Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 2 Skriftekste

10. As iemand hom byvoorbeeld slegs deur lees sou wil ontwikkel en opwek, dan lyk die werkwyse presies soos die van iemand wat sy saad op `n ongeploegde en onbemeste akker uitstrooi. Sou die voëls dan nie gou daarop neerstryk en die saad binne `n kort tydjie grotendeels oppik nie? En sal die gedeelte wat tussen die onkruid val, nie spoedig daardeur verstik word nie, sodat daar by die oes geen enkele graankorrel in die halms te herken is nie? 

11. Maar as die saaier of leser geen resultaat van sy arbeid sien nie, sal hy dan nie mismoedig word en die akker en al die gesaaide graan wat hom geen opbrengs gee, ten slotte verwens nie?! 

12. In gewone taal: Sulke mense word dan ongelowig, val van die goeie saak af en beskou dit uiteindelik as suiwer bedrog.  

13. Maar dit is baie anders as iemand al sy gees voor dit lewend gemaak het deur die ware liefde tot My en die naaste, of beter gesê, vanuit My vry geraak het en so sy akker goed bemes en geploeg het; hy lees dan die geskrifte van My genade en erbarming, nie omdat dit hom eers tot `n goeie akker sal omvorm nie, maar hy lees dit terwille van My, omdat Ek in sy gees die verlange gewek het om My steeds meer van aangesig tot aangesig te aanskou en daardeur moontlikerwys meer en meer in liefde tot My en daardeur tot die naaste te groei. 

14. Sal hy in die geval nie elke woord van My lewend en ewig waar in homself opneem, as hy nie al vooraf lewend in homself is nie? As hy egter nie vooraf in homself lewend is nie, sal selfs die mees lewende woord dan nie in hom gedood word nie?  

15. Werp goudstukke in `n stinkende poel en die bytende swaelsuur in die poel sal die goudstukke oplos en hulle ook tot vuil modder omvorm. Gooi jy daarenteen onedele metale in egte goudtinktuur, dan sal hulle uiteindelik net so lyk soos die edele goud. 

16. Kyk, dit is ook hier die geval! Sowel deur die lees van My woord, as deur die luister daarna, kan elke mens vir homself en vir sy broeders `n onmeetlike wins behaal, as hy dit vooraf deur die nalewing van die twee gebooie in `n goudtinktuur verander het. As dit egter nog `n modderpoel is, dan sal die goudstukke wat daarin gewerp was, al was dit nog soveel, hulle sekerlik nie tot `n goudtinktuur maak nie. 

17. So staan daar immers ook geskryf: “Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; wie egter nie het nie, van hom sal ontneem word, selfs wat hy het!” (Mattheüs 13:12) Met “het” word hier bedoel: In die besit wees van `n goeie, bemeste en geploegde akker, of self `n volkome houer wees vol van die ware goudtinktuur, wat bestaan uit `n vrye, lewende gees. Met “nie het” word egter bedoel: Om saad op `n onbewerkte akker te saai, waardeur die saaier nie net geen oes kan verwag nie, maar ook die saad verloor wat hy gesaai het; of dit beteken ook: In homself `n poel met bytende swaelsuur te wees, wat nooit goudtinktuur kan word as mens goud daarin werp nie, terwyl daardie goud bowendien ook nog verlore gaan.  

18. Ek glo dat dit nou goed duidelik is! Wie nog nie die waarheid by die lig van hierdie fakkel kan insien nie, die sal moeilik ooit van sy katarak bevry word. Omdat die blinde mens, soos Ek reeds gesê het, egter nooit `n oorvloed aan lig het nie, wil Ek ook nog by die ligopbrengs van hierdie son, ten slotte die lig van alle sentraalsonne op `n punt konsentreer, omdat in so `n hewige fel lig des te duideliker sigbaar word wie in alle erns volkome blind is! - Hierna derhalwe `n meer aanvullende uitleg.

Hoofstuk 2 Mobiele weergawe Kommentaar