges moet maar betaal as hulle in die hemel wil kom. Wie die hemel op aarde het, verdien in die ander wêreld die hel. As hy die hemel daar wil hê, dan moet hy hom koop, so duur as wat maar kan. Ons priesters van God het die reg om die hemel te open of te sluit, maar dat ons hom nie vir die ryke verniet open nie, sal die edele here tog wel begryp. Die vuil suiniges moet betaal tot hulle skeel kyk, voordat hulle die hemel binnegelaat sal word. Ja, dit doen ons en ons het die reg daartoe!”

6. Paulus sê: “Wie het julle dan die reg gegee?” Die monnik sê: “Wel, dit is vir my ook weer `n mooi vraag! Wie sou dit gegee het? Die pous, as plekbekleër van Christus op aarde, en hy het die reg van God gekry! Dit behoort u tog goed te weet as u geen aartsketter is nie!”

7. Paulus sê: “Nou goed, ons begryp mekaar goed, maar sê my nog net of julle wel weet dat julle julleself nie meer op aarde nie, maar in die geesteswêreld bevind?” Die monnike sê laggend: “Dit lyk vir ons, edele heer, dat u nou begin te maal in u kop! As ons in die geesteswêreld sou gewees het, dan sou ons, óf in die hemel, óf in die vagevuur, of selfs in die hel gewees het! Maar die edele heer sien tog goed dat ons nou in `n kerk is, en daar is geen geesteswêreld nie!”

8. Paulus sê: “Ek het ingesien dat julle nog vir `n lang tyd ongeneeslik is! Daarom sal ons julle ook so laat soos wat ons julle aangetref het. Ek is weliswaar Paulus, die bekende apostel van die Heer; die twee agter my is Petrus en Johannes en tussen hulle in staan Christus, die Heer Self, wat julle wil help, maar julle is nog veels te blind daarvoor. Slegs die gat van die diepste duisternis, waar `n gehuil en tandegekners is, sal julle genees! Oor enkele honderde aardjare sal ons mekaar weer sien!”

9. Paulus gaan nou verder. Toe Ek, saam met Petrus en Johannes, by die monnike kom, vra hulle My ook vir `n aalmoes vir die arme siele in die vagevuur, maar Ek gee hulle geen antwoord nie en skenk hulle ook geen aalmoes nie en My begeleiers doen dit ewe min. Dan begin beide die monnike ons na die hel te verwens en ons eindeloos uit te skel as vuil skurke. Daarop kom alle Weners, wat ons al vooraf gewen het, daar aan, pak beide die monnike beet en wil hulle net flink afransel. Ek sê egter aan hulle: “Laat hulle staan, hulle is genoeg geslaan! Al hulle inspanning op aarde, netsoos hier in die geestesryk, is van nou af aan tevergeefs. Hulle sal langsaam verdor soos afgemaaide gras en sal tot voedsel vir die diere in die diepste duisternis dien. Laat ons nou na buite gaan! Ek sien nog enkele vrugbare tuine, waarin ons nog die oes moet binnehaal.”

Hoofstuk 216 Mobiele weergawe Kommentaar