Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 3 Skriftekste

8. Gee `n geheel of tenminste half-wêreldse mens die Bybel in die hand en sê aan hom: “Vriend! Lees vlytig hierin en jy sal vind wat jou ontbreek: `n Verborge skat waarna jy altyd gevra het, bestaande uit goud, silwer en edelstene, die volkome lewe vir jou siel.” Na hierdie raad sal hy dadelik `n Bybel vir hom aanskaf en dit baie aandagtig lees. 

9. Maar hoe gretiger en opmerksamer hy dit sal lees, op des te meer uiterlike teenspraak sal hy stuit en sê: “Vriend, ek het die boek wat deur jou aangeraai is, nou al wel ses- of sewemaal deurgelees, maar hoe beter en oplettender ek dit lees, op des te meer teenspraak en onsin stuit ek. Wat moet ek eintlik met al die niksseggende en wat met die misterieuse profesieë maak, wat eweveel verband met mekaar blyk te hê as die Andes in Amerika met die Himalaja in Asië?  

10. Dat beide gebergtes hulle op een en dieselfde aarde bevind, is duidelik; so staan ook soortgelyke profesieë in een en dieselfde boek, dit is ook duidelik. Maar hoe sulke profesieë op `n manier wat sin maak met mekaar saamhang, of hoe die Andes, eindelik via die middelpunt van die aarde, met die Himalaja in Asië `n verband het, dit sal `n aardse natuurondersoeker moeilik kan vasstel, solank hy nog bang is vir vuur, en die baie water van die see `n te magtige lesser is vir sy geringe dors. 

11. Ek kan jou sê, beste vriend en broeder, toe ek die boek die eerste keer deurgelees het, het ek ernstig gedink dat daar tog een of ander wysheid daarin verborge lê. Maar hoe deegliker en kritieser ek dit daarna weer deurgelees het, hoe meer het ek tot die oortuiging gekom dat die hele boek niks anders is as `n ryk gevulde skatkamer met die grootste niksseggende idees. Afgesien van enkele praktiese ou wyshede, volg die een onsinnigheid op die ander en afgesien van enkele skaars diepsinnige spreuke, wat ook al nie bepaald van die allersuiwerste goud is nie, is die boek vanweë sy misterieuse inhoud baie geskik om die domheid van die mense nog eeue lank in stand te hou. 

Hoofstuk 3 Mobiele weergawe Kommentaar