Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 7 Skriftekste

8. Wat is die geloof met betrekking tot die liefde? Dit is die handlanger daarvan. So was ook Josef van Arimatea die handlanger van Nikodemus, wat die Heer in die geheim liefgehad het.  

9. Wat het die geloof van Pilatus verlang? Hy het die liggaam van die Heer verlang. Toe hy Hom van die kruis geneem het, het hy Hom in wit linne gewikkel, nadat hy dit met kosbare speserye gesalf het en het Hom daarna in sy eie tuin gelê in `n pas uitgekapte rotsgraf waarin niemand nog ooit gelê het nie.  

10. Wat beteken dit alles? Dit alles staan vir die weetgierigheid van die geloof wat bevredig wil word. Hierdie op sigself edele weetgierigheid soek al die denkbare op om dan `n lewendige bevrediging daarin te vind.  

11. Sy het na Pilatus gegaan en toestemming gevra; dit wil sê: Die weetgierigheid gaan na die wêreld en probeer daar soveel moontlik te vind, wat haar tot bevestiging van die waarheid kan dien. 

12. As hulle van die wêreld alles ontvang het waarna hulle gesoek het, dan wend hulle hulleself tot die Gekruisigde. Maar hoe? Hulle probeer daar alle woorde en verklarings in `n helder lig te plaas, om hulle te bevry van die geheimsinnige skynbare teensprake wat in die Heilige Skrif voorkom. 

13. Hulle slaag ook: Hulle het die liggaam bevry van die kruis wat deur sy vorm ook `n teenspraak uitbeeld. Maar wat het hy, hierdie edele weetgierigheid, nou verkry? Kyk, `n dooie liggaam waarin nou geen lewe meer is nie! 

14. Hierdie edele weetgierigheid sien dit ook goed in, maar tog is sy innerlik verheug oor hierdie geslaagde bevryding van die kruis. Sy balsem die lyk met kosbare speserye, wikkel dit in wit linne en plaas dit dan in `n nuwe graf waarin niemand nog ooit gelê het nie.  

15. Wat wil dit sê? Deur so `n groot nadruk op die woord van die Heilige Skrif word die goddelikheid daarvan ongetwyfeld sigbaar en word ook as sodanig geag en vereer. Dit is die balseming. Want dikwels spreek mens in verhewe terme oor die waaragtigheid en die goddelike grootsheid van die Heilige Skrif; maar dit is die balseming van die dooie liggaam. 

16. Die mens met hierdie edele weetgierigheid, omklee die so verkreë waarheid met die hoogste en suiwerste agting; - ja hy huiwer van die groot wysheid in die boek; en dit is niks anders nie as die in wit linne wikkel van Jesus se liggaam. So onskuldig en suiwer as wat sulke linne op sigself is, so is dit ook met `n ooreenkomstig deemoedige insig; maar die dooie liggaam, die balsem en ook die linne is nie lewend nie en gee ook geen lewe nie. 

17. Mens sal die liggaam nou egter in `n nuwe graf lê. Wat is dit? Die kennis, wat die mens hom met sy edele weetgierigheid eie gemaak het, verskaf hom geen lewe, geen lewendige oortuiging nie; daarom neem hy alles bymekaar en plaas dit in die graf van sy diepere verstand, plaas daar `n steen oorheen, wat wil sê, dat hy so sy vertwyfelinge het oor al hierdie suiwer begrepe waarhede; want hy sê: “Al hierdie oplossings van die verborge geheime uit die Heilige Skrif klink wel baie mooi, maar hulle is tog nog nie baie oortuigend nie.” 

18. En kyk, dit is nou letterlik die toestand waarin iemand wat baie lees homself bevind! Hy mag alles wat hy gelees het, vanaf die natuurlike tot die innerlike geestelike betekenis nog so goed begryp; maar as hy van al die gelesene een werklik wil bewys, dan merk hy, dat selfs geen sonstoffie hom voor sy wil buig nie. En as hy die lewe van die gees wil ervaar, dan kom hy, in plaas daarvan, steeds weer uit in die donker graf waarin hy die liggaam neergelê het; met ander woorde, hy kry oor die hiernamaals geen aanskoulike sekerheid nie, alles is vir hom net `n veronderstelling, meer nog, `n liggaam in die graf.  

19. Maar hoe was hy daarmee geholpe? Al het hy nog soveel gelees, maar kon daardeur nie tot `n lewendige oortuiging kom nie, lyk hy soos Josef van Arimatea wat wel `n liggaam van die kruis neem, dit balsem en in wit linne toedraai, maar die liggaam bly `n dooie liggaam en word na `n graf gedra.   

20. Laat ons egter daarnaas weer na ons Magdalena kyk! Sy het weliswaar ook die gebeure bygewoon; maar sy het die liggaam, of die woord, nie in linne toegedraai nie en het dit nie in die graf geplaas nie, maar in haar hart wat van liefde gegloei het; en toe sy vervolgens by die graf gekom het, was die steen van die twyfel, deur die mag van die liefde, weggewentel. Die linnedoeke het ordelik bymekaar gelê in die graf, wat soveel wil sê as: Haar liefde het die goddelike woord in haar lewendig georden. Sy het geen dooie liggaam meer gevind nie, maar in die plek daarvan het sy die Lewende gevind, wat uit die graf opgestaan het.   

21. Wat is nou beter; om die dooie liggaam in die graf te lê of om die Lewende bo die graf te vind? Ek dink dat die tweede duidelik beter is as die eerste. 

22. Maar waarom vind Magdalena wel wat Josef van Arimatea nie gevind het nie? Omdat sy weinig gelees, maar baie liefgehad het. Josef van Arimatea het egter baie gelees, netsoos Nikodemus, maar minder liefgehad. Daarom bekommer hy hom ook oor die dooie liggaam, maar Maria Magdalena oor die Lewende! 

23. Ek dink dat dit ook duidelik is; die volgende keer weer `n nuwe sentraalson!

Hoofstuk 7 Mobiele weergawe Kommentaar