Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 217 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Voor die Stefanus katedraal. Goeie smeekbede van die verloste vorste. Moeilike genesing van geestelike hoogmoed

1. Ons gaan nou verder en bevind ons baie gou voor die sogenaamde Stefanus katedraal.

2. Dan kom enkele vorste na My toe en sê: “Heer, dit het U behaag om ons residensiestad te besoek om die baie blinde geeste wat hulle hier nog bevind, tot lewe te wek deur U liefde, genade en erbarming en hulle te bevry uit die nag van die dood. Sal U dan nou ook nog hierdie armes gedenk, wat hier liggaamlik en geestelik onder die gebedshuis in die katakombes begrawe lê. Ons sien nou reeds duidelik in dat U vir alles wat op aarde laag geplaas was, `n ligte voorkeur het, want die vergrype van sulke mense het meestal hulle oorsprong in die gebrek aan `n doelmatige opvoeding. By die hooggeplaastes kom die sonde verseker nie voort uit `n verwaarloosde opvoeding nie, maar uitsluitlik uit hulle hoogmoed en eiebelang en is daardeur beslis ook hardnekkiger as by die eenvoudiges. Daarom is hier maar net `n dokter nodig soos U, o Heer, sodat sulke ernstige siekes gehelp mag word. Besoek daarom ook hierdie armes hier onder die katakombes, miskien sal enkeles hulle ook hier laat opwek!”

3. Ek sê: “Geliefde vriende, julle wat op aarde meestal volgens My hart geleef en gehandel het! Dit verheug My buitengewoon dat julle hierdie dooies vir julle herinner en Ek sal dadelik die begeerte van julle harte vervul. Maar dit sê Ek vooraf: In hierdie tuin sal ons `n baie maer oes binnehaal, want niks is moeiliker om uit `n siel te verwyder sonder om haar te skaad of haar heeltemal te vernietig, as die sogenaamde teologiese hoogmoed nie.

4. `n Keiser, koning of vors verbeel hom wel om die grootste te wees onder die mense, maar dit hou verband met sy stand, waaraan hy dit natuurlik ook verplig is. Heel anders lê dit egter by dié daar benede! Hulle is merendeels ou, verstokte hiërarge* uit duister tye. Hulle beskou hulle voortdurend as wesens, aan wie die Godheid Self moet gehoorsaam. Hulle word hoofsaaklik op die waansinnige idee gebring deur die dwaalleer van Rome, wat elke priester twee keer so hoog plaas as moeder Maria, en sy weer in mag twee keer hoër as Ekself en wel so, dat Ek slegs deur haar tot iets te beweeg sou wees. Daarby kom nog hulle misse, waarin hulle in `n sekere sin met My kan doen wat hulle wil en bowendien soos Pous Alexander kan uitroep: Wie kan dit waag om met my te redetwis? Die hele aarde wat ek betree, bewe onder my voetsool! En God hou ek in my regterhand!” *(hiërarg´ (-e) Hoëpriester, veral in die Griekse Kerk; aartsbiskop)

5. Daaruit kan julle maklik agterkom hoe moeilik dit is om geeste, wat hulleself nie net as gode nie, maar as jou reinste heersers oor God beskou, om hulle tot die korrekte deemoed terug te bring. Juis baie sulke siele bly daar benede. Dit sal daarom regtig moeilik wees om by hulle iets uit te rig. Miskien kan daar `n paar ietwat sagmoediger wees, maar by die ander... daar sal julle die toppunt van hardnekkigheid sien! Maar vererg mag julle julleself nie en ook nie bang word nie, want hulle sal ook tekens doen deur fiksasies van hulle fantasie. Julle moet dit alles as bedrog beskou, wat heeltemal niks beteken en geen realiteit besit nie. Noudat julle dit weet, sal ons onsself rustig na benede begewe. Laat dit so wees!”

6. Ons daal nou af in die donker katakombes en laat slegs soveel lig ontstaan as wat nodig is vir die nuwe opgeneemde vorste, sodat hulle die bewoners van hierdie onderaardse gewelwe kan sien.

7. Wanneer ons onsself almal in die sentrum van die gewelwe bevind, kom Robert met Helena na My toe en sê: “Heer, liefdevolste Vader, staan ons toe om nou baie naby U te bly, want ek moet beken dat nóg op aarde, nóg in die geesteswêreld my ooit so `n angs aangegryp het as hier in hierdie gewelwe nie! Ek sien nog niemand nie, maar hier en daar gryns ons vanuit sy doodskis `n halfvergane doodskop aan en `n hoogs onaangename geur van verrotting dring ons neusgate binne. Tog vervul `n eienaardige angs my hele wese. Dit is werklik baie eienaardig! Toe ek `n paar aardjare gelede deur vors Windischgratz tot die dood veroordeel was, het ek nie so `n angs gevoel soos nou nie. Liewe Vader, staan ons tog toe dat ons tydens hierdie ekspedisie baie naby aan U mag bly.”

8. Ek sê: “Dit is in orde, my beste seun Robert, want Ek wil tog altyd dat almal wat deur die een of ander belas word na My toe kom, sodat hy by My verkwik mag word. Bly dus maar hier, want die spektakel sal gou begin!

Hoofstuk 217 Mobiele weergawe Kommentaar